Openbaring 10 en 11: Die boekie en die twee getuies

In Openbaring 6 tot 9 lees ons van die sewe seëls en die sewe basuine. Elkeen van hierdie seëls en basuine is God se wraak oor die ongelowige mensdom en elkeen is progressief erger as die vorige een. Hierdie seëls en basuine dek al die gebeure tot in Openbaring 19. Ons lees aan die einde van hoofstuk 9 dat ten spyte van al die chaos en verwoesting, mense hulle nog steeds nie bekeer nie (vers 20, 21) en eerder erger optree deur te moor, towerye (valse godsdienste.) te bedryf, te hoereer (seksuele misdrywe), en te steel (My reg om jou goed te vat tel meer as jou reg om jou eiendom te beskerm.). Teen hierdie tyd is meer as 50% van die mensdom uitgewis. Wat volg is ‘n onderbreking van God se oordeel oor die mensdom en Johannes sien verskeie visioene vanaf hoofstuk 10 tot 13.
Iets wat Johannes sien maar nie mag opteken nie
Openbaring 10 stel ons voor aan ‘n ander engel (maar een van dieselfde soort), nie een van die voriges nie, wat duidelik baie magtig is as ons kyk hoe hy beskryf word. Die engel het mag oor die see en die land. Ons sien dit in verse 1 tot 3. Johannes hoor die stemme van sewe donderslae en hy is gereed om dit op te teken. Die donderslae verteenwoordig God se stem, soos Dawid dit in Psalm 29 beskryf. Die engel maan hom om nie op te skryf wat hy hoor nie. Hy teken egter aan dat die engel noem dat daar geen tyd meer vir redding sal wees nie.
Die boekie wat Johannes moet eet
Die engel gee vir Johannes ‘n boekie om te eet (vers 2 en 9; sien ook Esegiël 3:3 en Psalm 119:103). Ons ken die uitdrukking “bittersoet”. Dit is soet in sy mond maar in sy maag word dit bitter. Dit verwys na die feit dat daar hoop vir die mensdom is indienhulle bekeer. Die Woord van God is dikwels bitter vir ons omdat dit ons sonde en tekortkominge aanspreek, maar ook soet indien ons volgens sy wil leef. Vers 11 dui aan dat Johannes hierdie boodskap aan baie volke, nasies, en leiers moet verkondig.
Die twee getuies
Openbaring 11 verskuif die fokus na ‘n ander visioen, die twee getuies. Eers moet Johannes die tempel opmeet. Ons weet egter dat die tempel reeds in 70 nC verwoes is. Die tempel waarna hier verwys word, kan dus net die nuwe tempel wees wat op die datum van hierdie skrywe nog nie gebou is nie, maar wat volgens Daniël 9:27 en 2 Thessalonicense 2:4 wel gaan bestaan. Wat egter in hierdie gedeelte uitstaan is dat Jerusalem gedurende die groot verdrukking vir 42 maande vertrap sal word. Twee en veertig maande is 1260 dae, of 3½ jaar, die getal wat ons vroeër in ons studie van Daniël 9 gesien het. Hierdie is die tweede helfte van die verdrukking. Sien Dan 9:27 – “gedurende die helfte...”
Twee getuies sal gedurende die eerste helfte van die verdrukking op aarde wees. Hierdie is twee spesifieke persone wie God alreeds uitgekies het omdat hulle so beskryf word: “En ek sal aan my twee getuies gee dat hulle... profeteer...”. Hulle gaan ‘n boodskap van bekering verkondig. Ten spyte van die mens se ongeloof en verharding, gee God in sy genade nog steeds die geleentheid vir bekering. Ongelukkig gaan min hiervan gebruik maak. Hulle is met sakke bekleed – hulle klere is belangrik, omdat hulle uit die verlede is, maar in die toekoms optree. Dit gaan baie snaaks vir mense lyk. Hulle het mag oor mense en oor reën. Die vraag is egter wie hierdie twee getuies is.
Daar is baie bespiegeling oor wie hierdie twee getuies kan wees. Die algemeen aanvaarde siening is dat dit Moses en Elia kan wees, vir die rede dat hulle in Maleagi 4:4-5 geïdentifiseer word. Ons lees weer van hulle in Matthéüs 17 waar hulle op die berg verskyn en ‘n klein groepie dissipels hulle sien. Dit is interessant dat Petrus, wie die twee persone nog nooit gesien het nie, hulle herken as Moses en Elia. ‘n Ander rede kan die krag en tyd wees waarmee en waarin hulle optree. Sien 1 Konings 18. Elia het gebid en dit het vir 3½ jaar nie gereën nie. Dit is nie sonder rede dat hierdie spesifieke tyd gebruik word nie. Jakobus bevestig hierdie feit in Jakobus 5:17. Elia het dus die mag om reën te weerhou, soos ons in Openbaring 11:6 sien. Moses as een van die twee getuies het dieselfde mag. Een van die ander gebeurtenisse is dat water in bloed verander, en dit is waar die saak vir Moses as een van die twee getuies versterk. Hy het sy staf opgelig en die Nylrivier se water het in bloed verander. Sien Ex 7:19.
Die twee getuies se bediening kom tot ‘n einde wanneer die Antichris hulle doodmaak (Opg 11:7). Hulle lyke lê vir 3½ dae op straat in Jerusalem waar hulle doodgemaak is. Die mense is bly dat hulle dood is (vers 10). Dan blaas God weer lewe in hulle en die mense rondom hulle word bang. Die mense hoor ‘n stem uit die hemel en die twee getuies word lewendig in die hemel opgeneem. Ons tegnologie maak dit heel eenvoudig vir almal rondom die wêreld om hierdie geleentheid te sien. In dieselfde uur is daar ‘n groot aardbewing. Een tiende van Jerusalem word verwoes, 7000 mense word gedood, en sommige kom tot bekering en loof God vir dit wat gebeur het (vers 13).
Die sewende basuin
Die sesde basuin was in Opg 9:13. In Opg 11:15 word die sewende basuin geblaas. Stemme uit die hemel kondig aan dat Jesus Christus beheer oor die koninkryke van die aarde oorneem. Ons sien weer ‘n beeld van aanbidding in die hemel. Die fokus van die sewende basuin is dat Jesus Christus ‘n outokratiese (alleen heerser) teokratiese (God gedrewe) regeerder sal wees. Menslike regering (demokrasie) het nog nooit gewerk nie en alhoewel God die mens die geleentheid gegee het om self te regeer, het alle regerings misluk. Jesus Christus sal vir 1000 jaar regeer (Opg 20:4, tesame met die profesieë van veral Jesaja: 2:1ev; 11:1-10; 32:13-15; 42:1; en 65:17-25). Uit die aard van die saak is die nasies nie bly om hierdie nuus te hoor nie. Hulle is vertoornd (vers 18) omdat hulle die Antichris volg en besef dat sy tyd verby is, en daarmee saam ook hulle losbandige lewens.
Wat leer ons uit hierdie twee hoofstukke?
Bittersoet
Die Woord is bitter omdat dit ons gevalle toestand en toekoms so duidelik uitwys. Dit is egter soet wanneer ons die Waarheid (Joh 14:6) van die Woord, God se wil vir ons, op ons lewens toepas.
Die kans op bekering is altyd daar
God gee steeds aan die mens die geleentheid tot bekering, selfs gedurende die verdrukking. Ten spyte van al die chaos stuur Hy 144 000 getuies (Opg 7) om die evangelie te verkondig, en die twee getuies om dieselfde te doen en te profeteer oor die komende oordeel (Opg 11:3). Daar sal mense wees wie die boodskap ter harte neem (Opg 11:13 – “heerlikheid toebring”) en tot bekering kom, maar die meerderheid word kwaad oor die boodskap van verlossing (Opg 11:18 – “vertoornd”). Dink hoe negatief mense vandag oor die evangelie is, en dit terwyl dit nog goed gaan met die mensdom. Daar kom egter ‘n einde aan die gemaklike lewe en dit is nader as wat ons dink. Die mens kies egter self wie hy as heerser wil hê maar kry daarmee saam ook dit wat hierdie heerser bied.
[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]