Die sewe verborgenhede wat aan Paulus geopenbaar is

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 4 November 2024

Die sewe verborgenhede wat aan Paulus geopenbaar is

Die sewe verborgenhede wat aan Paulus geopenbaar is

Die grootste gedeelte van die Nuwe Testament handel oor die lewe van die apostel Paulus. Ons lees vir die eerste keer oor hom in Handelinge 7:58; 8:1-3; en 22:20, tydens die steniging van Stéfanus. Op hierdie stadium word hy as Saulus geïdentifiseer (sy Joodse naam) terwyl hy later as Paulus bekend sou staan (sy Latynse naam). Die verandering van die naam het niks met sy bekering te doen nie maar veel eerder omdat hy deur die lengte en breedte van die Romeinse Ryk sou reis om die evangelie aan die heidene te verkondig. Die gebruik van sy Romeinse naam sou vir hom meer geleenthede bied. Vanaf Handelinge 13 gaan die meerderheid van Handelinge oor Paulus en sy bediening onder die heidene en die meeste van die Nuwe Testament se boeke en briewe is deur Paulus geskryf.

Ons kan dikwels krities vra waar Paulus sy kennis vandaan gekry het. Ons kan ook die oningeligte roete volg en eenvoudig nie omgee waar hy sy kennis gekry het nie. Kom ons vat die geskiedenis vinnig saam. Ons lees in Handelinge 9 van Saulus se bekering. Lees tot by vers 19. “Saulus was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus.” Gaan nou aan met vers 20: “En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat hy die Seun van God is.” Onthou dat hierdie Lukas se vertelling van die gebeure is maar hy het nie al die besonderhede gehad nie. Gaan nou aan met vers 25 en 26. Dit wil voorkom asof die gebeure direk op mekaar volg, maar ‘n lang periode het tussen vers 25 en 26 verloop. Ons lees hiervan in sy brief aan die Galásiërs 1. Die volgende aspekte staan duidelik uit:

  1. Die evangelie wat deur hom verkondig is, is nie die van mense nie (vers 11);
  2. Hy het dit deur ‘n openbaring van Jesus Christus ontvang (vers 12);
  3. Na sy bekering het hy dadelik nie vlees en bloed (mense) geraadpleeg nie (vers 16);
  4. Hy het nie onmiddellik diegene opgesoek wie voor hom apostels was nie (vers 17);
  5. Hy het eers na Arabië vertrek en na Damaskus teruggekeer (vers 17);
  6. Hy het eers drie jaar later na Jerusalem gegaan (vers 18 en Handelinge 9:26);
  7. Daar het hy aanvanklik net vir Petrus en Jakobus ontmoet (vers 18-19).

Punt twee hierbo is belangrik om te onthou: Paulus het sy kennis deur direkte openbaringe van Jesus Christus ontvang. Ons lees in die res van die Nuwe Testament dat hy hierdie openbaringe as verborgenhede (1953 vertaling) of geheimenisse (1983 vertaling) beskryf. Die Griekse woord is μυστήριον (mustḗrion). ‘n Verborgenheid (soms “misterie”) kan beskryf word as ‘n waarheid wat deur God geheim gehou is totdat dit aan iemand geopenbaar is om op sy beurt dit weer aan andere mee te deel. Dit is deel van God se progressiewe openbaring aan die mensdom.

Paulus dus noem dat hy inligting deur ‘n openbaring direk van Jesus Christus ontvang het (Galasiërs 1:12). Dit is waarna die boek Openbaring verwys alhoewel hierdie inligting aan Johannes geopenbaar is en nie aan Paulus nie. Let daarop dat die naam van die laaste boek nie “Die Openbaring van Johannes” (1953 vertaling) moet wees nie, maar eerder “Die Openbaring [van Jesus Christus] aan Johannes”. Paulus verduidelik verder hoe hy hierdie waarhede bekom het, en verkondig:

6Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ’n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. 7Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid [verborge waarheid, 1983 vertaling] wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid. – 1 Korinthiërs 2:6-7

Hierdie wysheid van God was bedek, maar is daargestel vir ons heerlikheid. Hy verduidelik in Efesiërs 3:2 en 3:8 dat God hierdie verborgenhede aan hom bekend gemaak het.

Die woord “verborgenheid” word 23 keer in die Nuwe Testament gebruik. Jesus gebruik dit een keer, in Markus 4:11. In die ander gevalle is die woord elke keer deur Paulus gebruik om sewe verborgenhede te beskryf. Sewe is tekenend van God se perfeksie en dit word dikwels in die Woord aangetref. Ek gee die sewe verborgenhede in die volgorde van Paulus se skrywes aan gemeentes en indiwidue, saam met verdere verwysings in dieselfde konteks of aan ander gemeentes en indiwidue.

Eerste verborgenheid: Romeine: Die toekoms van Israel

Sien Romeine 11:25-27 en 16:25:

25Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; – Romeine 11:25

Paulus stel dit duidelik dat hy hierdie verborgenheid (geheimenis, 1983 vertaling) aan die heidene moet verduidelik, dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die Kerkperiode voltooi is (“volheid van die heidene”). Daarna sal die hele Israel gered word. Let daarop dat Paulus dit duidelik stel dat God nie klaar is met Israel nie. Die Kerk is nie die plaasvervanger vir Israel nie, soos wat so dikwels valslik in ons kerke verkondig word (Eng. “replacement theology”). Ons kan dus nie sommer net God se beloftes vir Israel op die Kerk van toepassing maak nie.

‘n Goeie voorbeeld is Jeremia 29:11. Ons weet dat God wel vir ons as Kerk ook vrede en ‘n hoopvolle toekoms wil gee, maar ons het dit alreeds in Jesus Christus: vrede soos gevind in Romeine 5:1 en hoop soos dit in Hebreërs 6:18 staan. Lees egter die gedeelte net voor Jeremia 29:1 en jy sal sien dat dit eintlik gaan oor Israel se ballingskap in Babel. Tensy jy sonder twyfel kan sê dat jy tans ‘n Israeliet in ballingskap in Babel is, kan jy nie God se beloftes van daardie teks op jouself van toepassing maak nie.

Paulus se openbaring van die verborgenheid het ten doel om die Kerk te vermaan om nie hulleself te verlustig in Israel se toestand nie. Dit is wel waar dat God hulle tydelik ter syde gestel het ten einde eers die heidene die geleentheid te gee om tot redding the kom, maar wanneer dit verby is sal God weer met sy volk deel gedurende die verdrukking wanneer die Kerk nie meer op die toneel is nie.

Paulus sluit sy skrywe aan die gemeente in Rome af deur te noem dat God die gemeente kan versterk deur sy evangelie en sy prediking oor Jesus Christus, wat ooreenkom met die verborgenheid wat God aan hom bekend gemaak het:

25Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, 26maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof — 27aan die alleenwyse God, aan Hom die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen. – Romeine 16:25-27

Tweede verborgenheid: 1 Korinthiërs: Die verandering van die samestelling van die mens by die Koms van Jesus Christus

Bestudeer 1 Korinthiërs 15, met die fokus op vers 51 tot 54:

51Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, – 1 Korinthiërs 15:51

Paulus stel dit duidelik dat hy sy lesers ‘n verborgenheid (geheimenis, 1983 vertaling) meedeel:

  1. Ons gaan nie almal fisies sterf (ontslaap) nie (vers 51);
  2. Ons liggame sal almal verander word (vers 51);
  3. Dit gebeur vinnig (in ‘n oomblik) (vers 52);
  4. Wanneer ‘n basuin weerklink (vers 52);
  5. Dié wie op daardie stadium alreeds gesterf het, word opgewek (vers 52);
  6. Ons wie dan nog lewe word verander (vers 52);
  7. Die huidige verganklike liggaam verander en word onsterflik (vers 53); en
  8. Hierdie gebeurtenis oorwin die dood (Jes 25:8) (vers 54).

Paulus deel dieselfde gedagte met die gemeente in Filippi. Sien Filippense 3:20-21. Aan die gemeente in Thessalonika verduidelik Paulus die wegraping van die Kerk, soos aan die gemeente in Korinthe. Sien 1 Thessalonicense 4:13-18. Paulus skryf aan Titus dat hierdie ons salige hoop is. Sien Titus 2:13. Skeptici weier om in te sien dat die mens liggaamlik so kan verander dat dit onverganklik is en toestande buite die huidige wêreld sal kan hanteer. Ons lees dat vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie (1 Korinthiërs 15:50). Dus moet dit wat in vers 51 volg, eers gebeur. As jy nie glo in dit wat gaan gebeur nie, verwerp jy God se belofte vir jou toekoms (Johannes 14:3).

Derde verborgenheid: Efesiërs: Ons is in Jesus Christus

Sien Efesiërs 1:9 en 3:1ev:

7In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, 8wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, 9deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, – Efesiërs 1:7-9

God maak aan ons sy verborgenheid bekend deur Paulus, naamlik dat ons in Jesus Christus is. Sien vers 11 (“... in Hom in wie ons ook...”) en vers 13 (“...in wie julle ook... in wie julle, nadat julle dit geglo het, verseël is...”). Sien ook spesifiek Efesiërs 1:3; 4; 7; 11; en 13. Lees Efesiërs 5:30. Paulus beskryf ons verhouding met Jesus as een wat onlosmaaklik is: Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Ons sien dieselfde gedagte in Romeine 12:5 en 2 Korinthiërs 5:17. Die sanger Michael Card vat hierdie gedagte mooi saam:

Flesh of his flesh

We are flesh of his flesh, bone of his bone (1 Korinthiërs 6:15; Efe 5:30)
His spirit has brought us together as one (1 Korinthiërs 6:17)
Though we may be separate, we're one perfect whole (Efesiërs 4:13)
For we are his body and He is our soul (1 Korinthiërs 12:27)

We are the blessed receivers (Efesiërs 1:3-14) of his inexhaustible love (Johannes 15:13)
And so it is out of believers the body of Christ is made of (1 Korinthiërs 12:27)

We are flesh of His flesh, bone of his bone
His spirit has brought us together as one
Though we may be separate, we're one perfect whole
For we are his body and He is our soul

Forever, we'll have one another because we belong to the Lord
And so we belong to each other and that is our greatest reward

We are flesh of his flesh, bone of his bone
His spirit has brought us together as one
Though we may be separate, we're one perfect whole
For we are his body and He is our soul

Michael Card, 1988 [ Besoek www.michaelcard.com. ]

Sien Efesiërs 5:32. Die belangrikste verborgenheid wat Paulus aan die gemeente in Éfese meedeel is die feit dat die Kerk, as ‘n verhouding tussen Jesus Christus en die mense wie die Kerk opmaak, dieselfde is as ‘n huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou. Hoe hanteer jy jou huweliksmaat? Jy gaan waarskynlik Jesus op dieselfde manier hanteer.

Vierde verborgenheid: Efesiërs: Die verborgenheid van die Kerk

Bestudeer Efesiërs 3:1-10:

1Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is — 2as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle, 3dat Hy aan my deur ’n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; 4waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, – Efesiërs 3:1-4

Paulus verduidelik dat dit wat hy hier skryf, deur ‘n openbaring aan hom gegee is (vers 3). Dit is dat die Kerk in ander tye (vers 5) nie aan die mens bekend gemaak is soos dit nou geopenbaar is nie. Die heidene word mede-erfgename en is medelede van die liggaam (die Kerk) waar van hy ‘n dienaar is. Voor die stigting van die Kerk het God net met Israel gedeel. Nou deel Hy met ‘n diverse groep mense. Hy beskryf dit in Galasiërs 3:28 as volg: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Jesus Christus.” Ons word alleen gered deur genade, geloof, en Jesus Christus. Sien Efesiërs 2:8-9.

Vyfde verborgenheid: Kolossense: Christus is in ons

Bestudeer Kolossense 1:24-27:

24Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; 25waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, 26naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, 27aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. – Kolossense 1:24-27

Dit wat vir baie eeue verborge was, is nou openbaar. Christus is onder ons (vers 27, 1953 vertaling). Ander vertalings stel dit as in ons. Sien ook Romeine 8:10; 2 Korinthiërs 4:6-7; 2 Korinthiërs 13:5; Galasiërs 1:15-16; 2:20; en 4:19; Efesiërs 3:17; Kolossense 1:27; en 2 Thessalonicense 1:10.

Sesde verborgenheid: 2 Thessalonicense: Die ongeregtigheid wat kom

7Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is. – 2 Thessalonicense 2:7

In 2 Thessalonicense 2:7 stel Paulus dit duidelik dat die geheim wat nou geopenbaar word (verborgenheid) is dat die ongeregtigheid alreeds aan die werk is totdat hy (die kerk) wat nou teëhou (die werking van die Heilige Gees wat die openbaarmaking van die Antichris keer) uit die weg geruim is (uit hierdie bestel weggeneem is). Dan eers sal die ongeregtige geopenbaar word. Baie denominasies wil vandag glad nie meer enige iets oor doktrine leer nie (2 Timótheüs 4:3), en dus ignoreer hulle die doktrine van die wegraping deur nooit na Johannes 14:2-3; 1 Korinthiërs 15:51-58; 1 Thessalonicense 4:13-18; of 2 Thessalonicense 2:1-12 te verwys nie.

Weereens sal diegene wie nie in die doktrine van Eskatologie glo nie, bogenoemde gedeelte in 2 Thessalonicense ignoreer. God gee om vir die mensdom en waarsku ons vroegtydig dat hierdie persoon op die toneel gaan verskyn, maar dat die Kerk nie daarvan deel gaan wees nie. Ek kan nie verstaan hoe mense wie reken Jesus hulle liefhet of hulle Hom liefhet, nie wil aanvaar dat Hy ons uit die bestel van die Antichris gaan red nie.

Sewende verborgenheid: 1 Timótheüs: Die godsaligheid is in die vlees geopenbaar

16En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid. – 1 Timótheüs 3:16

Die verborgenheid van die godsaligheid is groot en is dat God geopenbaar is deur die vlees (Jesus Christus) en geregverdig is in die Gees (ons word deur ons geloof geregverdig). Sien ook Romeine 3:20. Hierdie godsaligheid is deur die hele wêreld onder die heidene verkondig, en ons is met heerlikheid vervul. Direk hierna skryf Paulus dat die Heilige Gees self sê dat sommige van die geloof afvallig sal word. Vir wie het die Heilige Gees dit gesê? Aan niemand anders nie as aan Paulus.

Opsomming

Paulus was die spreekbuis waardeur God inligting wat vir vorige geslagte verborge was (Romeine 16:25), nou aan hom geopenbaar het om op te teken in briewe en aan die verskillende gemeentes te stuur sodat God se volle openbaring van sy wil vir die mens permanent opgeteken is. Enige aksies van leraars om hierdie verborgenhede nie vir hulle gemeentes te wil leer nie, kom daarop neer dat hulle van mening is dat hulle beter as God weet. Daar is geen verdere openbaringe van mense nie. Ek vra jou om moeite te doen en oor hierdie verborgenhede te gaan oplees. Daar is voldoende inligting beskikbaar. Wees verwonderd oor God se openbaring aan die mens en dat jy deel hiervan is.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy