Die vrou by die put

Dokumentasie Geplaas op Woensdag, 11 Desember 2024

Johannes Hoofstuk Vier: Die vrou by die put

'n Besondere Gebeurtenis

Ons het al voorheen Johannes 4 bespreek, maar toe ek vanoggend dit weer lees, het ek ander, dalk nuwe, inligting uit hierdie aangrypende insident gekry. Ek verwys nie hier terug na die vorige artikel nie, maar jy kan dit self bestudeer: [ Die Ontmoeting by die Put ]

Kom ons kry eers die groter prentjie. In Johannes 3 kom Nikodémus in die nag na Jesus toe. Die donker is die dekking wat hy nodig het sodat sy kollegas hom nie in gesprek met Jesus sou betrap nie. Hier is iemand wie geleerd is en die wet ken. Hy is immers ‘n leraar van Israel (Johannes 3:10), hy is ‘n Jood, en ‘n Israeliet. Hy het dus die perfekte CV. Hy kom met vrae en daar is konflik in sy gemoed. As Jood het hy ‘n verwagting vir die koms van die Messías, maar dit wat hy sien, is nie hoe hy gedink het dit sou wees nie. Israel het ‘n militêre regeerder gesoek wat hulle van die juk van Romeinse oorheersing sou verlos. Die Jesus wat hy ontmoet, is alles behalwe hierdie regeerder. Jesus gebruik die voorbeeld van ‘n geboorte om Nikodémus by die waarheid uit te bring.

In Johannes 4 sien ons iets heeltemal anders. Jesus is weer in gesprek met iemand aan wie Hy die waarheid bekend maak, maar die gebeure vind in die middel van die dag plaas. Hierdie is egter ‘n vrou wie se lewe redelik wankelrig is. Sy is die teenoorgestelde van die Joodse leraar. Sy is ‘n Samaritaan, ‘n vrou, waarskynlik behoeftig, en deur die gemeenskap verwerp. Dit is ook die rede waarom sy in die warmste gedeelte van die dag, wanneer mense nie uit hulle huise wil kom nie, water moet gaan skep, en hulle haar nie sien en pla nie. Sien Johannes 4:6. Die sesde uur vir daardie kultuur is ons 12:00.

Beide Nikodémus en die Samaritaanse vrou se lewens word verander deur hierdie persoonlike, amper intieme, kontak. God het ‘n afspraak met beide gehad, maar in verskillende omstandighede en op verskillende maniere. Kom ons kyk na die tweede gebeurtenis. Wat hier belangrik is, is om die geskiedkundige konteks te verstaan. Dit is dus nodig dat jy die nodige naslaanwerk gaan doen.

  1. Vers 1 en 2: Jesus self het nie mense gedoop nie. Die manier hoe dit uitgedruk word dui bloot kollektief die groep aan waarin Jesus beweeg het.

  2. Vers 4: Samaría was daardie deel van die land wat deur die Jode vermy was, omdat die Samaritane daar gewoon het. Ons lees egter interessante inligting oor Samaría, en daarvoor moet jy eers Génesis 33:18-20 en Joshua 24:33 gaan lees. Eers dan verstaan jy die konteks van die grond wat Jakob aan Josef gegee het.

  3. Vers 6: Dit is warm en Jesus gaan sit by die put. Hy weet egter van ‘n afspraak wat sy dissipels nie van weet nie. Sy dissipels gaan na die stad toe om kos te gaan koop en dit is die tyd wat Hy nodig het vir ‘n interaksie met iemand wat die dissipels nie sou verstaan nie, en ook nie sou wou toelaat nie. Jesus wil die vrou teen die ander mans beskerm, en privaatheid is belangrik.

  4. Vers 9: Die vrou is verbaas dat ‘n man, en dit nogal ‘n Jood, met haar praat. Ons leer vinnig dat hierdie vrou nie dom was nie. Haar interaksie, vrae, en reaksies is baie intelligent. Eerstens verstaan sy die geskiedenis en kultuur en sy weet sy is in hierdie konteks op die agtervoet.

  5. Vers 10: Jesus bied haar baie meer aan as waarvoor sy na die put gekom het. God bied ons altyd meer as wat ons verwag. Ons moet net ontvanklik wees daarvoor.

  6. Vers 11 en 12: Sy ken die geskiedenis en weet dat hierdie een van die diepste putte in die omgewing is. Sy verwys na die geskiedenis, wat sy baie goed ken. Sien Génesis 48:21-22 maar lees ook daar ‘n bietjie wyer om die groter konteks te verstaan.

  7. Vers 14: Kyk mooi na die twee situasies:
    1. Vers 11-12 spreek van die tydelike. Die vrou moes gereeld water kom haal. Dit is spreekwoordelik van die wet, waar gereeld vir die mens by God ingetree moes word deur ‘n offer te bring.

    2. Vers 13-14 spreek van dit wat permanent is. Die water wat Jesus gee is permanent en hy wie hierdie water drink word ‘n fontein. Dit is spreekwoordelik van die genade, waar Jesus eenkeer vir die sonde van die mensdom gesterf het. Sien Hebreërs 7:27.

  8. Vers 15: Die vrou verstaan onmiddellik wat Jesus haar kan bied. Sy snap die waarheid.

  9. Vers 16 en 17: Jesus wil sien of sy die waarheid gaan praat en hoe sy gaan reageer oor haar persoonlike lewe. Hy is die alwetende God en sy kan haar lewe nie vir Hom wegsteek nie.

  10. Vers 18-19: Sy erken Hom as ‘n profeet omdat sy die waarheid hoor.

  11. Vers 20: Die vrou verwys weer terug na die geskiedenis. “Hierdie berg” is Gerísim waarvan ons in Joshua 8:33 lees. Sy is ietwat sarkasties, en ons kan haar nie blameer nie, deur te sê “en julle sê dat die plek...”. Die Samaritane het die Jode verag vir die manier wat die Jode teenoor hulle opgetree het. Jesus is ook ‘n Jood en haar optrede verbaas Hom nie.

  12. Vers 21-24: Jesus bring die verskillende groeperinge bymekaar deur te noem dat daar ‘n tyd sal wees wanneer aanbidding nie op die berg (Samaritane/heidene) of in die stad (Jode/Israel) sal wees nie, maar wanneer die ware aanbidders (alle gelowiges, Jood of heiden) die Vader in gees en in waarheid sal aanbid. Die plek is nie belangrik nie; die gesindheid is wel.

  13. Vers 25: Kyk na die wyse waarop die waarheid in hierdie vrou se lewe openbaar word. Sy het ‘n verwagting vir die koms van die Messías. Ek wonder of ek en jy vandag dieselfde verwagting het. Hierdie vrou het ook die Ou Testament geken. Terwyl Jesus se eie mense (Johannes 1:11) Hom nie aanvaar het nie, kry diegene wie opreg soek, die redding wat ons almal nodig het, ongeag van ons stand in die samelewing.

  14. Vers 26: Jesus openbaar Homself as die Messías aan die vrou. Dit is al wat sy nodig gehad het om haar lewe te verander. Net soos wat Nikodémus die boodskap gekry het, so kry iemand aan die teenoorgestelde kant van die sosiale spektrum ook die boodskap.

  15. Vers 27: Die terugkeer van die dissipels eindig die dialoog tussen Jesus en die vrou. Kyk egter wat doen sy nou.

  16. Vers 28: Die vrou los haar waterkan net daar, gaan terug na die stad toe, en gaan roep haar mense. Sy het die lewende water ontdek en die put se water is nie meer vir haar belangrik nie. Sy gee ook nie om dat Hy haar geskiedenis ken nie, en ook nie dat sy saam met Hom gesien is nie.

  17. Vers 29: Sy nooi haar mense om te kom luister na iemand wie haar lewe vir haar uiteengesit het. Hulle kom na Jesus toe ongeag wat die tyd van die dag is, seker omtrent eenuur.

  18. Vers 30: Hierdie is haar eerste uitreiking. Sy het die waarheid gekry en sy is gretig om dit met haar mense te deel. Die vraag is of ek en jy dieselfde doen. Vanaf vers 31 tot 38 skuif die fokus weg van die Samaritane af na die dissipels toe.

  19. Vers 39-40: Jesus moes deur Samaría gaan omdat Hy ‘n afspraak met hierdie vrou gehad het. Dit het egter daartoe gelei dat ander wie van Hom gehoor het, het nou in Hom geglo en meer wou weet, en Hy het twee dae langer in Samaría gebly.

  20. Vers 42: Hierdie vers som die gebeure pragtig op. Die vrou was wel die een wie haar mense gaan roep het, maar noudat hulle self die waarheid gehoor het, glo hulle nie meer op grond van dit wat sy gesê het nie. Dit maak nie haar aandeel enigsins minder werd nie. Sy was bloot die kontak tussen Jesus en hulle, maar was ‘n noodsaaklike kontak.

Slotsom

Ek en jy moet geleentheid soek vir interaksie met ander mense om die goeie nuus aan hulle oor te dra.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy