Openbaring 6 tot 9: Sewe seëls en sewe basuine

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 30 Augustus 2024

Openbaring 6 tot 9: Sewe seëls en sewe basuine

In hoofstuk 5 sien Johannes hoedat die boek deur die Vader aan Jesus Christus gegee word, die enigste Een wie waardig is om die boek te neem en sy seëls te breek. Wat in hoofstukke 6 tot 9 volg, is die breek van elke seël en ‘n verduideliking van wat die seël verteenwoordig. Die volgorde is hoofsaaklik chronologies, alhoewel daar moontlik areas van oorvleueling kan wees. Wat hier verduidelik word is hoofsaaklik waaroor groot gedeeltes van Openbaring gaan. Johannes sien die gebeure as ‘n voorskou van gebeure wat hy later in meer besonderhede sien.

Die eerste seël – die wit perd

In Openbaring 6:2 sien Johannes ‘n wit perd, en ons het sommer dadelik ‘n voorbeeld van die misleiding waarvan Jesus in Matthéüs 24 gepraat het. Hierdie wit perd en die persoon wie daarop sit, is die Antichris, wat aan die begin van die verdrukking op die toneel verskyn, onder die vaandel van vrede (Matthéüs 24:5). Islam glo dat hierdie persoon, die Mahdi, Jesus Christus is, maar ons weet hulle is verkeerd en word mislei. Jesus verskyn ook op ‘n wit perd, maar eers in Openbaring 19:11. Die Antichris mislei diegene wie op die aarde is. Hy het ‘n boog, maar ons sien nie die pyle nie. ‘n Boog en pyle gaan altyd saam en ‘n boog sonder pyle beteken niks nie. Daar moet ‘n verskuilde agenda wees en oorlog moet volg. ‘n Kroon is aan hom gegee, en hy het dus toestemming om op te tree. Hy gaan uit as ‘n oorwinnaar (weer misleiding) en om te oorwin.

Die tweede seël – die rooi perd

Die tweede seël toon ‘n rooi perd aan, in Openbaring 6:4. Kyk mooi wat hier gebeur. Rooi is ‘n teken van oorlog en bloedvergieting. Daar is nie meer vrede op aarde nie en mense maak mekaar dood. Die ruiter op die eerste perd bring ‘n skynvrede wat nooit bedoel was om volhoubaar te wees nie. Dit is bloot misleiding. Hierdie ruiter het ‘n swaard, waar die vorige ruiter, eintlik dieselfde een, net ‘n boog gehad het. Sy aanvanklike verskuilde agenda van vrede realiseer nou in oorlog. Kyk mooi hoedat Paulus ons alreeds gewaarsku het oor hierdie ruiter. Lees 2 Thessalonicense 5:3. “Vrede en veiligheid” word vandag alreeds wyd verkondig. Paulus noem dat wanneer hulle dit sê, hulle einde naby is.

Die derde seël – die swart perd

Johannes sien die derde perd, ‘n swart een, in Openbaring 6:5. Die ruiter het ‘n skaal in sy hand. ‘n Skaal verteenwoordig ekonomiese aktiwiteit, en weeg twee items teen mekaar op. Baie duidelik dui hierdie gedeelte op grootskaalse hongersnood. Jesus verwys hierna in Matthéüs 24:7. Let daarop dat hierdie maar nog net die begin van die smarte is. Die opdrag wat die stem aan die ruiter gee is om basiese kossoorte soos koring en gars gerantsoeneer word, maar olie en wyn, meesal duurder items, word nie geraak nie.

Die vierde seël – die vaal perd

Openbaring 6:7 toon die oopmaak van die vierde seël. ‘n Vaal (OV, 1953; KJV, NIV – “pale”) perd verskyn op die toneel. Sommige vertalings (NV, 1983) verwys daarna as ‘n groen perd, as gevolg van die Griekse woord chloros wat gebruik word. Hierdie is egter nie die groen van lewe nie, maar die kleur wat die dood aandui (misleiding). Die naam van die ruiter is die dood, en die doderyk volg hom. Dit dui duidelik op baie mense wie doodgemaak (gaan) word, wat ons later sal sien. Mense word doodgemaak deur oorlog (swaard), hongersnood, pes, en deur wilde diere. Hierdie is baie interessant. Jesus praat in Mattheüs 24:7 van peste en hongersnood, en dat mense doodgemaak word. Hier is ‘n vierde een – mense word deur wilde diere doodgemaak.

Die vyfde seël – die siele onder die altaar

Die vyfde seël is ietwat anders as die eerste vier. Openbaring 6:9 dui aan dat Johannes “onder die altaar” (in die hemel) die siele van mense wie gesterf het ter wille van die evangelie (die Woord van God en hulle getuienis). Hulle roep uit om vergelding, in vers 10. Hulle dra wit klere (reinheid), en die antwoord kom oor hulle eis om vergelding – daar moet nog ander mense ook doodgemaak word, waarskynlik mense wie tydens die verdrukking tot redding kom maar nog steeds vir hulle geloof sterf.

Die sesde seël – ‘n groot aardbewing

Openbaring 6:12 is amper onbeskryflik. Die sesde seël meld ‘n groot aardbewing. Die son word swart soos ‘n harige sak en die maan word soos bloed. Die voorkoms van die son en die maan kan die gevolg wees van die aardbewing, wat kan lei tot vulkaniese aktiwiteit. Dink aan 2010 in Ysland toe die vulkaniese uitbarsting daar plaasgevind het. Die lug was vir weke lank donker van die as, en dit het sonlig gedeeltelik weggehou. Die sterre van die hemel wat op die aarde val kan verwys na asteroïdes wat die aarde tref (asteroïdes wat die atmosfeer indring en die aarde tref word meteoriete genoem).

Daar is groot veranderinge in die voorkoms van die aarde. Berge en eilande is uit hulle plekke versit. Dit is maklik om hierdie te kan sien as die gevolg van die aardbewing. ‘n Groot aardbewing kan tsunami’s veroorsaak wat laagliggende eilande heeltemal kan oorstroom. Ons sien alreeds hoe baie Suidsee eilande in die Stille Oseaan begin oorspoel en verdwyn as gevolg van hoër see vlakke. Waar ons ‘n paar dekades gelede nog ‘n aardbewing met ‘n 6 telling op die Richterskaal as erg ervaar het, is dit vandag so algemeen dat dit nie eers meer nuuswaardig is nie. Die trauma van hierdie gebeure veroorsaak dat mense daarvoor wil wegkruip. Sien vers 15. Hulle besef dat dit wat gebeur, die gevolg van God se wraak op die aarde is maar tog bekeer hulle nie.

Die sesde seël word voortgesit deur ‘n beskrywing van die beskadiging van die aarde (Openbaring 7:1-3) en dan die beskrywing van die 144 000 verseëldes, mense uit Israel wie gered word en die evangelie moet verkondig. Sien Openbaring 14:1. Daarna sien Johannes mense in die hemel en die aanbidding wat plaasvind. Baie van die gebeure op aarde is soortgelyk aan dit wat die Egiptenare getref het voor Israel se uittog. Net soos destyds nét die Egiptenare getref is, net so weet God wie gedurende die verdrukking gered word, en hulle word te midde van groot katastrofes beskerm.

Tussen die sesde en sewende seël

Hoofstuk sewe is ‘n beskrywing van gebeure tussen die sesde en sewende seël. Eers het ons die beskrywing van die vier engele wat die vier winde van die aarde moet vashou. Ons weet nie of dit letterlik bedoel word nie. As dit wel letterlik is, dink aan die impak van ‘n windlose planeet, selfs net vir ‘n kort periode.

Hierna het ons die beskrywing van die 144 000 verseëldes uit Israel. Hierdie is nie Jehova Getuies nie. Let daarop dat van die 12 stamme wat Jakob se 12 seuns verteenwoordig, Levi (die priesterlike stam is dikwels apart van die ander stamme gereken as gevolg van hulle priesterlike amp maar is nou ingesluit) en Josef is ingesluit, maar Dan en Efraim, een van Josef se seuns, is uitgelaat. Sien Génesis 49:17 oor die negatiewe seën wat oor Dan uitgespreek is. Dit is belangrik om te weet dat vandag daar min Jode in Israel is wie presies weet uit watter stam hulle kom.

Die derde aspek wat nou verduidelik word is die gesig van die martelare in die hemel. Hierdie is mense wie uit die verdrukking kom (Opg 7:14) en hulle is dus gedurende die verdrukking gered, en gedood.

Die sewende seël – sewe engele en sewe basuine

Die sewende seël, in Openbaring 8:1, maak eers melding van ‘n stilte in die hemel vir omtrent 30 minute. Voor dit was die hemel ‘n toneel van klank – donderslae (Opg 4:5; 6:1); en aanbidding (Opg 4:8,11; 5:8,11,14; en 7:10). Nou is daar skielik stilte, iets wat ongewoon in die hemel is. Ons kan spekuleer, maar ek reken dat God in stilte sit en dink oor wat nou gaan volg, ‘n erger oordeel oor die ongelowiges wie nie wil bekeer nie, mense wie Hy liefhet net soveel as vir my en jou as gereddes.

Die sewende seël is die begin van die sewe spesifieke engele se take (Let op die bepaalde lidwoord in vers 2.), elkeen met ‘n basuin. Elke keer as een engel sy basuin blaas, gebeur iets verskriklik. Hierdie basuine kom voor vanaf Opg 8:7 tot 11:15. Let daarop dat ons nie die engele moet verwar nie. Die engele wie die basuine blaas, is God se boodskappers in die hemel. Daar word egter ook van ander engele gepraat, maar hulle is demoniese magte op die aarde.

  1. Hael (Eks 8:22-26; 9:13) en vuur met bloed gemeng (Opg 8:7). ‘n Derde van die bome, en al die groen gras verbrand. Dink aan die effek daarvan. Kos wat alreeds skaars is, word minder, omdat vee wat die groen gras moet eet, van honger gaan vrek. Hongersnood vererger.
  2. ‘n Meteoriet tref die see, en dit word soos bloed. Sien Eks 7:14ev. Een derde van al die seelewe sterf. Dink aan die gevolge. ‘n Derde van die skepe sink. Sien Opg 8:9.
  3. ‘n Derde engel blaas sy basuin, en ‘n meteoriet tref die aarde, en een derde van die riviere en fonteine word getref. Sien Opg 8:10-11. Oorloë gaan woed oor die toegang tot vars water. Dink aan Ethiopië en Egipte. Die naam van die ster is Alsem (bitter), in Engels Wormwood (‘n bitter krui, “absinthe”, wat giftig kan wees). Baie mense sterf van die giftige water. Hierdie is moontlik ‘n verwysing na ‘n kern aanval. Dink aan 25 April 1986 in Chernobyl, Oekraïne. In Oekraïnies beteken “Wormwood”, Chernobyl! Dalk is dit ‘n voorbeeld van dit wat nog kan gebeur.
  4. Die vierde engel blaas sy basuin en een derde van die son, maan, en sterre word getref. Sien Opg 8:12-13. Dit word donker. Waar daar nie lig is nie, gaan dit moontlik kouer word, en plantlewe gaan geaffekteer word, wat weer voedsel tekorte tot gevolg het. Dink aan flieks soos Bladerunner en ander “sci-fi” flieks. Die aksie in meestal in die donker en almal van hulle speel af teen ‘n apokaliptiese siening van ‘n toekomstige wêreld van rampe en ellende, sonder God.

‘n Engel vlieg deur die hemel en waarsku die aardbewoners oor die drie oordele wat nog moet volg!

  1. Die vyfde engel blaas en ons sien weer ‘n ster wat uit die hemel val, Opg 9:1-12. Die ster hier is waarskynlik ‘n engel, en hy het ‘n sleutel om ‘n put in die aarde oop te maak. Uit hierdie put kom demoniese magte (“sprinkane”). Sien Eksodus 10 (die tien plae) en Rigters 6:5 vir ander voorbeelde waar die vyand as sprinkane uitgebeeld word. Hulle val mense aan wie nie die seël van God op hulle hoofde het nie, vers 4. (Daar sal mense tot bekering kom gedurende die verdrukking, waaronder baie Israeliete, en God identifiseer hulle sodat hulle beskerm kan word, veral die 144 000.) Kyk wat is die gevolg van die demoniese magte:
  2. Mense word nie doodgemaak nie, maar gepynig om hulle lyding uit te rek (Opg 9:5);
  3. Mense soek die dood, maar dit gebeur nie, vers 6. Dink daaraan: mense probeer selfmoord pleeg en dit werk nie; en
  4. Die voorkoms van hierdie demoniese magte (sprinkane) is verskriklik, in vers 7-10. Ons moet verstaan dat Johannes omtrent 2000 jaar in die toekoms in gesien het. Sy eerste eeuse waarnemings sou egter nie die woordeskat gehad het om aspekte wat 2000 jaar later sou realiseer, te verduidelik nie. Hoe beskryf jy ‘n helikopter soos ‘n Apache of ‘n Rooivalk, of ‘n oorlogstenk as jy in die eerste eeu geleef het? Sprinkane se beweging met hulle vlerke wat in die son glinster is die naaste aan hoe Johannes dit later sou beskryf. Hoe beskryf hy ‘n moontlike kernaanval? Hy sien dit as ‘n ster.
  5. Die sesde basuin word geblaas en ons sien hoe (die) vier engele (demone) losgemaak word wat by die Eufraat rivier is, Opg 9:13. Een derde van die mense word doodgemaak! ‘n Leer van 200 miljoen soldate word op die been gebring, en baie mense het gesterf sonder dat hulle bekeer het. Ook diegene wie nie gesterf het nie, het hulle nie bekeer nie (vers 20-21). Kyk hoe die leërmagte beskryf word. Hierdie is weer ‘n voorbeeld van eerste eeuse begrip om 21ste eeuse wapentuig te beskryf. Ons lees meer van hierdie groot mag later in die boek.
  6. Die sewende basuin blaas in Openbaring 11:15. Ons bespreek dit nou sodat ons die volledige beeld het van die sewe seëls en die sewe basuine. Johannes sien weer gebeure in die hemel. Stemme in die hemel getuig van Jesus Christus wat sal regeer, vers 15-17 en Opg 19:15.

Opsomming

God gee aan almal wat vandag leef, die geleentheid om nie te ly onder dit wat nog kom nie. Hoe tragies is dit nie, dat mense hulle rug op die Goeie Nuus draai. Openbaring dui presies aan wat met diegene gaan gebeur wie hulle nie bekeer nie. Hulle sal moet boet vir hulle keuse. My vraag is nog steeds waarom hierdie belangrike lering, soos Openbaring dit beskryf, nie meer in gemeentes geleer word nie. Dalk wil baie mense eenvoudig die komende oordeel wegredeneer, en hulleself in die proses probeer vrywaar. Wat is my en jou uitdaging en die les wat ons sover moet leer?

  • Die uitvoering van die Groot Opdrag: Dalk het jy ‘n gesinslid, familielid, vriend, kollega, of kennis wie nog nooit die Goeie Nuus gehoor het nie, dink hulle saak is reg, maar gaan dit moet deurgaan wat ons sover geleer het (Matthéüs 28:19-20). Ons moet hulle op die regte pad kry. Mense gaan verlore, maar Johannes 3:16 ons leer dat dié wat in Hom glo, nie verlore gaan nie.
  • God se hele geopenbaarde Woord is vir ons bedoel. Leer soveel as moontlik van die Woord dat jy valse lering oor die Woord onmiddellik kan herken en regstel (2 Timótheüs 3:16).
  • Dankbaarheid vir ons redding: As ons lees wat met mense gaan gebeur, en ons besef ons is gevrywaar hiervan, is dit rede om meer as ooit dankbaar te wees vir die ewige lewe wat ons in Jesus Christus het (Kolossense 1:12-14).

[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy