Openbaring 14 tot 16: 'n Parentese: Die Lam, en God se oordeel. Die laaste sewe skale

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 20 September 2024

Openbaring 14 tot 16: 'n Parentese: Die Lam, en God se oordeel. Die laaste sewe skale

Terugblik op Openbaring 12 en 13

In Openbaring 12 en 13 lees ons van die vrou (Israel) en die draak (Satan); hoe die Satan probeer om Israel te vernietig; en hoe God sy volk vir 42 maande beskerm. Die Satan is die eerste van die onheilige Drie-eenheid wat op die toneel verskyn. Hierna verskyn die dier (die Antichris) en die Vals Profeet, wie onder beheer van die draak optree. Die Vals Profeet is die een wie aanbidding van die dier afdwing en ook die merk van die dier laat realiseer. Hierdie Vals Profeet is ‘n godsdienstige, misleide kerkleier, ‘n “woke” een, (die hoer van Opg 17) wie misleides verder mislei deur ‘n vals boodskap.

Openbaring 14

Hierdie hoofstuk is ‘n parentese en dit staan tussen die gebeure van hoofstukke 13 en 15. In hierdie hoofstuk verduidelik Johannes toekomstige gebeure deur drie visioene:

  1. Die eerste visioen: Die Lam op die berg, en die 144 000, in Openbaring 14:1-5. Kyk na die foto hierbo. Jesus is die Lam wat geslag is, ook vir verlorenes gedurende die verdrukking.
    • Dit verwys na die wederkoms van Jesus Christus in Openbaring 19:11 ev.
    • Die 144 000 evangeliste is verseël (beskerm) vir die taak, en hulle is rein in alle opsigte. Dit is Jode wie geroep is om Israel te evangeliseer, nie die heidene nie.

  2. Die tweede visioen: Die engele wat God se oordeel aankondig, in Openbaring 14:6-13
    • Dit is interessant dat engele nou die evangelie verkondig, iets wat nog altyd net vir mense beskore was. Omdat die kerk nie meer op aarde is nie, is daar niemand wie die evangelie aan heidene kan verkondig nie. Die 144 000 verseëldes doen dit vir Israel.
    • Daar is drie engele op die toneel:
      • Die eerste engel verkondig die evangelie aan die ongereddes, vers 6 en 7;
      • Die tweede engel kondig die val van Babilon aan, sien vers 8; en Opg 17-19;
      • Die derde engel waarsku die mense oor wat met hulle gaan gebeur as hulle die Antichris volg en sy merk ontvang, soos ons in vers 9 tot 11 sien. Dit is duidelik dat die dood van die ongeredde nie ‘n toestand is waar hy eenvoudig ophou bestaan nie. Die hel is ‘n permanente foltering. Aan die ander kant moet Johannes skryf oor dit wat op diegene wag wie gedurende die verdrukking gered word. Sien vers 12 en 13.

  3. Die derde visioen: Die graan- en die wynoes, Openbaring 14:14-20
    • Die eerste deel is ‘n visioen van Jesus Christus in die hemel.
    • Nog drie engele verskyn op die toneel:
      1. Die eerste engel kondig die oes aan; ‘n oordeel oor diegene wie nie tot bekering kom nie, vers 15 en 16;
      2. Die tweede engel verskyn en hy het ook ‘n skerp sekel; en
      3. Die derde engel, vers 18, gee aan die tweede engel die opdrag om te oes. Dit is die oordele wat op die ongereddes wag gedurende die groot verdrukking.

Openbaring 15

Johannes sien ‘n ander teken (visioen) in die hemel, van sewe engele wat die laaste sewe plae oor die aarde uitstort. Hierdie is die laaste plae wat God gebruik om die aarde te oordeel ten einde so veel as moontlik mense te bereik sodat hulle tot bekering sal kom. Let daarop dat hy dikwels noem dat hy ‘n “ander” teken gesien het, sodat dit duidelik is dat dit nie verwys na ‘n huidige of enige vorige teken nie. Let op die patroon van sewes wat in Openbaring voorkom – die sewe seëls in hoofstuk 6; die sewe basuine in hoofstuk 8; en nou die sewe plae in hoofstuk 16, maar alreeds in hoofstuk 15 aangekondig. Die herhaalde gebruik van die nommer sewe beklemtoon die soewereiniteit van God. Sewe is God se perfekte nommer. Ses is die nommer van die mens, en dit is altyd een kort van God se perfeksie.

Johannes sien “iets soos ‘n see van glas”, duidelik nie ‘n fisiese see nie, maar eerder “‘n see van mense”, met vuur gemeng. Hier spreek vuur van oordeel, oorlog, en wraak. Hy sien diegene wie gedurende die verdrukking tot bekering gekom het. Hulle speel harpe en sing oor die grootheid van God. Hulle sing die lied van Moses. Sien Exodus 15:1 ev. asook Deuteronómium 32:44 vir voorbeelde van liedere wat Moses gesing het.

Hierna sien Johannes ‘n ander toneel. Sewe engele kom uit die tempel in die hemel. Let daarop dat een van die vier lewende wesens van Openbaring 4:6 vir die engele die skale gee. Die 1953 Afrikaanse vertaling noem dit “skale” terwyl die Engelse vertalings meesal die woord “bowls” gebruik. Hierdie skale is sewe intense gebeurtenisse wat kort op mekaar volg. Kom ons kyk wat hierdie sewe skale is.

Hoofstuk 16

  1. Bose swere: Sien hoofstuk 16:2, en dit is soortgelyk aan die plae in Egipte voor die uittog. Sien Eksodus 9:8. Dit kom net oor diegene wie die merk van die dier het. Hierdie swere mag moontlik die gevolg van die merk wees, dalk ‘n beplande infeksie wat die swere veroorsaak.
  2. Die see word bloed: Dit is soortgelyk aan die tweede basuin (Opg 8:8) , maar hierdie keer sterf alles in die see. Sien ook Eksodus 7:14. Dink net aan die ekologiese gevolge hiervan.
  3. Riviere en vars waterbronne word soos bloed en dit is dus ondrinkbaar.
  4. Intense hitte: Die intensiteit van die son brand die mense. Nie alleen is hulle dors nie, hulle ly ook nou onder die versengende hitte. Sien vers 8. Nog steeds luister hulle nie.
  5. Duisternis oor die dele wie deur die Antichris beheer word. Sien ook Eksodus 10:22.
  6. Die Eufraatrivier droog op. Dit berei die weg voor vir die finale slag. Sien vers 14 en 16. Die Eufraatrivier is in Irak. Dit stel die magte van die Antichris in staat om Israel vanuit die ooste aan te val. Sien Eségiël 38 en 39 waar Israel aan die begin van die verdrukking aangeval word. Nou word dit nog erger. Armagéddon is in die Jisreël vlakte in die noorde van Israel en die nasies versamel hier om oorlog teen God en sy volk te voer. Sien Sagaría 14. Hierdie is ‘n baie belangrike profesie om te verstaan en Sagaría gee meer besonderhede as Johannes hieroor.
  7. Die grootste aardbewing in die geskiedenis vind plaas. Die stede van die wêreld val, en die geografie word verander. ‘n Groot hael (een talent is 30 kg) tref die mense en nog steeds laster hulle. Hulle is so demonies geïnspireerd dat niks hulle by die Here gaan bring nie. Hoe tragies. Ons moet mense waarsku voordat dit te laat is.

God se oordeel word voltooi met die slag van Armagéddon. Eintlik is hierdie slag ‘n antiklimaks. Jesus verskyn in Openbaring 19:11 en met dit wat Hy spreek word die nasies verslaan. Daar mag dalk ‘n slag wees maar dit eindig katastrofies vir die Antichris en sy leërs.

Slotsom

Jou redding is deur geloof in die ware Jesus Christus alleen, nie ‘n vals messias en sy profeet nie. Die tyd loop vinniger uit as wat ons besef. Volgens God se horlosie is daar nog net ‘n paar sekondes oor.


[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy