Die vervolging van Christen gelowiges

Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 7 Mei 2022

Die vervolging van Christen gelowiges

Terminologie

Vervolging (snw)

Soos wat dit in die woordeboek beskryf word, is “vervolging”, ‘n aksie waartydens individue of groepe, onredelike behandeling en optrede moet verduur, op grond van dit waarin hulle glo, en met die bedoeling om hulle te dwing om afstand te doen van dit waarvoor hulle staan en waarin hulle glo.

Wat is 'n Christen?

Voordat ons kan aangaan is dit noodsaaklik om na die terme “Christen” en “Christen gelowige”, te kyk. Daar is 'n wesenlike verskil in betekenis tussen die terme.

  • Christen in die Nuwe Testament, was ‘n term wat vir die eerste keer in Handelinge gebruik is.
26En het hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem. – Handelinge 11:26

Hierdie term is vir die eerste keer in die eerste eeu gebruik, om te verwys na groepe gelowiges wie meestal in hulle huise vergader het.

  • Christen is vandag ‘n woord wat afgewater is in betekenis en bloot verwys na ‘n groepering van mense op grond van religieuse assosiasie. Ons hoor dikwels die terme Christen, Jood, Boeddhis, Moslem, Ateïs, en so meer. Ongelukkig sal baie mense, wanneer hulle gevra word om op ‘n vorm hulle geloof aan te dui, die blokkie “Christen” afmerk, bloot omdat hulle te skaam is om aan te dui “Ateïs”. Hulle het egter geen werklike affiliasie met Christenskap nie. Nie alle “Christene” is dus gelowiges in Jesus Christus nie.
  • Christen gelowige is die term wat gebruik word vir diegene wie hulle lewens onvoorwaardelik aan Jesus Christus oorgegee het, en Hom navolg in alles wat hulle doen. Soms word die frase “Christen gelowige" gebruik, en ander kere net die woord "gelowige”. Beide woorde beteken dieselfde. Dit is dieselfde betekenis as wat in Handelinge 11:26, gegee is.

Oor die laaste paar jaar het die wêreld sy rug op Christenskap gedraai, sodat selfs daardie “Christene” in die tweede groep, nie eers hiermee saamgaan nie.

Voorbeelde van vervolging in die boek Handelinge

Die Bybel is deurspek met voorbeelde van mense wie vervolg is, veral nadat die Christen beweging ontstaan het. Indien ons die boek Handelinge as vertrekpunt neem, in chronologiese volgorde van gebeure, sien ons die volgende:

  1. Handelinge 2:13 – bespotting – diegene wat met die Heilige Gees gedoop is, en in ander wêreldtale begin praat het, is bespot en daarvan beskuldig dat hulle reeds vroeg in die dag dronk was. Vervolging begin dikwels met verbale en openbare bespotting.
  2. Handelinge 4:1 – Petrus en sy volgelinge is deur die mense mishandel en in die tronk gegooi, omdat hulle gepreek het oor Jesus se opstanding uit die dood.
  3. Handelinge 4:17 – Petrus en sy volgelinge is gedreig.
  4. Handelinge 4:21 – meer dreigemente volg.
  5. Handelinge 5:17 – die dissipels is mishandel en in die tronk gesit.
  6. Handelinge 5:33 – die godsdienstige leiers wou die dissipels doodmaak.
  7. Handelinge 5:40 – die dissipels is geslaan en gedreig.
  8. Handelinge 6:11 – valse beskuldigings is teen Stéfanus in gebring.
  9. Handelinge 6:12 – fisiese mishandeling van Stéfanus.
  10. Handelinge 6:13 – valse beskuldigings word teen Stéfanus gebruik.
  11. Handelinge 7:58 – Stéfanus word mishandel en gestenig, vers 60.
  12. Handelinge 8:1 – vervolging begin teen die gelowiges in Jerusalem. Hulle vlug vir hul lewens-in die moderne tyd, sou ons sê dat hulle "verplaas" is, en nou vlugtelinge is.
  13. Handelinge 8:3 – Saulus, later genoem Paulus, mishandel en vervolg die gelowiges.
  14. Handelinge 9:1 – Saulus is op 'n sending om gelowiges te dreig en dood te laat maak.
  15. Handelinge 9:2 – Saulus laat die gelowiges arresteer. Dit sou die laaste keer wees dat hy dit kon doen!
  16. Handelinge 9:14 – Ananias bevestig dat Saulus gemagtig was om gelowiges in hegtenis te neem.
  17. Handelinge 9:23 – die Jode beplan om Paulus dood te maak. Die dissipels help hom om te ontsnap.
  18. Handelinge 11:19 – die ontwortelde gelowiges (sien Handelinge 8:1) versprei, maar verkondig aanvanklik nie die evangelie nie.
  19. Handelinge 12:1 – Herodus mishandel die gelowiges.
  20. Handelinge 12:2 – Herodus laat Jakobus, die broer van Johannes, dood maak.
  21. Handelinge 12:3 – Herodus laat Petrus arresteer en gooi hom in die tronk, vers 4.
  22. Handelinge 12:6 – ten spyte daarvan dat Petrus in die tronk is, en daar geen manier is om te ontsnap, word hy steeds vasgeketting.
  23. Handelinge 13:8 – die towenaar, Elimas, bevraagteken Paulus se onderrig.
  24. Handelinge 13:45 – die Jode versprei leuens om Paulus se lering teë te staan.
  25. Handelinge 13:50 – die Jode en ander invloedryke mense vervolg Paulus en Barnabas en verdryf hulle uit die area.
  26. Handelinge 14:2 – ongelowige Jode het die heidene teen die onderrig van Paulus en Barnabas aangehits.
  27. Handelinge 14:5 – 'n volgende poging van mishandeling en steniging op beide Paulus en die gelowiges.
  28. Handelinge 14:6 – Paulus en Barnabas vlug.
  29. Handelinge 14:19 – Paulus word gestenig en vir dood agtergelaat. Paulus verwys na hierdie insident in 2 Korinthiërs 12.
  30. Handelinge 14:22 – gelowiges bevestig dat die mens deur verdrukking sal gaan voor hulle die Koninkryk van God sal betree.
  31. Handelinge 16:19 – Paulus en Silas word gearresteer.
  32. Handelinge 16:22 – Paulus en Silas word met stokke geslaan.
  33. Handelinge 16:23 – Paulus en Silas word tronk toe gestuur.
  34. Handelinge 16:24 – Paulus en Silas word se voete word in blokke geslaan, om te keer dat hulle ontsnap.
  35. Handelinge 17:5 – die ongelowige Jode het oproer veroorsaak en die huis van Jason aangeval.
  36. Handelinge 17:32 – die onderrig van die Woord word bespot.
  37. Handelinge 18:6 – die wat die Woord gehoor het, het gelaster.
  38. Handelinge 18:12 – die Jode staan Paulus se onderrig teë.
  39. Handelinge 19:9 – diegene wat die Woord gehoor en teengestaan het, het die waarheid verwring.
  40. Handelinge 21:27 – Paulus is mishandel en geslaan.
  41. Handelinge 21:31 – dieselfde persone het probeer om Paulus dood te maak.
  42. Handelinge 21:32 – Paulus is geslaan.
  43. Handelinge 21:33 – Paulus word gearresteer.
  44. Handelinge 22:24 – Paulus is gegésel.
  45. Handelinge 23:2 – die Hoëpriester laat toe dat Paulus in die gesig geslaan word.
  46. Handelinge 23:13 – die Jode se komplot om Paulus dood te maak.
  47. Handelinge 24:1 – Paulus word deur Tertullus aangekla.
  48. Handelinge 25:3 – nog 'n plan van die Jode om Paulus voor te lê en dood te maak.
  49. Handelinge 25:7 – die Jode beskuldig Paulus maar het geen bewys om hul aanklagte te grond nie.
  50. Handelinge 27:41 – Paulus is ‘n drenkeling na die skip vergaan.

Hierdie voorbeelde kom almal voor in die boek Handelinge. As hierdie dinge in vandag se tyd met mense gebeur het, sou dit bekend gestaan het as ’n “skending van menseregte”. Wanneer Christen gelowiges hierdie verdrukking deurgegaan het, is daar niks mee verkeerd gesien nie – dit is eintlik goedgekeur.

Jesus se waarskuwing in die boek Mattheüs

Mattheüs Hoofstuk 24 gee ‘n oorsig oor wat Christen gelowiges in die toekoms kan verwag. Baie van hierdie dinge het reeds begin gebeur. Die dissipels kom na Jesus toe, en hulle loop in die tempel area rond. Hulle is verbaas oor die konstruksie en die presisie waarmee die tempel gebou is. Hulle wys dit aan Jesus uit. Hy reageer daarop deur hulle te vertel dat “nie een steen onversteurd gelaat sal word nie” – die hele tempel sal gesloop word. Later vra hulle Hom oor die tyd en voorwaardes van die eindtyd. Hy reageer deur hulle te leer, dat hulle moet sorg dat niemand hulle mislei nie – nie presies die antwoord waarna hulle gesoek het nie.

Nog later gaan die dissipels na Hom en wil weet wanneer hierdie dinge sal gebeur. Jesus gee vir hulle 'n kykie in die toekoms. Ons kan argumenteer dat sommige van hierdie dinge reeds bewaarheid is. Hy sê vir hulle dat hierdie dinge die begin van die smarte aandui:

9Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.Mattheüs 24:9

Nog 'n aanhaling deur Jesus verklaar dit:

2Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs ‘n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.Johannes 16:2

Die fokus van Mattheüs 24:9 is opgesluit in die donker gedrukte teks: julle doodmaak en julle sal deur al die nasies gehaat word.

Dwarsdeur die geskiedenis, het die Duiwel nog altyd probeer om van die gelowiges ontslae te raak, en dus om ook Christenskap dood te maak. Geen ander godsdienstige groep is of was, meer geteiken as die gelowige Christene nie. Die hele Nuwe Testament is vol voorbeelde hiervan.

Stéfanus word die eerste martelaar vir Christus

Stéfanus het die eerste martelaar vir Christus geword, soos hier gesien kan word:

58...hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by ‘n jongman met die naam Saulus. Terwyl hulle vir Stéfanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe. – Handelinge 7:58-60

Hy is doodgemaak deur die godsdienstige Jode, omdat hy vir die Waarheid gestaan het, en sy geloof in Jesus Christus, as Here en Saligmaker bely het. Aangesien die geestelike leiers geestelik blind was, sien Mattheüs 23:16-33, het hulle nie verstaan wat Jesus se missie en doel op aarde was nie. Stéfanus se dood het die vervolging van gelowiges tot gevolg gehad. Hierdie vervolging gaan vandag steeds voort, en gaan in die toekoms nog erger word.

Ons mag onsself afvra wat die doel daarvan is om 'n Christen gelowige op hierdie aarde te wees, as ons doodgemaak kan word vir dit waarin ons glo. Toe ons ons lewens aan Jesus Christus toevertrou het, het Hy nie belowe dat dit maklik sou wees nie:

33Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.Johannes 16:33

Selfs as ons na 'n welbekende vers kyk, het Jesus nie net hierdie lewe (op aarde) in gedagte gehad nie:

10Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.Johannes 10:10

In hierdie teks word die werk van die Duiwel, om te steel, te slag en te verwoes, met die werk van Jesus, om lewe te gee, vergelyk. Met jou geboorte gee Jesus aan jou lewe. In die konteks van die teks, verwys die lewe wat Jesus vir ons hier gee, die ewige lewe. Die Duiwel kan nie hieraan raak nie.

Hierdie lewe is net tydelik

Die apostel Paulus beskryf ons tyd op aarde, wat verwys na ons fisiese liggame, as 'n tent waarvan die tent seil met tyd sal begin skeur en verweer. Die tentpenne verweer ook en die hou krag gaan verlore. Hy vergelyk dit met wat ons in die hemel kan verwag:

1Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met eie hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. – 2 Korinthiërs 5:1-4

Baie van ons mag dalk ‘n lang en geseënde lewe lei, maar uiteindelik sal hierdie liggaam tot niet gaan, en die fisiese lewe sal eindig. Mense sal te sterwe kom weens natuurlike of onnatuurlike oorsake.

Daar is egter ook ‘n kans dat ons ‘n gewelddadige dood mag sterf aan die hand van diegene wat dink dat hulle God ‘n guns doen deur ons dood te maak. Paulus skryf aan Timótheüs:

12En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. – 2 Timótheüs 3:12

Gepraat van Paulus, hierdie is dieselfde man wat bygestaan het toe Stéfanus gestenig is. Hy sou later gestenig word, maar dit oorleef. Sien Handelinge 14:19.

Jare later, na al die werk wat Paulus gedoen het om die Evangelie te verkondig, is Paulus onthoof.

Die apostel Petrus

Die geskiedenis dui aan dat die apostel Petrus ook ‘n gewelddadige dood gesterf het, daar hy onderstebo gekruisig is, hoewel die Bybel net noem dat hy gekruisig sou word:

17Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.<
18Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.

19En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.Johannes 21:17-19

Die apostel Paulus

Paulus se steniging is opgeteken in Handelinge 14:19-20.

19Maar daar het Jode van Antiochië en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep met die gedagte dat hy dood was.
Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek. – Handelinge 14:19-20

In 2 Korinthiërs 11:16 en verder vertel Paulus van die lyding wat hy moes verduur. Hy sê dat hy meer as ander, en meer dikwels geslaan is (vers 23); meer dikwels in die tronk gegooi is; sy lewe dikwels bedreig was. Vyf keer (vers 24) is hy gegésel – 40 minus een houe op ‘n slag; drie keer was hy met stokke geslaan; hy was een keer gestenig, maar het oorleef; hy het drie keer skipbreuk gely; hy het selfs ‘n dag en nag op die oop see deurgebring, vermoedelik nadat hy skipbreuk gely het. Hy noem die gevare wat hy beleef het terwyl hulle gereis het (vers 26): kruising van riviere; onderworpe aan rowers; verwerp deur sy eie volk; bedreig deur die heidene; die gevare in stede, die woestyn, en op die see beleef; asook die gevaar van die valse "broers" ervaar. Hy gaan voort om ander ongemaklike ervarings te noem: harde arbeid; slapelose nagte; honger en dors; koue, en 'n gebrek aan behoorlike klere. Hy verklaar dat as iemand vervolging beleef het, dan was dit hy, maar stel dit duidelik dat hy nie daarin sal roem nie. Hy eindig deur te sê dat hy uit Damaskus gesmokkel is om te ontsnap van moontlike gevangenisskap onder die goewerneur van koning Arétas.

Paulus vertel verder van die hemelse gesig en openbaring van die Here, wat hy ervaar het, soos opgeteken in 2 Korinthiërs 12:2-4.

2Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.
3En ek weet van so ‘n man – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit
4dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie. – 2 Korinthiërs 12:2-4

Hy wys hier dat hy weggeraap is na die derde hemel en die paradys en het dinge gehoor wat die mens nie toegelaat word om te bespreek op hierdie aarde nie. Terwyl Paulus nie sy naam noem nie, en blykbaar van 'n ander persoon praat, verwys hy na homself. Selfs in moderne grammatika is dit algemeen om te verwys na jouself in die derde persoon. Op watter manier jy ook al hierna kyk, Paulus het 'n blik op die lewe in die hemel gehad, dus, ‘n blik op die lewe na die aardse dood. Net dit wat hy gesien het, maak dit genoeg rede om die lewe op aarde te verduur en 'n beter lewe in die hemel te wag. Let op dat hy sê dat hy dinge gehoor het waarvoor die sterflike mens nou moet wag, totdat hulle in die hemel kom.

Voorbeelde van Ou Testamentiese gelowiges en Nuwe Testamentiese martelaars

Die apostels, sowel as ander bekende Bybelse gelowiges, het almal 'n gewelddadige dood gesterf. Net die apostel Johannes het aan natuurlike oorsake gesterf (Eusebius [AD 325] meld in sy weergawe van die kerk geskiedenis, dat al die apostels, met uitsondering van Johannes, op gewelddadige wyse gesterf het.). Lees die geskiedenis van die apostels en belangrike Bybelse gelowiges in www.christianity.com en www.whatchristianswanttoknow.com. Waar daar Bybelse verwysings is om die gebeure te staaf, word die insidente as feitelik korrek gestaaf. Baie van die inligting is nie in die Bybel opgeteken nie, maar daar is historiese inligting om die gebeure te staaf. Op watter manier jy ook al hierna kyk, die meeste gelowiges het ‘n aaklige en gewelddadige dood gesterf, en meeste aan die hand van Romeinse soldate.

  1. Abel is deur sy broer Kain doodgeslaan – Genesis 4:8 – want Abel het sy offer in geloof gebring. Hebreërs 11:4.
  2. Sagaria, die profeet, gestenig – Mattheüs 23:35.
  3. Jesaja, die profeet, was in twee gesaag binne in ‘n boomstomp – Hebreërs 12:37.
  4. Johannes die Doper, onthoof – Mattheüs 14:12.
  5. Stéfanus, gestenig – Handelinge 7:58.
  6. Jakobus, die broer van Johannes, gesteek met 'n swaard – Handelinge 12:2.
  7. Antipas, verbrand – Openbaring 2:13.
  8. Die twee getuies (spekulasie wie hulle is), om doodgemaak te word deur die dier in die toekoms – Openbaring 11:7-8.
  9. Petrus, is onderstebo gekruisig –Johannes 21:17-19.
  10. Paulus, eerste keer gestenig maar oorleef (Handelinge 14:19) verwys na in 1 Korinthiërs 12:1-10) en is later onthoof.
  11. Andreas, gekruisig.
  12. Thomas, gesteek met spiese deur Romeinse soldate.
  13. Philippus, gedood deur 'n Romein.
  14. Mattheüs, doodgesteek.
  15. Bartholomeüs, verskeie vermeldings, maar geen spesifieke feite oor hoe hy dood is.
  16. Jakobus, geslaan en gestenig.
  17. Simon die Yweraar, vermoor.
  18. Matthias, dood gebrand.
  19. Johannes, natuurlike oorsake, maar steeds gemartel voor sy dood.

Ten spyte van hierdie desperate pogings, het die Woord versprei, of soos Jesus gesê het, sou die gelowiges van oor die wêreld Sy getuies word:

8...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde. – Handelinge 1:8

Hoe meer mense en bewegings aangeval word, hoe sterker word hulle, en hoe meer groei dit. Roosblare word gepers om die eksotiese geur vry te stel, so ook het die verspreiding van die Evangelie gedy onder die verdrukking en aanvalle van buitestaanders.

Voorbeelde van Christen martelaars in die boek Hebreërs

Dwarsdeur die geskiedenis van Christenskap is daar voorbeelde van hoe gelowiges vir hulle geloof gesterf het. Die brief aan die Hebreërs, hoofstuk 11, vertel dat mense opgesaag is, mense in grotte gewoon het, en mense deur diere opgevreet is (in die Romeinse sirkus-arenas, soos verhaal deur historici) – dog, die aardse was nie van belang nie, wetende dat iets baie beter vir hulle wag. Hebreërs 11:35.

32En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gideon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal,
33wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop,
34die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.
35Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.
36Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.
37Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel –
38die wêreld was hulle nie werd nie – hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.
39En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, –Hebreërs 11:32-39

Baie van die Christen gelowiges het in verskriklike omstandighede geleef. Hulle was arm en het min aardse besittings gehad. Hulle het besef dat hierdie lewe hulle niks beter kon bied as wat hulle op die punt was om te beleef nie.

25Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.Mattheüs 16:25

Hulle het geweet dat hierdie lewe niks was in vergelyking met wat hulle op die punt was om te beërwe nie.

In die Mattheüs Evangelie word die aspek van aardse besittings aanspreek.

16En daar kom een na Hom en sê vir Hom; Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?
17En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.
18Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie;
19eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

20Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?
21Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.
22Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad. – Mattheüs 19:16-22

Die probleem met hierdie man is dat terwyl hy die gebooie en die Wet onderhou en gehoorsaam het, hierdie dinge hom nie verlossing van sonde, en die ewige lewe gewaarborg het nie. Jesus sê vir hom dat as hy volmaak wil wees, moet hy sy besittings verkoop    en dit aan die armes gee. Eers as hy vry van daardie dinge was, kon hy terugkom en Jesus volg. Die man het besluit die ewige lewe was nie die moeite werd vir wat hy moes opgee nie, en hy het weggegaan – onvervuld.

Daar is een woord in hierdie teks wat uitstaan. Jesus sê vir hom dat as hy volmaak wil wees, moet hy homself losmaak van daardie dinge wat hom op aarde bind. Is dit moontlik om perfek te wees? Inderdaad.

48Wees julle dan volmaak, soos julle Vader in die hemele volmaak is.Mattheüs 5:48

As dit nie moontlik was om na perfeksie te streef nie, sou Jesus nie hierdie gebod aan die dissipels en die skares gegee het, ten tyde van Hom wat hulle onderrig het nie. Die beginsel geld ook vir die ryk man.

Die probleem met besittings is dat vir baie mense (nie vir almal nie), dit gaan oor hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê, en hoe meer versamel hulle. Mense raak so gefokus op hulle besittings, dat hulle nie meer ag slaan op God nie, en stadig maar seker, wegbeweeg van Hom. Hierdie jong man sou waarskynlik nie 'n probleem gehad het om Jesus te volg nie, maar sy besittings het gestaan in die pad na die ewige lewe. Rykdom, aansien en besittings was al baie keer die rede waarom mense afgedwaal het van die regte weg.

Ken jy die uitdrukking "Geld is die wortel van alle kwaad."? Is jy seker dít is wat die uitdrukking beteken? Kom ons kyk wat die Bybel hieroor sê...

10Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. – 1 Timótheüs 6:10

Die teks verwys nooit daarna dat daar ‘n probleem met geld is nie, maar geldgierigheid – die begeerte om meer te hê as wat jy nodig het, dit is die probleem. Paulus het nooit 'n probleem gehad met geld as 'n hulpbron nie. Hy het immers geld nodig gehad om sy bediening te finansier. Let daarop dat hy vir Timótheüs vertel dat as die motief agter geldsug verkeerd is, dan het dit verrykende en negatiewe gevolge tot gevolg. Paulus maak dit duidelik dat die verkeerde motief al baie mense afvallig gelaat het van die geloof. Mense beskou geld as ‘n vinnige oplossing vir probleme, waar gebed en geloof tyd neem en alles van die individu vra! Geld en die valse gevoel van sekuriteit wat daarmee saamgaan, het al baie mense laat wegdraai van die ware weg wat lei tot die ewige lewe.

17Want jy sê, Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.Openbaring 3:17

Die vroeë martelare niks op aarde gehad waaraan hulle moes vashou nie. Hulle erfdeel het vir hulle in die hemel gewag.

Openbaring 20:4, vertel ons dat Johannes die martelare wat onthoof is vir hulle geloof in Jesus Christus, in die hemel gesien het. Onthoofding is nie 'n nuwe konsep nie - daar is baie voorbeelde van Christene, van die vroegste tye van Christenskap, tot vandag, wat op dié wyse aan hulle einde gekom het.

Die wrede waarheid is dat ‘n gelowige vir Christus, geen gesellige en gemaklike lewe op aarde het nie. Huidiglik word Christen gelowiges vervolg en oor die wêreld heen doodgemaak. Daar is talle webwerwe wat na die vervolging van gelowiges verwys - asof dit 'n nasionale sport is. ‘n Mens se eerste gedagte is negatief, deurdat jy die slegste vir die moordenaars bedink. Dan herinner die Heilige Gees ons dat ons ons vyande moet liefhê en vir hulle bid (Mattheüs 5:44); en diegene seën wat ons vervolg (Romeine 12:14). Dink hieroor: die einste persoon wat jou gaan doodmaak vir jou geloof in Jesus Christus, is 'n broer in Christus wat steeds ongered is! Paulus het gedink hy doen God 'n guns deur toe te laat dat Stéfanus doodgemaak word:

9Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen. Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee. En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede. – Handelinge 26:9-11

Later sou hy hierdie woorde aan Timótheüs, sy protégé, skryf:

13...my wat vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. – 1 Timótheüs 1:13

God het Paulus vergewe selfs al het hy Christen gelowiges vermoor. Op dieselfde wyse, die persoon wat gereed is om jou dood te maak, kan ook vergewe word, op voorwaarde dat hy sy lewe aan Jesus Christus gee, en sy sondes bely.

Waarom fokus ons so baie op die vervolging van Christen gelowiges wanneer dit in die meeste Westerse lande lyk of daar nie vervolging is nie?

Vandag is daar subtiele maniere van vervolging: Eerstens is daar besluit dat “gebed” nie meer die manier sal wees waarmee verrigting binne skoolverband, begin en afgesluit word nie. Westerse regerings het gebed in skole verban, sodat "medebroers en -susters” van ander godsdienstige groepe nie te na gekom word nie. Volgende, het dit onwettig geword om die Evangelie van Verlossing openlik te verkondig. Ander groepe mag hulle ateïstiese standpunte op nasionale media verkondig, soveel as wat hulle wil. Wanneer Christen gelowiges die aspek van Christen vervolging op YouTube, aan die wêreld wys, is dit verbode. Wat is volgende? Die siening van die wêreld blyk te wees "as ons hulle nie kan stil maak nie, laat ons hulle doodmaak".

As jy dus meer waarde heg aan jou eie lewe, gaan jy buitendien sterf, en sterf sonder om Hom as jou Verlosser te hê. Die Bybel is duidelik hieroor, dat iemand wat selfs hulle lewens of hul familie meer as Jesus Christus liefhet, die Koninkryk van God nie sal beërwe nie:

37Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
38En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.
39Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.Mattheüs 10:37-39

Die apostel Paulus se laaste dae

Aan die einde van Paulus se lewe was hy verhoorafwagtend, daar hy na Rome is, omdat hy het hom beroep het op die keiser, om hom te verhoor.

30En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het,
31terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering. – Handelinge 28:30-31

Op daardie stadium het hy gemaklik gelewe, maar is later weer in die tronk gegooi, waar hy al die vryheid en sekuriteit wat hy geniet het, verloor het.

Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God. – 2 Timótheüs 1:8

Die vraag is wat geword het van die hofsaak waarvoor Paulus na Rome is? Ons lees in Handelinge 25:11 dat Paulus homself verdedig het in die teenwoordigheid van goewerneur Festus, en hom op die keiser beroep het, waarvoor Festus toestemming gee – vers 12. Wanneer ons die laaste hoofstuk van Handelinge lees, kry ons nie ‘n antwoord op hierdie vraag nie. In latere skrywers noem Paulus ook niks hiervan. Indien dit wel plaasgevind het, sou hy definitief daarvan melding gemaak het.

Dough en Sherry Ward, van Grace and Knowledge, het ‘n artikel hieroor geskryf, getiteld: “What happened to Paul after Acts 28?”. Die artikel is beskikbaar by http://graceandknowledge.faithweb.com/acts29.html (Skakel en inhoud word met toestemming gebruik.).

