Die verkeerde leer van 'n vyfvoudige bediening in ons tyd

Ek hoor dikwels hoe predikante Efesiërs 4:11-16 aanhaal om te verduidelik hoe hulle gemeentes funksioneer in terme van ‘n vyfvoudige bediening. Kom ons kyk eers na die teks en bespreek dit dan verder in konteks met die res van die Bybel.
11En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 12om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 13totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 14sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 15maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, 16uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde. – Efesiërs 4:11-16
Ons lees hier dat Hy (Jesus Christus) die volgende persone daargestel het om die heiliges toe te rus vir hul dienswerk:
- apostels
- profete
- evangeliste
- herders
- leraars
Dit lyk alles baie goed, behalwe dat daar ‘n groot leemte in meeste gelowiges se interpretasie van die gedeelte is. Wanneer ek hoor dat sekere mense in die gemeente hulleself as apostels en profete beskryf, besef ek hoe onnoukeurig ons die Bybel lees, en mense hulleself poste toe eien wat nie tans bestaan nie. Ek het voorheen twee artikels gepubliseer wat beide [ (vals) apostels ] en [ (vals) profete ] aanspreek. Hierdie ampte bestaan nie in die hedendaagse kerk nie omdat hulle rol uitgedien is. Enige persoon wat hulleself as ‘n apostel of profeet sien, is verwaand en verkeerd.
Ons kan die hele argument van ‘n huidige vyfvoudige bediening ongedaan maak deur te verwys na ‘n ander gedeelte wat Paulus geskryf het, aan dieselfde gemeente. Hierdie gedeelte moet gelees word voordat Efesiërs 4 gelees word:
17En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; 18want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. 19So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 20gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees. – Efesiërs 2:17-22
Paulus verwys hier na die Kerk van Jesus Christus wat ten doel het om ons met God te versoen (vers 13). Wat egter belangrik is om raak te lees, is dat Paulus die apostels en profete sien as die fondament waarop die Kerk gebou is, terwyl Jesus Christus die hoeksteen is. Verder groei die Kerk tot ‘n heilige tempel, soos Paulus in Efesiërs 4 verduidelik. Dink egter mooi oor die voorbeeld van ‘n gebou. Die eerste deel wat gelê word is die fondament. Dikwels is die eerste steen wat gelê word ‘n hoeksteen. Daarna word die res van die gebou bo-op hierdie fondament gebou. Ons peuter nie meer met die fondament nie. Inteendeel, ons sien dit nie meer nie, maar ons weet dat dit daar is. Dit is so met die Kerk. Die fondament is alreeds gelê, en dit is nie nodig dat nog ‘n fondament bo-op dit gebou word nie.
As ons na Efesiërs 4 kyk, sien ons dat Paulus die illustrasie van die gebou verder neem. Hy noem weer die apostels en profete wat die fondament gelê het, maar noem dan die ander drie bedieninge wat verder op hierdie fondament bou – die evangeliste, herders, en leraars. Ons het vandag net hierdie drie ampte nodig. Evangeliste gaan uit en wen siele en begin nuwe gemeentes; herders lei gemeentes pastoraal; en leraars bedien die Woord. Daar is geen rede om nóg ‘n fondament te lê nie.
Dit is so dat predikante dikwels beide herders en leraars is, en dit is reg so, maar dit hoef nie so te wees nie. Ons kan ewe maklik twee ampte hê wat elkeen sy spesialiteit bediening uitleef, en mekaar aanvul. Ongelukkig word meeste van ons gemeentes deur indiwidue gedryf wat niemand anders ‘n kans wil gee nie, en alles self wil doen. Dit is nie in lyn met die lering van die Woord nie.
Soos in die ander twee artikels beskryf is, bestaan die amp van apostel en profeet vandag nie meer nie. Ek som die redes kortliks hier op:
Apostels
Daar was 12 dissipels, wie Jesus later na verwys het as apostels. Een, Judas, het dit nie gemaak nie, en sy amp is deur Matthias oorgeneem (Hand 1:20,26). Hierdie mans was persone wie Jesus self gesien het en saam met Hom gewerk het. Paulus word later as ‘n apostel geroep, op grond van die feit dat hy Jesus self gesien het tydens sy bekering. Hy verwys na homself as die laaste apostel (1 Kor 15:8). Die laaste apostel wat gesterf het, was Johannes. Daarna was die amp van apostel verby.
Profete
Die Woord maak dit duidelik dat nadat God in die verlede tot die mens deur die profete gespreek het, Hy in die huidige tyd tot die mens spreek deur die Seun, die Woord (Heb 1:1). Al die profete het tot op Jesus geprofeteer. Dié wie verder as dit geprofeteer het, het uitsprake oor Israel en die nasie se toekoms gemaak. Dit is dus nie op die Kerk van toepassing nie.
Bogenoemde twee ampte was wel daar met die totstandkoming van die Kerk, maar soos wat die fondament gelê is en die Kerk gegroei het, het hierdie twee ampte nie verder gegroei nie, maar is die basis waarop die ander drie ampte – evangeliste, herders, en leraars, hulle werk doen en die groei van die Kerk voortsit.
Opsomming
Die vyfvoudige bediening opereer nie vandag in die Kerk in die sin dat daar vyf verskillende groepe is wie hierdie vyf bedieninge uitleef nie. Jy is nie ‘n apostel nie, want jy voldoen nie aan die vereistes soos deur die Nuwe Testament neergelê is nie. Jy is ook nie ‘n profeet nie, want alles wat God vandag aan die mens wil openbaar, doen Hy deur die Woord, Jesus Christus. Wees ‘n evangelis, ‘n herder, of ‘n leraar en versterk die gemeente daardeur, maar moenie jou as die fondament voorhou nie. Die tragedie is egter die teenwoordigheid en optrede van baie [ vals apostels ], [ vals profete ], en [ vals leraars ] in ons tyd, waarteen Jesus Christus, Paulus, en Petrus ons alreeds gewaarsku het. Bly weg van hulle af.