Van phileo na agape

Ons kan nie net ‘n ligtelike besluit neem om Jesus Christus te volg nie
Reg aan die einde van die Johannes evangelie vind ‘n interessante gesprek plaas. Jesus het uit die dood opgestaan, en maak gereed vir sy Hemelvaart. Daar is egter nog ‘n paar goed om uit te sorteer. Een daarvan is hoe die boodskap van wedergeboorte en redding sou voortgaan nadat Hy weg is. Petrus was die een wie hierdie boodskap verder sou moes neem. Kom ons lees wat gebeur het:
15Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. 16Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. 17Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei. – Johannes 21:15-17
Jesus het sy laaste persoonlike interaksie. Hy moet seker maak dat Petrus se ingesteldheid reg is om die boodskap vorentoe te dra. Hy vra hom dieselfde vraag, drie keer:
- Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?
- Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?
- Simon, seun van Jona, het jy My lief?
Petrus antwoord as volg op hierdie vrae:
- Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.
- Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.
- Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.
Petrus word onkant gevang met die drie vrae, en uiteindelik word hy emosioneel daaroor. Wat ons egter nie uit die teks aflei nie, is die oorspronklike Griekse woorde wat gebruik is om “lief” te vertaal.
Met die eerste vraag vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet. Jesus gebruik die woord agapas (ἀγαπᾷς) terwyl Petrus antwoord met philo (φιλῶ). Kom ons kyk wat die verskil is.
- Agapas, soos wat Jesus dit hier gebruik, is ook die woord wat in Johannes 3:16 gebruik word, en beteken onvoorwaardelike, intense, en opofferende liefde.
- Philo, Petrus se antwoord, beteken om om te gee, dalk met passie, maar nie werklik onvoorwaardelike liefde nie. Dit is broederliefde – daardie liefde wat jy vir ‘n ander persoon in Jesus Christus het. Dalk word jou sterk band met hierdie persoon beëindig as die persoon verhuis, of dalk as gevolg van ‘n meningsverskil. Dan was dit eintlik maar net ‘n platoniese vriendskap, sonder werklike blywende waarde.
Sien jy die verskil? Jesus vereis intense, onvoorwaardelike, en opofferende liefde, terwyl Petrus nog nie reg hiervoor is nie. Petrus is nog nie op die punt om ‘n onvoorwaardelike oorgawe te maak nie. Hy sal naby Hom wees, maar nog nie so naby dat hy homself heeltemal in Jesus verloor nie.
Jesus se derde vraag laat Petrus se hart heeltemal broos, en hy word bedroef. Dalk is daar trane. Elke vraag versterk egter die band tussen Heer en dissipel.
Baie van ons is so. Ons sê dat ons Hom liefhet, maar nie op die vlak wat Hy vereis nie. Die onvoorwaardelike oorgawe is nog nie daar nie. Ons liefde is meesal gebaseer op wat daar vir ons in is, eerder as wat daar vir Hom in is.
Wat gaan ons doen om wel hierdie onvoorwaardelike liefde te kry en uit te leef? Onthou dat Jesus vroeër vir die dissipels gesê het dat hy hulle nie alleen sal agterlaat nie:
15As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. – Johannes 14:15-16
Kyk wat gebeur in Handelinge 2, nadat die Heilige Gees uitgestort is. Dieselfde Petrus wie vroeër net ‘n oppervlakkige onderneming gemaak het, is nou die een wie opstaan en sonder enige vrees verduidelik dat die Heilige Gees gekom het om gewone mense te vul met die krag (dunamis) om vreesloos te getuig. Van hier af word Petrus die een wie die eerste eeuse kerk lei, en uiteindelik die prys betaal vir sy intense, onvoorwaardelike, en opofferende liefde. Philo het nou agape geword.
Opsomming
Ons kan nie halfpad inklim nie. Om Jesus werklik te volg, verg liefde wat dalk ver strek bo dit wat ek en jy tot dusver gegee het. Dit is tyd om introspeksie te doen, onsself te evalueer en te kyk waar ons staan.