Van die krip tot die kruis: Deel 1

Dokumentasie Geplaas op Dinsdag, 18 Oktober 2022

Van die krip tot die kruis: Deel 1

Die lewe is nie net Somer nie

Geplaas op Dinsdag, 18 Oktober 2022

6En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; 7en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. – Lukas 2:6-7

Ons lees hier die “openings toneel” van by verre dié belangrikste gebeurlikheid in mense geskiedenis. Hier, in ‘n nederige krip in 'n stal, lê die “Hoofkarakter” toegedraai in doeke, 'n toonbeeld van eenvoud. Wyse manne bring eer aan Hom en die wêreld staan momenteel in verwondering oor hierdie belangrike gebeurtenis. Min het dié hier teenwoordig geweet dat daardie sagte lig in die stal eendag verruil gaan word vir die ongenaakbare en uitmergelende son op Golgota.

Jesus het hierdie lang en kronkelende pad tussen die Krip en die Kruis gestap. Hy is tydens hierdie tog versoek, verneder, verafsku, ontken, verloën en verraai. Hy word uiteindelik daar op Golgota aan ‘n Kruis vasgeslaan – vermink, vermorsel en van alle waardigheid en menswees gestroop – en dan die uitroep: TETELESTAI!

Hierdie is ook ons reis – ons bevind onsself ook iewers op hierdie pad tussen Betlehem en Golgota. Ons lewe ook daagliks iewers tussen die Krip en die Kruis, ja, op ons eie lydensweg:

  • Kriplangs lag en hoop ons, vertrou en glo ons.
  • Kruislangs is ons somber, verslae, sinies, en verslaan.

So stap ons elkeen op hierdie maalkolk lewe van sonde en verlokking en verderf – iewers tussen die Krip en die Kruis. Dan wonder ons gereeld:

  • Is dit nie maar net die verloop van die lewe nie?
  • Is die lewe dan net soet en mooi en goed?
  • Is die lewe dan nie om elke emosie tussen die Krip en die Kruis ten volle te beleef en begryp nie?

Soms wonder ons of ons die somber seisoene in die lewe moet leer ken om sodoende die ander seisoene van die lewe te kan verstaan. Soms, net soms, wonder ons of die Prediker skrywer tereg gesê het: “Alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (Prediker 1:2) Of is die lewe dan maar net lente of somer?

Soms soek ons sneeu in die somer, of soms smag ons na groen velde in die winter sneeu.

Dit is dan wat ons tot die besef kom dat ons so dikwels totaal en al uit pas lewe met die seisoen waarin ons is. En dan, eensklaps, in 'n oogwink, kom ons dalk tot die besef: Ons moet God in elke seisoen beleef! Ons kan nie net die Kind in die Krip wil ken nie; nee, ons moet ook die Man aan die Kruis ken. Ons geestelike reis om by die Kruis uit te kom het ‘n natuurlike vloei waarvan ons toenemend bewus word namate ons al dieper in hierdie “misterie” van God inbeweeg.

Soms neem hierdie reis ons verby die Krip, en ander kere weer laat dit ons verslae en oorweldig by Golgota. En dan kom die besef: Die lewe is nie net somer nie!

More stel ons Deel 2 van die skrywe beskikbaar.

Groetnis

Gerhardt


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy