Dokumentasie Geplaas op Sondag, 5 Oktober 2025

'n Gebrek aan lering is soos 'n waterlose fontein

Die tragiese situasie in meeste van ons kerke vandag

Die twee sendbriewe van die apostel Petrus word nie dikwels deur gelowiges gelees nie, en nog minder oor gepreek deur leraars. Anders as Paulus was Petrus nie ‘n geleerde man nie en sy bydrae tot die Nuwe Testament is beperk tot net twee kort briewe. Paulus daarenteen is verantwoordelik vir die meerderheid van die briewe van die Nuwe Testament. Petrus spreek egter waarhede aan wat vandag in ons kerke relevant is.

In sy tweede sendbrief skryf Petrus oor valse profete en valse leraars wie in sy tyd al mense mislei het, en dit ook in sy toekoms sou doen, waar ons vandag is. Lees eers 2 Petrus 2:1-22 en gaan dan aan met jou studie hier.

Die hoofstuk begin met die woord "Maar". Dit dui daarop dat iets wat dit voorafgaan, 'n teenoorgestelde betekenis of konsep moes hê. Gaan lees dus eers ook die laaste gedeelte van die vorige hoofstuk wat verduidelik dat profesie nooit 'n saak van eie uitlegging is nie, maar dat die heilige mense van God gespreek het soos wat die Gees dit aan hulle geopenbaar het. Wat Petrus nou gaan doen is om te verduidelik wie en wat mense is wie nie deur die Gees gelei is nie en die Woord verkeerdelik leer.

Let daarop dat Petrus begin deur te skryf dat daar valse profete was, in die verlede tyd, net soos daar valse leraars sal wees, in die toekomende tyd. [ Daar is nie vandag meer profete nie, en diegene wie beweer dat hulle profete is, is vals. ] Petrus fokus egter op die valse leraars van die toekoms vir sy tyd, en wie vandag onder ons opereer en duisende mense mislei. Wat doen hierdie valse leraars?

  1. Hulle voer verderflike ketterye heimlik in. Wat dit beteken is dat dit verdoemende valse lering is wat onder ‘n dekmantel van die waarheid in ons gemeentes gepreek word. Hulle word verlei. 2 Petrus 2:1.
  2. Hulle verloën die Here, wie hulle gekoop het. Hulle verloën Hom deur hulle valse leringe wat in kontras met die evangelie van redding is. Hulle verlei in die proses ook ander. Sien 2 Petrus 2:1.
  3. Die gevolg is dat baie mense hulle slaafs navolg en om hierdie mense in die kerk tevrede te stel, word die waarheid van die Woord gelaster. Sien 2 Petrus 2:2.
  4. Hulle trek voordeel, meesal finansieël, deur verdigte woorde – stories, fabels, en valse lering – te verkondig, eerder as die ware Woord. Sien 2 Timótheüs 4:4.

Petrus gaan aan deur te noem wat met hierdie leraars en hulle volgelinge gaan gebeur. Hy gebruik bekende voorbeelde om dit te staaf: die gevalle engele (vers 4); die ou wêreld (vers 5); en Sodom en Gomorra (vers 6). Dan verduidelik hy hoe God vir Lot gespaar het omdat hy ‘n regverdige man was wie bekommerd was oor die sonde van die mense van sy tyd (vers 7). Hy som hierdie voorbeelde op deur te noem dat God weet hoe om ‘n onderskeid tussen die regverdiges en goddeloses te maak (vers 9).

Hy neem vers 9 verder en verduidelik wat die onregverdiges doen en wat met hulle gebeur. Hulle belaster die engele (vers 10) maar gaan ten gronde (vers 12) en ontvang wat hulle toekom (vers 13). Hulle lewe spandabelrig (wanaanwending van finansies); en mislei mense (bedrieëry) terwyl hulle saam met julle (Petrus praat met jou as ‘n gelowige in die tweede persoon) saamsmul en hulle misbruik jou samesyn. Hulle verlok onvaste siele deur vals leringe (vers 14); en hulle het die regte pad van die waarheid verlaat (vers 15).

Waterlose fonteine

Nou kom Petrus by die kruks van die saak. Hy noem hulle waterlose fonteine. In taalkundige terme is dit ‘n paradoks. ‘n Paradoks is 'n stelling of situasie wat teenstrydig met gesonde verstand voorkom, maar ‘n dieper waarheid kan bevat of ‘n fout in logika kan openbaar. Dit behels dikwels twee teenoorgestelde feite of eienskappe wat gelyktydig bestaan en kan óf 'n taalkundige tegniek, 'n logiese raaisel, óf 'n filosofiese konsep wees wat kritiese denke bevorder deur aannames uit te daag. Baie van ons leraars vandag is soos waterlose fonteine.

God se Woord kom na jou toe deur die prediking daarvan. Die Woord bring net een tipe water voort: vars water (Jakobus 3:12). God se Woord is vars water. Dit is mense se waninterpretasies en swak lering van die Woord wat brak is. Mense wie dors is, gaan na ‘n fontein om vars water te kry. Die foto wat saam met hierdie artikel gebruik word, is eintlik baie tragies. In ons tyd ken niemand meer ‘n fontein nie, en dus gebruik ons ‘n kraan. Hierdie persoon staan bakhand om water te kry wat lewe gee, maar die kraan is droog, waterloos. Die leraar, die kraan, verkondig nie die Woord wat lewende water gee nie (Johannes 4:10). Hoe dikwels sit mense in ons kerke, desperaat om Woord-gefundeerde lering te kry, maar stap dorser uit as wat hulle ingekom het.

Hulle einde

Wat is die uiteinde van hierdie leraars? Hulle spreek trotse woorde (trots is selfsugtig) vol onsin (valse lering) en verlok diegene wie aanvanklik dwaling ontvlug het (vers 18). Hulle belowe vryheid, maar hulle is self gebonde aan hulle eie vale leringe (vers 19). Die egste is dít: hulle wás eens op ‘n tyd vrygemaak deur die evangelie, maar het deur hulle eie valse leringe gevange geword, en word nou self deur die valsheid oorwin (vers 20).

Dit sou immers beter gewees het dat hulle nooit die waarheid leer ken het nie, as dat hulle, nadat hulle die waarheid leer ken het, hulle daarvan afgekeer het. Hulle is soos honde wie omdraai en hulle eie braaksel eet, en skoon varke wat nou in die modder rol. Petrus haal hier gedeeltelik Spreuke 26:11 aan. Jy kan nie, as jy eers die evangelie van vrymaking aanvaar het en skoon gewas is nie, nou weer in die ou lewe verval nie.

Wat nou?

  • As jy ‘n leraar is en die Gees praat met jou, stop jou prediking; bedank uit die bediening as dit moet; en gaan sorteer jouself uit. Jy ken die waarheid, en die waarheid sal jou vrymaak. Jy is veronderstel om die fontein te wees wat lewende water aan andere verskaf, nie brak water (valse lering) nie.
  • As jy ‘n doodgewone gelowige is en jy ervaar dat jou leraar ‘n valse boodskap verkondig, kom weg daar. As hy nie ‘n fontein is wat vars, lewende water voortbring nie, kan jy niks by sy prediking baat nie.

Hoe herken jy valse lering? Deur die Waarheid, Jesus Christus, en sy Woord te ken! Hoe tragies is dit egter, dat so baie gelowiges ‘n gebrekkige kennis van die Woord het. Soos Petrus dit stel, moet jy kennis byvoeg by jou geloof, kennis van die Woord (2 Petrus 1:5). Bestudeer die Woord, en jy sal valse leringe herken vir dit wat dit is, vals.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy