Jou reputasie is niks werd nie

Is jy en jou reputasie dalk die grootste struikelblok in jou lewe?
Dit is ‘n gevaarlike dag wanneer “ek”, “êk” word. Ek (voortaan "skrywer" om verwarring te voorkom) was bekend met ‘n egpaar wie skrywer gereken het goeie mense is. Soos wat hulle egter die sosiale leer geklim het in die gemeenskap, het skrywer dikwels die vrou, wat nog altyd van haarself as “ek” gepraat het, soos gewone Afrikaans sprekendes dit sou doen, skielik gehoor van haarself as “êk” praat, iets soos Mevrou Dokter of Mevrou Dominee. Dit is daardie verandering van die vokaal wat spreek van selfsug en hoogmoed. Dikwels moes ons hoor van “êk” dit en “êk” dat totdat skrywer later besluit het haar eerste naam is seker eintlik “Êk”. Sy is so belangrik in haar posisie, wat eerder haar man s’n is, dat sy nie anders kan nie as om die res van die mensdom daarvan te vertel.
Die apostel Paulus het baie gehad om in te roem. Vir sy tyd was hy ‘n geleerde man wie verskeie tale kon praat, die Joodse wet tot die letter toe geken en uitgevoer het, en in die hoër kringe beweeg het. Hy het die toestemming van die Skrifgeleerdes gehad om op te tree soos hy wou. Toe kom hy tot bekering en besef dat dit tyd is dat “êk” vir “Hom” moet plek maak. Van waar hy oppad was na Damaskus met die outoriteit om Christene te gaan arresteer, word sy hele reputasie in ‘n oomblik tot niet gemaak. Kom ons kyk hoe die Woord dit verduidelik:
1Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan 2en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. 3En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ’n lig van die hemel af; 4en hy val op die grond en hoor ’n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. – Handelinge 9:1-6
Skielik word sy hele lewe verander. Kom ons kyk hoe hy dit aan die gemeente in Filippi beskryf:
1Verder, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid. 2Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. 3Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie; 4alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. 5Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër; 6wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. – Filippense 3:1-6
Paulus noem eers dat hy voldoende rede gehad het om te vertrou in dit wat hy in die vlees bereik het, sy reputasie. Hy onderstreep dit deur die volgende feite te gee:
- Hy is besny op die agste dag, volgens die vereistes van die wet.
- Hy kom uit die regte nasionale groepering, Israel.
- Hy was uit ‘n regte stam gebore, Benjamin.
- Hy was ‘n opregte Hebreër.
- Wat die wet betref, was hy ‘n Fariseër.
- Hy het die gemeentes vervolg, en so opgetree soos die Jode dit gedoen het.
- Sy kennis en toepassing van die wet was onberispelik.
Toe kom sy bekering op die Damaskus pad, en sy hele reputasie is daarmee heen. Waar hy eers self die rigting van sy lewe bepaal het, word hy skielik voorgeskryf om na die stad Damaskus te gaan, waar hy oppad heen was, maar daar moet wag vir sy nuwe opdragte, wat heeltemal anders was as waarvoor hy aanvanklik na die stad gegaan het.
Sy bekering was so dramaties, dat hy aan die gemeente in Filippi geskryf dat wat vir hom wins was, hy om Christus wil skade geag het en alles wat hy was of gehad het, prysgegee het:
7Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 11of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. – Filippense 3:7-11
Hy doen dit vir drie redes:
- Om Christus as wins te verkry, en nie meer sy eie belange nie.
- Om in Hom gevind te word, en nie meer in homself nie.
- Om Hom te ken en die krag van Christus se opstanding, en nie meer sy eie vermoë nie.
Die einddoel is om homself, die “ek”, daardie sewe punte waarop sy reputasie gebou was, te kruisig, uit die dood op te staan as die nuwe mens, en aan Christus se dood gelykvormig te word. Hy skryf hierdie treffende woorde:
14Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. – Filippense 3:14
Paulus het dit wat hy was, agtergelaat, en reik uit na wat voor is – die doel, Jesus Christus, wat in hom gestalte moet kry. Soos Johannes die Doper gesê het: Hy moet meer word, maar ek minder (Joh 3:30).
Opsomming
Wat probeer skrywer vir jou sê? Die “ek” in jou lewe moet gekruisig word sodat Christus alleen in jou gestalte kan kry. Jou reputasie en dit wat jy jare terug bereik het, hoeveel geld jy gehad het, en die werk wat jy gedoen het, tel vandag niks nie. As jou reputasie en dit wat jy uit jou eie bereik het, nog steeds vir jou die fokus van jou lewe is, moet jy dalk weer besin of jy werklik gered is. Jy het duidelik nog nie die ou mens afgelê nie. Sien 2 Korinthiërs 5:17.
Dalk is dit tyd dat jy jou naam as volg verander: Ek Naam Van (voeg jou eie naam en van hier in) moet plek maak vir Ek Naam Van Jesus. Vee die “ek”, of nog erger, die “Êk” in jou lewe uit en vervang dit met Jesus Christus. Jou situasie is dalk vandag benard en jy kyk terug na die dae toe alles eintlik net oor jouself gegaan het. Terwyl jy egter nog steeds op die troon van jou eie lewe sit, kan God niks in jou vermag nie. Hy wag vir jou om daardie posisie aan Hom te oorhandig.
Jy kan dit óf vrywilliglik doen, óf jy gaan dalk hard geslaan word om jou te dwing om dit te doen. God verwag dat jy die eerste opsie sal uitoefen, voordat dit te laat is en Hy baie hard, maar in liefde, op jou moet neerkom. God se liefde, volgens [ Johannes 3:16 ], het nog nooit vir jou minder geword nie. Daar is egter net plek vir een persoon op die troon van jou lewe. As jou lewe tans ‘n gemors is, kyk ‘n bietjie langs jou. Dalk staan Jesus Christus langs die stoel van jou lewe, eerder as om op die stoel te sit en jou lewe vir jou te beheer. Daar is nie plek vir beide ek en Jesus nie. Dit is óf Jesus Christus of chaos. Dalk is vandag jou Damaskus ervaring.