Openbaring 17 tot 19: Die val van Babilon: Die godsdienstige en ekonomiese stelsels

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 27 September 2024

Openbaring 17 tot 19: Die val van Babilon: Die godsdienstige en ekonomiese stelsels

Terugblik op Openbaring 14 tot 16

In Openbaring 14 tot 16 sien ons hoe Johannes se fokus na die hemel verskuif in wat as ‘n parentese (tussenvoegsel) beskou word. Hy sien Jesus Christus as die Lam, en die 144 000 verseëldes in die hemel. Daarna sien hy hoe ‘n engel deur die lug vlieg om die evangelie te verkondig, in ‘n laaste poging van God om ongelowiges te bereik. Die graan- en wynoes is nie om iets positief te oes, soos ons sou verwag nie, maar is die insameling van ongelowiges vir die oordeel. Daarna verskuif die fokus terug na die aarde. Johannes sien hoe die laaste sewe skale op die aarde uitgegooi word, waarmee God se wraak op die mensdom voltooi is. Wat Johannes volgende sien, is die vernietiging van die Antichris se twee stelsels om die mensdom te beheer, manipuleer, en mislei: godsdiens en die ekonomie.

Openbaring 17 en 18, asook die eerste gedeelte van hoofstuk 19, verduidelik Babilon, eers as die demoniese wêreld godsdiens wat tot ‘n val kom (hoofstuk 17) en daarna as die Antichris se wêreld ekonomie wat tot ‘n val kom (hoofstuk 18), in voorbereiding op die koms van Jesus Christus om beheer oor die wêreld te neem. Ons sien hier dat die beskrywing van die gebeure in Openbaring nie altyd chronologies is nie. Hoofstukke 17 en 18 dek groot gedeeltes van die boek: verlede, hede, en toekoms.

Openbaring 17

Die naam Babilon as ‘n stad word in die Bybel naas Jerusalem die tweede meeste keer gebruik. Daar is meer as 300 verwysings in die Bybel na Babilon. Openbaring bestaan uit 404 verse, en 42 daarvan handel oor Babilon. Ons lees in Génesis 11 hoe die toring gebou was. Dit het nooit oor God gegaan nie, maar oor die mens. Kyk maar hoeveel keer die woord “ons” gebruik is. Bestudeer dit gerus.

In Openbaring 17 en 18 verteenwoordig Babilon nie net die stad nie, maar ook die stelsel. Dit is nie altyd duidelik wanneer Johannes na die stad of die stelsel verwys nie. Daar is egter meer rede om Babilon eerder as ‘n stelsel as ‘n stad te sien. In wese verteenwoordig Babilon rebellie teen God op godsdienstige en ekonomiese terrein. Hierdie is egter nie volhoubaar nie en ons lees in vers 1 dat Babilon alreeds veroordeel is. Die waters verwys na nasies. Sien vers 1 en 15, wat na mekaar verwys.

Vers 2 verwys daarna dat die konings (regeerders) met Babilon gehoereer het. Hulle het die godsdiens stelsel vir hulle eie doeleindes misbruik. As ons die woord “hoerery” in sy strengste betekenis wil gebruik, kom dit op misbruik neer, tot voordeel van een en tot nadeel van die ander. Weereens is die fokus op misleiding. In vers 3 lees ons dat die vrou (die godsdienstige stelsel) op die rug van die dier gesit het. Dit beteken eenvoudig dat vir ‘n periode die vrou in beheer was, of so het sy gedink. Die Satan misbruik die vals godsdiens stelsel, en laat haar toe, sodat die Antichris beheer kan uitoefen en die Satan sy doel vir wêreld oorheersing kan bereik. Wanneer hy hierin geslaag het, is sy geskiedenis.

Kyk na die klere en kleure van vers 4. Dit gaan alles oor mag en geld. Die vals godsdiens stelsel stel nie in jou redding belang nie en beskerm net sy eie belange. Ons sien dit alreeds in ons tyd. Baie leraars kan hierdie as ‘n wekroep gebruik om te verstaan dat hulle posisie in die bediening as deel van die groter kerk daaroor gaan om mense geestelik te bereik, te bearbei, en te voed; nie om hulself te verryk (Openbaring 3:17) nie, en dit nogal in die tyd wat die gemeente hulle salaris betaal. Dit wat hierdie stelsel doen, is nie vir God aanvaarbaar nie. Alhoewel hierdie beskrywing na die Rooms Katolieke kerk kan verwys, gaan die vals godsdiens stelsel veel groter wees as die Roomse kerk. Dit kan egter moontlik ‘n voorloper hiervan wees. Daar is ‘n teorie dat Babilon as godsdiens stelsel die Rooms Katolieke kerk is wat vanuit Rome regeer, omdat Rome op sewe heuwels gebou is. Heuwels en berge (vers 9) is egter nie dieselfde nie. Die tragedie is dat meeste kerke vandag vêr afgedwaal het van wat die kerk behoort te wees. Die afval begin immers in die kerk, vanuit die kerk. Dit is waarom jy so versigtig moet wees waarvoor jy jou ore uitleen. Toets die leraars (1 Joh 4:1) se prediking deur die Woord as die maatstaf te gebruik. Dit impliseer egter dat jy die Woord kén. As jy nie die Waarheid (Joh 14:6) ken nie, gaan jy nie die leuen herken nie.

Hierdie vals kerk gaan poog om gedurende die verdrukking diegene wie tot bekering kom, te vermoor. Sien vers 6. Die engel verduidelik aan Johannes wie en wat die vrou en die dier is. Die sewe berge is nie noodwendig letterlik nie, maar eerder regerings. Ons moet dit verstaan in konteks van die tyd waarin Johannes geleef het. Vyf konings het geval – die ryke van Egipte, Assirië, Babilonië, die Medo-Perse, en Griekeland (verlede). Een koning is – die Romeinse Ryk van Johannes se tyd (teenwoordige tyd). Een het nog nie gekom nie – die Antichris se ryk (toekomstige tyd relatief tot Johannes se tyd).

Wanneer die Antichris regeer, gee hy die tien konings tyd om saam met hom te regeer, maar net vir ‘n kort periode (een uur) voordat hy totale beheer oorneem. Die tien konings word mislei om self hulle mag aan die dier oor te gee. Hulle voer oorlog teen die Lam, maar Hy oorwin hulle (Opg 19:11 ev.). Ons lees in vers 15 dat die waters die nasies verteenwoordig wie deur die hoer beheer word, maar dat die tien konings teen die vrou draai en haar vernietig. Dit is nou waar die gebeure wat Daniël gesien het, realiseer: die Antichris sit in die tempel en verklaar dat hy alleen God is (Dan 9:27; Matt 24:15; en 2 Thess 2:4). Die Satan maak hier ‘n einde aan godsdiens as ‘n stelsel. Ons sien dat te midde van al hierdie gebeure God dit so beplan het. Hy alleen is die outeur van die geskiedenis van die wêreld maar Hy laat toe dat ongeregtigheid plaasvind, sodat geregtigheid daaruit sal voorkom.

Openbaring 18

In Openbaring 18 word Babilon as ‘n globale ekonomiese stelsel beskryf wat tot ‘n val kom. Vers 3 vertel van die lewe van weelde wat mense gehad het maar soos die engel aankondig, is dit van korte duur en stort die stelsel in duie. Die nasies het ryk geword maar dit was al die tyd die plan van die Antichris om hulle te mislei en tot ‘n val te bring sodat hy hulle kan beheer. Hierdie mense sou nooit ag geslaan het op Jesus se woorde in Matthéüs 16:26 nie. Hulle het hulle siele verkoop vir die genot van die rykdom wat hulle bekom het, en nou is hierdie rykdom van hulle weggeneem.

Omdat hierdie gebeure op die aarde afspeel tydens die groot verdrukking, waarsku God sy volk Israel om niks met die stelsel te doen te hê nie (vers 4). Die vraag aan elke gelowige in ons tyd is waar jou prioriteite is. Vir jou as gelowige geld Spreuke 30:8-9. Bestudeer dit gerus. Vers 10 noem dat die stad en stelsel in ‘n kort tyd tot ‘n val sal kom (een uur). Kyk wat alles genoem word: ekonomiese aktiwiteite, maar soos Johannes dit sou verstaan. Die laaste een, mense siele, is die tragiese een. Ekonomiese beheer is niks vreemd in ons tyd nie. Kyk byvoorbeeld hoe die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) elke jaar in Davos, Switserland, byeenkom ten einde die Nuwe Wêreld Orde agenda te promoveer. Dit gaan eenvoudig oor ekonomiese beheer deur ‘n klein en ryk minderheid, ‘n elite. Ek en jy is deel van hierdie stelsel. Ten einde te verseker dat mense nie die stelsel sal kan ontvlug nie, en die Antichris sal moet aanbid, gaan hulle die merk ontvang. Bid dat God ons uit hierdie bestel wegneem voordat die merk ‘n realiteit word.

Wanneer die nasies sien dat hulle rykdom verwoes is, ween (huil) hulle. Sien vers 19. Hulle voel niks vir die feit dat hulle siele verkoop is nie, maar eerder oor die geld wat hulle verloor het. Vers 21 tot 23 verduidelik hoe diegene met geld, die rykes, alles beheer, maar helaas, hulle kom tot ‘n val. Aan die einde van Openbaring 18 sien ons dat beide die groot strukture wat die Antichris in plek stel, godsdiens en ekonomie, tot ‘n val kom. God maak daarmee ‘n einde aan menslike regering. Dink terug aan ons studie oor dispensasies. Vanaf die gebeure na Eden tot die einde van Openbaring 18 het die mens regeer (demokraties), en dit het nie gewerk nie. Die enigste regering wat sal werk, is ‘n Goddelike (teokraties) regering deur Jesus Christus alleen (outokraties), wat in Openbaring 19:15 begin. Bestudeer 2 Thess 2:7-12. Kom ons kyk wat Paulus hier alreeds geskryf het, lank voordat Johannes dit sien:

  • Vers 7 – Die ongeregtigheid was alreeds in Paulus se tyd aan die werk. Dit raak nou net erger.
  • Vers 7-8 – Sodra die kerk nie meer op die aarde is nie, word die Antichris geopenbaar.
  • Vers 9 – Die koms van die Antichris is deur die Satan beplan. Hy mislei mense deur die leuen.
  • Vers 10 – Hierdie mense word mislei omdat hulle nie gered wíl word nie, teenoor Joh 1:11-12.
  • Vers 11 – Omdat hulle nie wil luister nie, stuur God die dwaling (misleiding) sodat hulle die leuen sal glo dat die Antichris eintlik Jesus Christus is. Israel gaan dit ook glo, tot hulle verdriet.
  • Vers 12 – Hulle word geoordeel omdat hulle die ongeregtigheid geniet het en voordeel daaruit getrek het. Sien Romeine 1:25 in hierdie verband.

Openbaring 19:1-10

Johannes sien die groot menigte in die hemel, gereddes van alle eeue wie God verheerlik en juig oor die val van Babilon en die twee stelsels wat dit verteenwoordig het. Die hele gedeelte van Openbaring 19:1-10 speel in die hemel af, voordat die fokus weer na die aarde skuif. Let op dat Johannes hier baie dinge hoor. Vers 1 verduidelik waar Johannes nou is, in die hemel, na “hierdie dinge” van Openbaring 17 en 18. Die gelowiges is bly omdat geregtigheid nou gaan seëvier.

Die gebruik van die woord “Halleluja” hier is interessant. Die woord word vier keer gebruik, en net in Openbaring 19. Dit beteken “Laat ons die Here prys”. Hulle is bly omdat die bruilof van die Lam gekom het. Dit is die “huwelik” tussen Jesus Christus as die bruidegom en die kerk as die bruid. Ons lees dikwels hier van die bruilof. Gaan doen navorsing oor hoe ‘n Joodse bruilof beplan was en gewerk het. Jy sal dan meer verstaan van die simboliek van die huwelik tussen die kerk en Jesus Christus.

Hulle juig verder oor die val van Babilon (“haar”), die hoer van Openbaring 17 en 18. Vers 4 verwys terug na Openbaring 4:4 waar Johannes die eerste keer die 24 ouderlinge gesien het. Vers 7 verwys weer na ‘n vrou, maar hierdie keer is dit die kerk, die bruid, wat gereed maak vir die bruilof. Vers 9 maak weer melding van die Lam, Jesus Christus, en die titel “Lam” word 28 keer in Openbaring gebruik. Laastens, in vers 10, sien ons dat die engel na homself verwys as ‘n mededienskneg – engele was nog altyd nie net God se boodskappers nie, maar is ook diensknegte van die Allerhoogste.

Opsomming

Wanneer ons lees wat met mense gedurende die verdrukking gebeur, met ander woorde al die gebeure in Openbaring vanaf hoofstuk 6 tot 19, dan behoort jy bly te wees dat jou naam opgeskryf is in die hemel, in die Boek van die Lewe. Sien Lukas 10:20 en Opg 21:27. Tot reg aan die einde van die verdrukking probeer God nog steeds in sy liefde om mense by Hom te kry. God se hoop is nog steeds daarin gestel dat mense tot bekering sal kom. Jou redding is die grootste geskenk wat enige iemand aan iemand anders kan gee. Ons gaan in Openbaring 20 leer wat die uiteinde van die ongelowige is wie die lewe nie het nie. Dit is nie aangename leesstof nie maar dalk noop dit ons om op te tree.


[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy