Dokumentasie Geplaas op Woensdag, 1 Maart 2023

'n Nuwe Seisoen: Hierdie dag is spesiaal en dit is die begin van groot dinge vir jou

Hierdie dag is spesiaal en dit is die begin van groot dinge vir jou

Vandag is 1 Maart 2023. Die van ons wie besighede het, of in die finansiële sektor werk, weet dat gister en vandag, en ‘n paar dae verder in die maand in, baie stresvol is. Dit is die einde van die finansiële jaar, en die begin van ‘n nuwe een. As jy nie gedurende die jaar jou papierwerk getrou gedoen het nie, moet jy nou vinnig werk. Die ouditeur is op jou spoor. Uiteindelik staan SARS ook reg om sy pond vleis te eis. Dalk kyk jy terug op die vorige jaar en sien jy talle mislukkings – kontrakte wat nie gerealiseer het nie; ouens wie jou nooit betaal het nie; en ‘n angs stoot by jou op. As 2022/2023 so erg was, hoe gaan 2023/2024 wees?

Vanoggend kry ek ‘n stem opname van iemand wie daagliks op WhatsApp sy dagstuk stuur. Hy noem dat ons dikwels so vasgevang word in die manier hoe ons dinge doen. Die Vader wil hê ons moet nuut oor uitdagings dink. Dikwels is die probleem egter dat ons nie gereed is om dinge nuut te doen nie. Dalk is ons te trots om te erken dat ons moet verander, en dalk het ons so baie hooi op die vurk dat ons nie plek het vir die nuwe dinge wat God vir ons in gedagte het nie.

Ons lees in Mattheus dat Jesus noem dat ons nie ‘n nuwe stuk lap op ‘n ou kleed sit nie, en ook nie nuwe wyn in ou sakke sit nie:

16En niemand sit 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom 'n erger skeur. 17'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.Mattheus 9:16-17

Die ou leersakke kan nie die nuwe wyn effektief hou nie. Dit is die ou, uitgediende manier hoe ons dinge doen. Wat dit vir ons leer is dat ons gereed moet wees om aanpassings te maak, en ons kapasiteit te vergroot. Wat leer ons hieruit? Ons moet baie vinnig verander, en nuwe sakke kry om die seëninge wat die Here vir ons in gedagte het te kan akkommodeer. En sy seëninge is baie meer as waarvoor ons aanvanklik begroot het. Ons moet toelaat dat dit wat nuut is, in ons lewe bygevoeg word.

Wat is die goed in jou lewe wat jy weet jou terughou? Identifiseer dit en raak daarvan ontslae. Wat is die manier van dinge doen wat jou sukses keer? Dalk is dit uitgediende metodiek wat jy steeds in jou besigheid toepas. As jy agter gekom het dat ‘n sekere metode nie die vorige jare gewerk het nie, gaan dit ook nie in die nuwe jaar werk nie. Dalk moet jy iemand met meer ervaring in hierdie area vertrou om met jou te gesels. Ek as die skrywer van hierdie stuk is in hierdie situasie. ‘n Boeta in die Here vir wie ek baie respek het, het aan my gewys dat ek my metode moet verander om aan te pas by veranderende omstandighede. Hierdie is nie 2022 nie. Dit is ‘n nuwe seisoen, ‘n tyd vir verandering, nie net in terme van wat die Here vir my wil doen nie, maar hoe ek dit gaan doen waarmee Hy my toevertrou.

Ek bly praat van ‘n nuwe seisoen. Wat beteken dit? Dit is die verandering wat die Here vir my en jou in gedagte het. Dink net hoe dit sou wees as daar net een seisoen was? Kom ons sê dit was net altyd somer. Dit klink baie lekker. Jy kan altyd swem, braai, en baie buite wees. Maar die tuin hou aan groei en die plante kry nie rus nie. Jou plante, bome, en grasperk het ‘n seisoen van rus nodig om te herstel. Die Here wil egter ons telkens op ‘n nuwe pad lei; ‘n nuwe seisoen gee. Kyk hierna:

18Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. 19Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis. – Jesaja 43:18-19

Kom ons neem dit stuk vir stuk:

  • Vergeet van dit wat verby is (die vorige dinge);
  • Moenie dink aan dit wat gebeur het wat dalk negatief was nie (die verliese in jou besigheid, of werk wat nie gerealiseer het nie);
  • God maak iets nuut in jou lewe wat sal groei soos ‘n nuwe groen loot (die loot word ‘n boom – maak gereed daarvoor deur jou grondgebied uit te brei sodat die boom kan groei);
  • Daar waar daar ‘n finansiële woestyn was, maak Hy ‘n pad deur; en
  • Daar waar jy gevoel het asof jy in ‘n droë wildernis was, gee Hy ‘n rivier.

Ek wil vir ‘n oomblik stilstaan by die idee van iets nuut. Ons lees in Openbaring 21:5 dat God alles nuut maak. In terme van Openbaring mag dit dalk in die toekoms klink, maar vir God is daar nie ‘n verlede, hede, en toekoms nie. Hy beweeg buite tyd maar stel in jou belang, in hierdie tyd waarin jy nou is. Hy is met jou – Immanuel, God met ons! Jesus, die Seun van God, is nou met jou. Hy het jou nog nooit verlaat nie, want Hy belowe dit in sy Woord: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie (Hebreërs 13:5).

Jou pad deur die woestyn is op ‘n einde, want God maak in jou iets nuut, en stuur jou op ‘n nuwe pad. Die wildernis waarin jy was, lewer skielik ‘n rivier op met water waarvan jy nooit geweet het nie. Loop op hierdie nuwe pad! Drink van die nuwe water!

Dit is nie toevallig dat ek vanoggend, in opvolg op sy daaglikse boodskap, ‘n nuwe stem boodskap van Ettienne gekry het nie. Hy vertel dat iemand met hom gedeel het dat die Here ‘n nuwe seisoen in sy lewe vir hom reg het. God se genade en geskenke aan ons het nie ‘n einde nie. Nog meer as dit, hulle is elke more nuut. Gister se barmhartighede is verby. Hy gee nuwes in die plek van gister:

22Get. Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; 23hulle is elke môre nuut; u trou is groot. – Klaagliedere 3:22-23

Opsomming

Jou nuwe seisoen het sopas begin en God is reg om jou uitermatig te seën. Jy moet egter reg wees daarvoor. Die eerste reën van die seisoen begin met 'n paar druppels, wat dan meer word totdat dit 'n reënbui is. Het die eerste druppels al vir jou begin val? Begin vandag nuut dink en tree soos Jabes op:

10En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat my geen smart tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het. – 1 Kronieke 4:10

Luister gerus na Ettienne Marais se treffende boodskappe hier: https://www.johnchapterthree.com/af/ritmiesmetettienne.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy