Jy het die Here Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker aanvaar. Wat gebeur nou?

Neem jou eerste stap as 'n gelowige
Wat moet jy nou doen? As jy die liefde van Jesus eerstehands deur verlossing ervaar het, waarom nie begin om Sy liefde in jou lewe uit te leef nie? Begin by diegene wat die naaste aan jou is. Sal dit 'n maklike proses wees? Nee. Diegene naaste aan jou kan steeds vashou aan dieselfde stel reëls waarvan jy nou vrygemaak is, en hulle oë mag steeds vir die waarheid gesluit wees. Dit is nou jou taak om die verandering wat jy ervaar, uit te dra na die mense om jou. Begin deur vir hulle te bid. Jy mag selfs uitvind dat iemand anders vir jou gebid het om gered te word! Hier is 'n paar dinge wat jy kan doen om jou te help op jou pad as 'n nuwe gelowige in Jesus:
- Lees jou Bybel elke dag. Vind die tyd, maak die tyd. 'n Nuwe gelowige is soos 'n droë spons - jy wil leer en meer weet, jy sal dors wees na die Lewende Water. As die Bybel vir jou 'n nuwe ervaring is, begin deur een van die Evangelies te lees: Mattheus of die van Johannes. Jy hoef nie met Genesis te begin en te eindig met Openbaring nie. In hierdie tyd as 'n nuwe gelowige, moenie vasgevang raak in teologiese vrae oor die boeke nie. Al die Bybelboeke speel 'n belangrike rol, hoewel die kern van die evangelie in die Nuwe Testament gevind word.
- Bid gedurig. Elke oomblik of plek is die regte plek vir gebed. Vind die tyd, maak die tyd. Dink aan dinge waarvoor jy God kan dank! Ons spandeer dikwels meer tyd om gunste te vra as om Hom die aanbidding te gee wat Hy verdien. Bid vir diegene wat jy ken en wie jy glo ook die liefde van Jesus in hulle lewens nodig het. Bid dat die Heilige Gees jou gebede sal versterk en lei.
- Vind ander wat ook lief is vir Jesus. Mense sê dikwels dat gelowiges soos die kole van 'n vuur is - hulle hou mekaar aan die gang. Beweeg een van die kole weg en dit sal koud word en doodgaan. Christelike gemeenskap werk op dieselfde beginsel - wanneer 'n persoon weg beweeg van die saam wees met ander gelowiges, vervaag die persoon se toegewydheid.
- Sluit aan by 'n klein groepie gelowiges - selgroep of huisgroep. Hulle sal jou help om 'n kerk te vind. Raak betrokke by mede-gelowiges in 'n kerk of 'n huis-Bybelstudie groep. Sluit by 'n kerk aan, maar wees versigtig om nie te hoë verwagtinge te hê nie, sodat jy nie teleurgesteld sal wees met 'n bepaalde kerk, huisgroep of predikant nie. Kerkleiers is menslik, soos almal wat deel is van die kerk. Wees net bereid om gelei te word deur die Heilige Gees. Maak nie saak wie jy is of hoe oud jy is nie, die kerk/gemeente waar jy aansluit sal 'n program hê waarby jy kan aansluit en inpas.
- Moenie teleurgesteld wees as hierdie proses nie maklik is nie. Jesus het ons nooit belowe dat ons 'n maklike lewe sal hê nie. Jy gaan weerstand van mense en aanvalle van die duiwel beleef. Die ergste is dat die duiwel werk deur mense, selfs diegene waarvoor jy lief is! Wanneer dit gebeur, verstaan dat dit 'n manier is om jou te ontmoedig. Onthou, in gebed sal jy nuwe krag kry.
16Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid – 2 Timotheus 3:16
17Bid sonder ophou. – 1 Thessalonicense 5:17
1Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. – Efesiërs 4:1-3
41Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring. 42En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. 43En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrengs onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. 46En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, 47terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is. – Handelinge 2:41-47
33Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. – Johannes 16:33
Beteken dit ek moet na 'n ander land gaan en 'n sendeling wees? Nee. Hoewel God sekere individue roep om die liefde van Jesus aan ander mense te verkondig, moet jy eers leer om liefde te betoon aan diegene in die omgewing, wat jy ken. Sou jy in die toekoms die behoefte ervaar om uit te gaan, en om die liefde van Jesus aan ander te verkondig, sal dit wees omdat God jou gekies het om dit te doen. Hy sal dit deur die Heilige Gees aan jou bekend maak.
Vir eers, laat die liefde van Jesus in jou, ander mense na jou trek. Sodoende het jy die perfekte geleentheid om die sulkes te vertel van Jesus, en om hulle na Hom te lei. Hulle is op soek na Jesus, soos wat jy ook was, voor jy Hom in jou lewe toegelaat het. Hulle het die liefde van Jesus nodig net soveel as wat jy dit nodig gehad het.
Op hierdie oomblik is jy 'n nuwe gelowige. Jy is soos 'n jong plantjie wat versorg moet word, sodat jy kan groei in die geloof. Versorging vind plaas deur ander mense. In die gelowige se lewe speel die rol van die Christelike gemeenskap 'n belangrike plek. Vir meer inligting, volg die skakel op die webwerf en lees Hoofstuk Drie van die Johannes Evangelie.