Johannes Hoofstuk Drie Vers Drie: Jy Moet weer gebore word

Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 7 Mei 2022

Johannes Hoofstuk Drie

Jy moet weer gebore word

Johannes se evangelie bevat die belangrikste elemente van ons redding. Hoofstuk Drie spreek meeste van hierdie elemente aan. Laat een aand besoek Nikodémus, ‘n geleerde Jood, Jesus privaat, ten einde meer te wete te kom oor sy sending. [ Meer inligting oor Nikodémus... ]

1En daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. – Johannes 3:1-2

Nikodémus sou teen hierdie tyd reeds gehoor het van die wonderwerke wat Jesus gedoen het. Dalk was hy self ‘n getuie daarvan. Jesus se reaksie op Nikodémus se stelling dui die gebrek aan insig aan wat hierdie geleerde man gehad het. Hy het dalk kennis van die Wet en die Ou Testament gehad, maar het ‘n gebrek aan insig en wysheid getoon.

Salomo, baie jare voor Nikodémus, het God gevra vir insig om die volk van sy tyd effektief te kon lei. God het hom meer as dit gegee:

Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?
En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.
En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ’n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor,
so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ’n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie. – 1 Konings 3:9-12

God het nie net aan Salomo ‘n opmerksame (verstandige, met kennis) hart gegee nie, om oor sy koninkryk te regeer, maar het hom ook wysheid gegee. Daar is ‘n verskil tussen kennis en wysheid. Kennis is om te weet dat ‘n tamatie ‘n vrug is en nie groente nie. Wysheid is om te weet dat jy nie ‘n tamatie in ‘n vrugteslaai kan gebruik nie. Wysheid is altyd van meer belang as blote kennis. Kennis beteken niks nie, as dit nie met wysheid aangewend kan word nie.

Soos wat Jesus in ander gevalle ook gedoen het, het hy nie bloot net Nikodémus geantwoord nie, maar dit versterk met ‘n dieper betekenis. Nikodémus vra Hom oor die tekens (wonderwerke):

2Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. – Johannes 3:2

Nikodémus ken die skrifte maar die wysheid om dit toe te pas ontbreek. Hy erken die krag van die wonderwerke en dat Jesus van God af kom, en dat God inderdaad met hom is. Let daarop dat Nikodémus nie ‘n vraag vra nie, maar ‘n stelling maak. Ons aanvaar gewoonlik dat ‘n vraag ‘n antwoord verg, maar nie ‘n stelling nie. Jesus antwoord egter sy stelling, aangesien Hy reeds geweet het waarheen die gesprek sou gaan.

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?
Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.
Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
Johannes 3:3-8

Die antwoord betrap Nikodémus onkant en hy vra dadelik hoe dit moontlik is. Geboorte is erg genoeg en hy probeer verstaan hoe onmoontlik dit is om weer in die moederskoot terug te gaan. Uit die aard van die saak is dit glad nie wat Jesus in gedagte gehad het nie. Jesus se antwoord wys hoe beperk Nikodémus se insig is. Dit is eintlik ‘n ernstige berisping:

Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?
Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?Johannes 3:9-10

Jesus verwag van iemand soos Nikodémus om die Skrifte te verstaan, wat die koms van die Messias voorspel het. Dit was egter die rol van die Messias wat Nikodémus nie verstaan het nie. Vir Israel was die Messias die Een wat sou kom om hulle van die juk van Romeinse oorheersing te red. Hulle het ‘n militêre leier verwag. Dit is egter duidelik dat dit nie gaan gebeur nie, altemit nie nou nie. Jesus het egter nie hierdie rol vir Homself in gedagte nie. Hy tref Nikodémus met nog ‘n verrassing: as jy nie weer gebore word nie, kan jy nie die koninkryk van God ingaan nie. Die Jode het altyd geglo dat die koninkryk van God hulle uitsluitlike beloning was en dat hulle niks anders moes doen om dit te bereik nie. Dat hulle nou nog iets anders moes doen, en daarby ‘n baie snaakse opdrag – om weer gebore te word – maak eenvoudig nie vir Nikodémus sin nie.

Die vleeslike mens (voordat wedergeboorte plaasgevind het) kan nie die koninkryk van God ingaan nie. Dit beteken dat in jou huidige toestand, beide fisies en geestelik, jy nooit in die hemel sal kom nie. Daar is twee redes voor:

  1. Die liggaam is basies verganklike vlees, as gevolg van die val van die mens. Hierdie liggaam kan nie die hemel ingaan nie (1 Korinthiërs 15:50). Die wedergeboorte van die mens maak daarvoor voorsiening dat die verganklike liggaam verander word in ‘n onverganklike liggaam (1 Korinthiërs 15:53);
  2. Die ongeredde mens se gees is nog nie nuut gemaak nie. Dit is nog nie op die Heilige Gees se standaard nie (1 Korinthiërs 2:12). Die ongeredde mens het nog die gees van die wêreld. Die wedergeboorte vervang hierdie gees met die Gees van God.

Die wedergeboorte

Wanneer Jesus noem dat jy weer gebore moet word, het Hy die volgende in gedagte, sommige waarvan alreeds deur Johannes in hoofstuk een vers 12 en 13 aangespreek is:

  1. Jou wedergeboorte is nie deur die bloed van ‘n man nie, maar deur Jesus Christus (Johannes 1:13).
  2. Jou wedergeboorte is nie deur die wil van ‘n man nie, maar deur die wil van God (Johannes 1:13).
  3. Jou wedergeboorte is nie ‘n opsie nie. Jy moet weer gebore word. Jou geestelike welstand is vir Jesus baie belangriker as om deur ‘n aardse vyand bedreig te word (Johannes 3:7).
  4. Jou eerste stap tot wedergeboorte is die inaseming van die Gees van God en eerder as gewone suurstof.
    • As ‘n pasgebore baba het jy jou eerste asemteug geneem ten einde suurstof in jou longe te kry om die res van jou liggaam te laat funksioneer.
    • As iemand wat deur die Gees herbore is, is jou eerste asemteug die Gees van God en Hy gee jou gees die lewe wat dit nodig het.

Kyk na die volgende:

7En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword. – Genesis 2:7

Die eerste mens, Adam, was nie gevorm in die baarmoeder van ‘n vrou nie en was nooit as ‘n baba gebore nie. Hy was dus nie in staat om ‘n eerste asemteug te neem nie. God self het die asem van lewe in Adam se neus geblaas en sodoende het hy ‘n lewende siel geword.

Neem ‘n oomblik om hierdie feit te deurdink. Stel jouself voor hoe dit moes wees dat jy deur God geskape te word uit die stof van die aarde en dat Hy lewe in jou sou blaas. Die wedergeboorte is dieselfde. Almal wie alreeds wedergebore is, of nog in die toekoms wedergebore sal wees, is dalk nou al lewend maar as gevolg van die sondeval van die mens, is almal sondaars. Die wedergeboorte laat God toe om deur die Gees Lewe in jou te blaas sodat jy as ‘n nuwe skepsel kan leef (2 Korinthiers 5:17). Die ou skepsel bestaan nie meer nie.

Jou wedergeboorte bring ‘n verandering van eienaarskap. As ‘n vleeslike, ongeredde persoon is jy onder die beheer van die duiwel (want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God sedert hulle geboorte – Romeine 3:23). Tydens die wedergeboorte neem die Gees van God plek in jou lewe in, en jou liggaam word nou ‘n tempel van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 6:19).

Die geestelike wedergeboorte van die mens is deur die eeue as sinneloos afgemaak, en die duiwel het seker gemaak dat mense eerder op iets anders as hulle geestelike lewe fokus. Sonder die wedergeboorte sal jy egter die koninkryk van God nie ingaan nie en is jy verdoem tot die ewige verwerping, weg van die aangesig van God af.

Hoe ervaar ek wedergeboorte?

As jy nog nie wedergebore is nie, moet dit nie langer uitstel nie. God wag vir jou om te erken dat jy nie sonder Jesus Christus kan leef nie. Wanneer jy dit erken, gee Hy aan jou die Lewe wat jy nodig het. Soos Jesus self gesê het: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. – Johannes 14:6

Hierdie webwerf gee die vier stappe wat nodig is vir jou redding en wedergeboorte – besef jou behoefte; draai weg van jou sonde af; vra Sy vergifnis; en ontvang sy vergifnis. Om vergewe te word vir jou sonde is so eenvoudig soos die sondaarsgebed. God is 'n liefdevolle vader en sy plan vir redding is eenvoudig. Doen dit vandag en jou naam verskyn in die Boek van die Lewe.

Lees in PDF formaat


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy