Psalm 23 vertel vir ons dat ons die herder moet volg en dan sal ons nie nie oorleef nie, maar floreer.

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 19 Januarie 2026

Psalm 23: Die Here is my herder

'n Paar gedagtes oor hierdie bekende psalm

Ek het onlangs die geleentheid gehad om Psalm 23 met ‘n groep mense te deel. Psalm 23 is een van daardie gedeeltes in die Bybel wat ons as kinders op laerskool moes memoriseer, dikwels sonder om enige idee te hê waaroor dit gaan. Niemand het vir my as ‘n agtjarige verduidelik wat “ontbreek” en “verkwik” beteken nie.

Baie jare later bevind en myself in ‘n land in die Midde Ooste, en alhoewel dit vêr weg is van Israel, is die topografie en klimaat dieselfde droeë, woestyn omgewing. Ek en my vrou het die volgende ervaring gehad: vroegoggend, oppad kantoor toe, trek ek die voertuig by die erf uit en sy maak die hek toe. Elke oggend was daar klein, wit blommetjies op die grond. Later die middag as ons by die huis kom, is hulle dood, of so het ons gedink. Die volgende oggend, die hitte van die vorige dag ten spyt, is die wit blommetjies weer daar. Ek het daar besef hoe die Here die natuur onderhou, selfs in hierdie ongenaakbare omgewing. My ervaring in dié deel van die wêreld het my meer oor die Bybel geleer as wat teologie skool en studie ooit kon doen. Kom ons kyk na ‘n paar aspekte rakende Dawid se Psalm 23.

  1. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Dawid was self ‘n skaapherder en hy het presies geweet hoe om na skape om te sien. Ek het daar in die vreemde dikwels die skaap herders dopgehou. Ek kon my nie voorstel hoedat daar moontlik iets kon wees om te wei nie. Tog was daar voldoende weiding. Ek het dit net nie raakgesien nie. Die plaaslike herders het egter die omgewing goed geken en geweet waar die weiding is. Dawid het vir sy skape gesorg, en verseker dat hulle voldoende voedsel het. Hy was die herder en die eienaar van die skape. Ek is bly om die Here se ou skapie genoem te kan word.
  2. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy neem sy skape na “groen weivelde”. Ons moet die psalm verstaan in konteks van die kultuur en geografie van die tyd. Dawid het sy skape laat wei in die bergagtige dele van Judea. Daar was nie groot oop groen velde soos ons dit in ‘n Westerse konteks ken nie. Hierdie weivelde was in die Negev woestyn in die suide van Israel. Daar was ook stil poele water in hierdie berge, nie vinnig-vloeiende riviere nie. Skape verkies dit om skoon, stil water te drink. Die berge in die land waar ek gebly het, het dieselfde gelyk. Ons idee van weivelde is groen lande met bome rondom waar die skapies lekker aan kan smul sonder om veel moeite te doen. Helaas, dit is nie die geval nie. Indien hierdie skape in so ‘n weiveld was, was daar geen rede vir ‘n herder nie. Psalm 23 gaan oor God se voldoende voorsiening wanneer dit lyk of daar niks is nie, deur Hom te volg.
  3. Die wind wat vanaf die Middellandse See gewaai het, het deur die berge gewaai en vog gebring wat teen die klippe afgeloop het. Die druppeltjies het dan ‘n klein nat stukkie gevorm waarin grassies begin gegroei het. Hierdie klein grassies was voldoende vir die skape. Soos wat die gras spruitjies geëet was, het die skape vorentoe beweeg, al agter die herder aan. Hy het dan gaan kyk waar die volgende weiding was. Intussen het daardie grasspruitjies weer uitgegroei – net die blare was afgewei, nie die wortels nie. God hou die siklus aan die gang.
  4. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Die herder was altyd kalm. Die skape het al langs die berg geloop, in verskillende rye in die trop, met die skaapwagter voor hulle. Hulle het die skaapwagter se stem geken (Joh 10:27). Hierdie aspek is baie belangrik. Verskillende troppe sou dikwels in dieselfde omgewing wei, sommer so deurmekaar. Wanneer die herder egter roep of fluit, herken elke skaap die stem van die herder en so is die kuddes vinnig weer by die regte herder. Hulle sal nie na die stem van ‘n ander herder luister nie.
  5. Die spore van geregtigheid is bekende paaie. Die herder sou dikwels die skape weer na dieselfde gebied terugbring en hulle het op dieselfde roetes gestap as voorheen. Die gras groei weer nadat dit afgewei is. Dit was dus moontlik om dieselfde gebied herhaaldelik te gebruik.

Wat beteken dit vir my?

  1. Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. Die skape was veilig. Dawid het leeus en bere doodgemaak, selfs was hy nie ‘n groot en formidabele man nie. Sien 1 Samuel 17:34. En ja, daar was werklik bruinbere in die area in daardie dae. Daar was ook meer woudagtige dele gewees as vandag, waar die bere gebly het, op soek na maklike prooi. Die goeie herder gee om vir die skape en hy plaas sy lewe op die spel vir hulle. Johannes 10:11-18 verduidelik dit mooi.
  2. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Wat beteken dit vir my en jou vandag? God is met my. Hy sorg vir my en maak my teëstanders jaloers. Herders het die beste weiding vir hulle eie skape gesoek. God soek ook net die beste vir my. Die probleem is egter dat ons Hom dikwels nie ten volle vertrou nie. As ek Hom vertrou, leef ek nie net nie; ek het oorvloed. Ek moet egter die herder volg sodat Hy my na plekke en geleenthede kan neem waar dit wat ek nodig het, beskikbaar is. Olie spreek van salwing en van God se goedkeuring en guns. Net soos Dawid later as koning met olie gesalf is, so salf die Here my en ek dra sy goedkeuring weg.
  3. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. Jesus Christus is die goeie herder. As ek Hom volg, leef ek vir ewig. Sien Johannes 10:11. Dit maak nie saak of doodsgevaar dreig nie. Hy is by my, nie net in die teenwoordige tyd nie, maar ook in die toekoms. Wanneer Dawid skryf “en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae” is dit ‘n vooruitsig van ‘n ewige lewe vir elkeen wie hulle vertroue in Hom plaas, wie na sy stem luister, en wie Hom volg.

Wat nou?

Wat is jou situasie vandag? Vir baie van ons is daar moontlik uitdagings wat soos ‘n berg voor ons lê. Dalk is dit ‘n finansiële uitdaging wat dreig om hande uit te ruk. Volg Hom. Daardie eerste geleentheid toe Jesus vir die eerste dissipels gesê het “Volg my,” was ‘n herinnering aan Psalm 23. Ons is geroep om die Goeie Herder te volg. As jy nog nie sy stem duidelik kon hoor nie, is dit dalk tyd om eers die geraas van die wêreld rondom jou uit te skakel. Die Heilige Gees gaan nie kompeteer vir jou aandag nie. Leer om na sy stem te luister en op Hom te fokus.

Lees volgende

Noudat jy Psalm 23 verstaan nooi ek jou uit om Eségiël 34 te gaan lees. Dit is ‘n les vir diegene wie nie werklik herders is nie. Dit is waarna Jesus in Johannes 10:8 verwys.

Ons het ook voorheen 'n ander artikel oor Psalm 23 geskryf, met 'n ander aanslag en besonderhede. [ Lees dit hier. ]


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy