Van die krip tot die kruis: Deel 2

Wat gaan jý daaromtrent doen?
Goeiemore liewe Jesus vriende, ons gaan voort met hierdie bespreking.
Elkeen van ons is inderdaad iewers op reis tussen ons Betlehem en Golgota; iewers tussen ons Krip en die Kruis... elkeen op sy eie Lydensweg.
Wanneer ons kyk na Golgota op daardie dag, sien ons drie kruise – in die middel die kruis van Jesus, en weerskante die kruise met die twee misdadigers. Ek sien dat dit inderdaad ons is wat aan daardie twee kruise hang, vol van ons vleeslikheid, en ons sondes, en die eie ek, en ons ongeregtighede. Net soos met daardie twee misdadigers wat die dood verdien het, kom ons ook uiteindelik by ons Golgota uit.
Vir sommiges eindig die reis daar in sak en as, ja, vir die wat nie die Here Jesus wil aanvaar as hulle Saligmaker nie, net soos daardie misdadiger daardie dag. So baie mense weier God se genade. Hulle verkies eerder om te lewe sonder God op hulle pad na die ewige hel.
En dan is daar die ander misdadiger, die een wat Jesus aanneem as sy Verlosser en volkome vergifnis ontvang. Dit is ons wat ook by ons Golgota aangekom het, en diepe berou gehad het.
En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. – Lukas 23:42-43
Dit is ons wat besef dat daardie laaste asem van Jesus nie die einde was nie, maar ‘n nuwe begin. Anders as wat satan en sy kinders verwag het, was daar anderkant hierdie kruis 'n graf wat nou leegstaan. Daardie laaste asem was in werklikheid opgevolg deur ‘n nuwe asemteug vir ons tot redding.
Op hierdie reis ontmoet ons daagliks ander manne en vroue en ons hoor ook hulle verhale – sommiges nog hoopvol langs die Krip in Betlehem; en dan hoor ons ook van die wat hooploos en verslae rondlê op Golgota. Ons verhaal is baie fyn inmekaar gevleg met dié van ander op hierdie pelgrimsreis.
Hier is ‘n boodskap van hoop vir elke reisgenoot: Dit maak nie saak waar jy jou tans op hierdie reis bevind nie; daar is ‘n leë graf aan die einde van hierdie reis, en God is teenwoordig in elke faset van jou reis tussen Betlehem en Golgota. Omdat Jesus leef, sien ons kans vir more! Omdat Jesus leef, lewe ons ook in die oorwinning van die kruis...
En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het. – Markus 16:6
Ek sluit af: Glo jy aan die Kruis van Jesus Christus? Daardie Kruis is bloedbevlek... dit is gevul met pyn!
Daardie Kruis is ook liefde, vergifnis – maar dit stel ook ‘n vereiste aan my en jou! Wat is daardie vereiste? Dit stel die vereiste dat ons dit sal bely aan hierdie donker en verlore wêreld.
En as jy glo... wat gaan jý daaromtrent doen?
Bekeer! Bely! Glo! Vertrou!
Groetnis
Gerhardt