Paulus se tweede skrywe aan Timóthëus

Dit is vanuit 'n tronksel dat Paulus hierdie treffende brief aan Timoteus skryf. Paulus is weer alleen, kry koud, en is deur al die ander mense verlaat en verstoot, behalwe vir Lukas. Hy is seker dat sy dood naby is, maar nog steeds het hy die moed om aan Timoteus te skryf om hom, Timoteus, te bemoedig. Paulus versoek ook ‘n paar goed wat die lewe in ‘n tronksel draagliker kan maak. Hy vra vir boeke en boekrolle, asook sy mantel wat hy agtergelaat het.

Fokus veral op die volgende kern gedeelte van die brief:

1Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
2verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
3want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
5Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
6Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby.
7Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
8Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.
9Beywer jou om gou na my te kom.
10Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessalonika vertrek, Crescens na Galasië, Titus na Dalmasië.
11Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.
12Tichikus het ek na Éfese gestuur.
13As jy kom, moet jy die reismantel bring wat ek by Carpus in Troas laat bly het, en die boeke, veral die perkamente.
14Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke!
15Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan.
16In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie!
17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.
18En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. – 2 Timótheüs 4:1-18

Hoe kan so 'n stukkie van die Skrif nie jou hart aanraak nie? Paulus het aan die einde van sy bediening gekom, maar met groot verantwoordelikheid vir Timótheüs aangestel om daarmee voort te gaan. Hy waarsku hom oor die afvalligheid wat in die kerk sigbaar sal wees. Is dit slegs in ons dag? Nee. Hy het Timótheüs gewaarsku dat daar vals leraars sal wees en mense wat nie die waarheid wil hoor nie, maar net dit wat hulle wil hoor. Kyk na dit wat vandag binne in die kerk gebeur.

Paulus verwys ook na sy naderende dood. Hy is gereed om te sterf - hy het die wedloop voltooi, het 'n goeie stryd gestry, en het voltooi dit wat hy begin het om te doen.

Sy beloning was nie wat 'n mens sou dink God sou aan 'n getroue dienaar gee nie – miskien 'n huis êrens in die buitewyke van Rome, met 'n paar plaasdiere, ‘n plek waar hy elke dag die son kon sien ondergaan, terwyl hy dink aan sy werk en wat hy bereik het – die persoon wat die grootste werk gedoen het in die verspreiding van die evangelie. In plaas daarvan, is hy in 'n donker, klam en vuil tronksel, en wag vir die voetstappe van soldate wat in die gang afkom, die geluid van die sleutel in die hangslot, die bevel om op te staan, en die soldate te volg. Dan, wanneer hy buite in die son is, die finale oordeel – ‘n Romeinse soldaat bring ‘n einde aan die tydelike lewe, met een kap van die swaard. Met hierdie aksie het Paulus die ewige lewe verkry: hy is by Jesus Christus, die Een wie se kerk hy aanvanklik wou vernietig, maar deur ‘n ontmoeting op die pad na Damaskus, word sy se lewe handomkeer verander, en beywer hy hom vir die uitdra van die evangelie – ‘n lewenslange taak. Sy kruis, om saam met Christus gekruisig te word (Galasiërs 2:20), is verander in 'n kroon van oorwinning.

Gevolgtrekking

Hierdie skrywe het nie ten doel om gelowiges te verskrik nie, maar om as waarskuwing te dien: moenie selfvoldaan raak of wees nie. As 'n wrede dood die lewens van God se kinders in die Bybel en daarbuite kon beëindig, wat maak ons vandag anders? Ons moet nie die dood vrees nie. Jesus het reeds die dood oorwin deur uit die dood opgewek te word, en op dieselfde manier sal ons opgewek word in 'n nuwe permanente lewe, wanneer die een wat ons nou het, tot ‘n einde kom. Die vraag is egter: is jy steeds bereid om die prys te betaal van dit wat dit jou gaan kos om Hom, as Here en Saligmaker, te volg.

Voice of the martyrs

Wanneer Christen gelowiges elke dag meer en meer stilgemaak word, is dit belangrik om van hulle vervolging te hoor. Besoek www.persecution.com.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy