Psalm 23:5 - Ons verlossing is lank terug reeds beplan.

Hulle kan kyk, maar hulle kan niks aan jou doen nie
Wanneer ons kyk na wat vandag dwarsdeur die wêreld gebeur, is een ding duidelik. Ten spyte daarvan dat dit soos ‘n cliché klink: die einde van die kerkbedeling, of die bedeling van genade, is baie naby. Die Bybel waarsku ons hieroor, en stel dit duidelik dat dít sal gebeur, maar in dieselfde tyd, het ons liefdevolle Vader reeds ‘n ontsnappings plan in plek gestel:
28En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. – Lukas 21:28
As jy ‘n fundamentalistiese gelowige is van die Woord van God, dan verstaan jy die implikasies van die teks hierbo. Maar eers... wat beteken die term “fundamentalis”?
In ooreenstemming met die tradisionele Christelike leringe rakende Bybelse interpretasie, die rol van Jesus in die Bybel, en die rol van die kerk in die samelewing, glo die fundamentaliste in die kern van die Christelike geloof, aan die historiese akkuraatheid van die Bybel, en al die gebeure wat aangeteken is in die Bybel, wat ook die tweede koms van Jesus Christus insluit.
Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat enige ware Christen gelowige enigiets anders as ‘n fundamentalis kan wees. Jy glo óf in die hele fundamentele waarheid van die Woord van God, óf jy moet dit agterlaat en jou eie pad gaan. Natuurlik, in die wêreld waarin ons leef, word die betekenis van die woord “fundamentalis” misbruik en verwater. Verwronge betekenisse word aan die woord toegedeel, daar mense beweer dat die fundamentaliste slegs daarop uit is om die ongelowiges en die wat in sonde leef, uit te sluit.
Gaan terug en gaan kyk wat is die hooftema van hierdie webwerf, Johannes Hoofstuk Drie – spesifiek verse 16 en 17. Hier kan jy duidelik sien dat ten spyte van God se liefde vir die mensdom en die volmaakte manier wat Hy daar gestel het om die mens met Homself te versoen, deur Jesus Christus, sal daar altyd twee groepe mense wees. Daar is diegene wat met God die Vader versoen is deur geloof in sy Seun, en daar is diegene wat nie wil nie deel wil hê aan die verlossing en saligheid nie. Jy is uitgesluit van die ewige lewe totdat jy die besluit maak om jou tot God te wend, gebaseer op God die Vader se voorvereistes. Eers dan, is jy ingesluit en word jy deel van hierdie eksklusiewe groep mense.
Dit is tyd vir die draadsitter Christelike gelowiges om standpunt in te neem, en op te staan vir die Woord van God:
16Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. – 2 Timotheüs 3:16-17
Jy kan dus nie self besluit hoe jy die Woord wil verstaan of interpreteer nie. Die Woord gee duidelike riglyne, soos gesien in die aangehaalde teksvers.
Gegewe die huidige wêreld situasie, is ons verplig om na die Bybel te gaan vir antwoorde. Jesus waarsku die dissipels om “op te kyk”, want dit is vanwaar Hy in die toekoms weer sal kom. Hierdie koms van die Here is nader as wat ons dink! Wat van God se boodskap vir sy kinders baie jare gelede? Het hulle ooit gelewe sonder die vrees van ‘n wêreldleier of wêreld stelsel wat hulle lewens bedreig?
Jy het seker ook al dikwels in die verlede dié Psalm gelees. Miskien het jy hierdie Psalm gelees voor jy selfs tot bekering gekom het, daar hierdie teks jare gelede in skole vir die kinders geleer is. Natuurlik, indien jy tans in die skool is, of oor die laaste 20 jaar op die skoolbanke gesit het, sal jy weet dat die “lees van die Bybel”, in skole verban is. Die rede: sodat ons nie “aanstoot gee vir diegene van ander godsdienste nie”. Baie van ons kan Psalm 23 kwoteer en woordeliks opsê, maar verstaan ons werklik die diepere betekenis van die gerusstellende boodskap wat hier gegee word? Laat ons dit nou lees.
Psalm 23
Dawid is die skrywer van hierdie Psalm.
1Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. – Psalm 23, 1953 Vertaling
Die fokus is op vers vyf:
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
Dawid het sekerlik sy deel van vyande gehad. Die psalm gaan oor Dawid wat God vra om hom te verlos van sy vyande en vervolgers. Dié geskiedenis word gevind in 1 Samuel 17:21 en 34; 1 Samuel 18:25; asook 2 Samuel 12:9. Dawid is ‘n toonbeeld van uiterste kalmte, ten spyte van die teenwoordigheid van die vyand. Wie is tans jou vyand? Wie bedreig tans jou lewe en jou bestaan? In die tyd waarin ons tans leef, 2020, hardloop die mensdom, leiers, en medici rond op soek na oplossings en antwoorde vir mediese toestand wat die wêreld lam lê. Daagliks word individue mislei en gevoer met leuens op die media, en deur wêreldleiers.
Jou vyande kan dus enige van die volgende wees:
- ‘n siekte wat reeds baie lewens geneem het
- ekonomiese ineenstorting as gevolg van hierdie siekte
- verlies aan inkomste as gevolg van die verswakte ekonomie – jou werksplek is bankrot of jy het jou werk verloor omdat jou pos oorbodig is
- verlies van eiendom en onafhanklikheid
- verlies aan sekuriteit weens die verlies aan inkomste
- verlies van vryheid van beweging, verlies van saamwees met vriende en familie, verlies van identiteit – die dra van ‘n masker steel jou identiteit
- dreigement gemaak deur owerhede vir die pleeg van sinnelose oortredings
- depressie as gevolg van bogenoemde redes
Eerstens, die psalmis sê dat die Here ‘n tafel, dus ‘n feesmaal, vir my voorberei. Wat beteken "die voorbereiding van ‘n tafel"? Gedurende die week is aandete in baie huishoudings, ‘n haastige en vinnige gebeurlikheid. Baie keer word aandete nie eers in die eetkamer bedien nie, maar sommer in die kombuis, of nog meer, voor die televisie. Met aandete word die elke dag se borde en eetgerei gebruik – niks uitspattig nie. Indien die voorbereiding van aandete te veel moeite is, word die wegneem ete "app" ingespan. Hierdie besige lewenstempo word deur baie as verskoning gebruik vir die gebrek aan kwaliteit tyd saam met jou mense.
Maar, hou jou ma dop wanneer sy voorbereidings tref vir ‘n spesiale ete of geleentheid. Sy beplan, sy koop, sy begin lank voor die tyd lysies maak vir wat aangekoop moet word. In die eetkamer word net die beste eetgerei en breekware uitgehaal, om op die keurige gedekte tafel te plaas. Jy kry die idee – Sondag etes en spesiale geleenthede is uithang geleenthede met baie voorbereiding.
Kom ons kyk hoe die Here vir ons ‘n “tafel voorberei”, soos gestel in Psalm 23:5:
...U berei die tafel voor my aangesig
U, die Here, berei ‘n tafel vir my! Verbeel jou dit vir ‘n oomblik. Ten spyte van al die miljoene gelowiges op die planeet wat op hierdie oomblik lewe, maak die Here spesiale reëlings vir my. Hy stuur nie vir my ‘n wegneem-ete nie. Hy laat my nie in die kombuis sit nie. Hy berei, met die uiterste sorg, ‘n tafel voor, asof ek ‘n belangrike genooide gas is. Dit gaan ook nie ‘n haastige en af gejaagde maaltyd wees nie, maar eerder ‘n geleentheid waar die gasheer en gaste kan ontspan, diep gesprekke kan voer en ‘n keurig voorbereide maaltyd kan geniet. Groot besluite is al rondom ‘n eettafel geneem.
Maar wag, daar is meer:
...teenoor my teëstanders
Wat het ons hier? Word ek uitgenooi na ‘n spesiale geleentheid en my teëstanders of vyande, gaan teenwoordig wees? Inderdaad. Dit kan moeilik wees om saam met jou vyande, in een vertrek, en om dieselfde tafel te sit, terwyl jy ‘n heerlike ete geniet. Daar moet iets baie belangrik opgesluit wees in hierdie teks. So is daar: terwyl ek net die beste ontvang, kan my vyande net toekyk – daar is vir hulle geen uitnodiging, geen ete, en geen deelname aan die feesmaal nie.
...U maak my hoof vet met olie
As jy die kultuur van die tyd en plek waarin die Bybel geskiedenis afspeel verstaan, en dié gebruike is inderdaad vandag steeds van toepassing in die Midde-Ooste en die omliggende lande, sal jy weet dat die salwing van die gas algemeen is. Die salwing hoef nie altyd gepaard te gaan met die gebruik van olies nie. Soms neem dit die vorm aan van parfuum wat aan die gas gegee word; soms is dit parfuum en aromatiese olies wat in die kamer gebrand word, waar die rook van die olie, of hout/wierook, dan oor die gas waai. Hierdie gebruik is ‘n teken van respek wat die gasheer teenoor die gaste bewys. Gaste moet dus vooraf ingelig word van die simboliek aangaande die gebruik. Ons Here salf my met olie. Hier is voorbeelde waar olie gebruik is vir salwing:
- In die Ou Testament
- Eksodus 25:6 – vir die meubels in die tabernakel
- Esther 2:12 – vir skoonheid doeleindes
- 1 Samuel 16 – vir die salwing van die toekomstige koning, Dawid
- Psalm 133:2 – vir die priesters. In hierdie verband, daar is geen beter voorbeeld as hierdie nie:
1Kyk, hoe goed en lieflik is dit dat broers ook saamwoon!
2Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die Here die seën die lewe tot in ewigheid! – Psalm 133:1-3
- In die Nuwe Testament
- Mattheüs 6:17 – gebruik as voorbereiding vir die vas
- Markus 6:13 – gebruik as ‘n genesing middel tydens siekte
- Mattheüs 25 - gebruik om lig te kry.
In die lig van hierdie voorbeelde, dink net vir ‘n oomblik hoe hoog die Here jou waarde skat, as Hy olie gebruik om ons te salf!
...my beker loop oor.
Hierdie is nog ‘n voorbeeld van hoe hoog die Vader ons waarde skat. Hy voorsien oorvloedig in my behoeftes – so oorvloedig dat my beker oorloop. My beker loop oor. Sien Jesus se eie woorde soos aangehaal in Johannes 10:10:
10Die dief kom net om te steel, en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. – Johannes 10:10
Jy kan hier meer lees oor God se oorvloed: https://www.gotquestions.org/my-cup-runneth-over.html.
Wat hierdie vers ons leer, is dat:
- Die Here gee om vir ons en ons is spesiaal vir Hom (U berei die tafel voor my aangesig);
- Die Here beskerm ons in tye van onrus, vervolging en verdrukking, en hy hou ons vyande weg van ons (teenoor my teëstanders);
- Die Here salf ons en behandel ons soos die priesters wat ons eendag sal wees (U maak my hoof vet met olie); en
- Die Here voorsien oorvloedig, meer as wat ons regtig nodig het. (my beker loop oor.)
In jou huidige omstandighede mag jy hierdie dinge miskien nie nou sien nie, maar wag en kyk hoe die Here, onse God, vir jou sal opstaan. Omstandighede gaan nog baie erger word, en mense gaan baie swaar kry – dinge wat moet gebeur, sodat Jesus kan kom om ons weg te neem uit hierdie chaos. Die Here ons God sorg vir ons. Ten spyte daarvan dat mens soms neerslagtig voel wanneer jy om jou rondkyk, verskaf die Here steeds ‘n maaltyd wat spesiaal vir ons voorberei is. Hy voldoen aan ons behoeftes. Die vyand kan net toekyk. Ja, die vyand kan, en waarskynlik gaan jou beroof van jou aardse en tydelike lewe, maar jou hemelse en permanente lewe is reeds verseël in Jesus Christus (Galasiërs 2:20), omdat Jesus vir ewig lewe. Hy het reeds alles in plek vir ons, sodat ons eendag as priesters kan regeer:
6Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en Christus wees, en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. – Openbaring 20:6
Hy voorsien oorvloedig in hierdie tyd – jy het sekerlik baie tyd beskikbaar gehad tydens die inperkings periodes, tyd wat jy aan Bybelstudie kon spandeer het. Maak tyd vir Bybelstudie.
Die Here se beskerming oor ons het nog nooit verander nie. Jou vyande kyk na jou met afguns, maar hulle kan jou nie te na kom of kwaad aandoen nie!
Ons het ook 'n ander artikel oor Psalm 23 beskikbaar, met 'n ander aanslag en besonderhede. [ Lees dit hier. ]