Openbaring 21 en 22: 'n Nuwe hemel, ‘n nuwe aarde, en die heilige stad Jerusalem

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 11 Oktober 2024

Openbaring 21 en 22: 'n Nuwe hemel, ‘n nuwe aarde, en die heilige stad Jerusalem

Terugblik op Openbaring 19-20

Johannes sien die wederkoms van Jesus Christus plaasvind en hoe die nasies wat teen Israel opgestaan het, verslaan word. In die proses word die dier (die Antichris) en die valse profeet gevange geneem en in die poel van vuur gewerp. Hierna word die duiwel vir een duisend jaar gevange gehou terwyl die millennium, die regering van Jesus Christus, op aarde afspeel. Die duiwel word aan die einde van die millennium ‘n laaste keer toegelaat om die nasies te mislei voordat hy ook in die poel van vuur gewerp word waar die dier en die valse profeet is. Die laaste groot gebeurtenis is die groot wit troon oordeel waar al die ongelowiges van alle tye geoordeel word. Daar bly dus nou net gelowiges oor. Wat gebeur nou?

Openbaring 21

In die laaste twee hoofstukke sien Johannes ‘n nuwe hemel, ‘n nuwe aarde, en die heilige stad Jerusalem. Let daarop dat hierdie nie ‘n visioen is nie, maar hy sien fisies dit wat nuut gemaak word. Jesus het in Matthéüs 24:35 genoem dat die hemel en die aarde verby sal gaan maar dat sy woorde vas sal staan. Dit het nou gebeur. God vestig nou ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde en niemand verlang terug na die ou bestel nie. Jesaja het lank reeds terug hieroor geskryf. Sien Jes 65:17-20. Petrus verwys daarna in 2 Pet 3:10-13 maar net hy verwys na die verbranding van die elemente. Die vraag is wat met mense gebeur in die periode nadat die voormalige aarde vernietig word en die nuwe aarde gevestig word. Ek dink nie dit is vir ons nodig om hierdie aspek te probeer beredeneer nie. God hou die skepping in sy hande en ek is oortuig daarvan dat Hy in beheer van dinge is.

Een van die engele van Openbaring 5:1 ev. roep Johannes om hom die vrou van die Lam te toon, die Kerk. Johannes sien die groot stad, Jerusalem, wat uit die hemel neerdaal en dit is asemrowend. Hy sien die mure en poorte, asook die fondamente. Die stad was vierkantig, en dit het nie die son of die maan nodig om lig te verskaf nie. Die fondamente is van verskillende edelgesteentes gemaak, baie van wat ons nie vandag kan identifiseer nie. Dit is belangrik om te let dat daar geen tempel is nie. Die rede hiervoor is omdat God self die tempel is en ons nie meer nodig het om na ‘n tempel te gaan om God te ervaar nie. Daar is geen misdaad nie en dus word die poorte nie gesluit nie. Meeste van dit wat ons in hierdie hoofstuk lees, is vir ons te wonderbaar om te verstaan.

Die tabernakel van God is nou by die mense, en Hy woon by hulle. Sien Psalm 37:22 en 29. Hy is teenwoordig soos ons dit nog nooit voorheen ervaar het nie maar soos dit in die tuin van Eden moes gewees het. Daar sal geen droefheid meer wees nie, omdat die eerste dinge, ‘n aardse bestaan en dit wat ons onthou het en ervaar het, nie meer deel is van die huidige menslike bewustelike nie.

God maak alles nuut en Johannes word gevra om hierdie dinge neer te skryf, omdat dit alles waar is. Die ou dinge is verby. Jesus is die begin en einde van alles. In Hom erf ons alles. In jou toestand met ‘n verheerlikte liggaam en tyd wat nie meer bestaan nie, word jy nie meer siek nie en daar is ook geen degenerasie nie. Hoe oud ons gaan wees word nie genoem nie, maar tydloosheid kan nie gemeet word nie. Daarteenoor is die ongelowiges se lot die tweede dood. Hulle voer egter ook ‘n tydlose bestaan.

Openbaring 22

Die engel wys vir Johannes ‘n rivier van die “water van die lewe”, as iets wat gladnie op aarde moontlik is nie. Die frase “water van die lewe” word nêrens anders in die Woord genoem nie. Dit vloei uit van die troon af. Dan sien hy die boom van die lewe wat aan beide kante van die rivier groei. Dit wil voorkom asof die boom so groot is dat die takke aan beide kante van die rivier oorhang. Hierdie boom lewer gereeld vrugte, en sy blare genees die nasies. Sien ook Génesis 2:9 waar die boom van die lewe die eerste keer beskryf word. Uit die aard van die saak is diegene in die stad nie blootgestel aan siektes nie. Daar is nie meer enige vervloeking nie (Sien Gen 3:17) omdat Jesus Christus die sonde oorwin het (Gal 3:13) en daar sal ook nie meer nag wees nie. Ons sien sy aangesig (Sien 1 Kor 13:12). Die gelowiges regeer tot in alle ewigheid.

Die engel sê vir Johannes dat alles wat hy hom getoon het, betroubaar is. Dan praat Jesus en gee ‘n kort en kragtige waarskuwing – Kyk, Ek kom gou (skielik, eerder as vinnig). Dit moet die waarskuwing vir ons wees om aan te hou te midde van die aanslae wat ons elke dag in hierdie lewe ervaar. Hierdie dinge is net tydelik. Dit word egter vervang met ‘n ewige heerlikheid vir diegene wie oorwin.

Waar die engel vir Daniël gesê het om die woorde van die boek te beseël, in Daniël 12:9, is die opdrag nou dat die woorde nie verseël moet word nie omdat die tyd vinnig uitloop en nog mense meer as ooit die boodskap van redding moet hoor. Jesus herhaal sy waarskuwing in vers 12: En kyk, Ek kom gou. Dit is ‘n belofte. Jesus stel dit duidelik: Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Daar is geen ander redder nie. Hy bevestig dat Hy sy engel gestuur het om die toekoms aan die gemeentes te betuig, daardie sewe gemeentes waarvan ons in Openbaring 2 en 3 lees. Hy beskryf Homself weer as die môrester, soos in Openbaring 2:28. Die uitnodiging van Jesaja 55:1 geld steeds; en dit is bevestig in Johannes 4:10 en 14: Kom kry by My lewende water. Die laaste waarskuwing word gerig aan almal wie skepties teenoor die Woord van God. Jy voeg nie by dit wat die boek sê nie, en jy laat nie aspekte uit omdat die boek nie jou gebrekkige verstaan van God se almag akkommodeer nie. Meer mense, veral diegene wat die Woord verkondig, moet op vers 19 ag slaan.

Die finale belofte

Jesus sê vir ‘n derde keer dat Hy gou terugkom: Ja, Ek kom gou. Die fokus is nie op die tyd (wanneer) van sy koms nie, maar hoe (wyse) sy koms gaan plaasvind. Hy is nie hier op die oomblik nie, en waarvoor kom Hy terug? Gaan lees weer Johannes 14. Hy gaan weg om vir ons plek te berei (vers 2) en wanneer Hy klaar is, kom Hy weer terug om ons na Hom toe te neem sodat ons kan wees waar Hy is (vers 3). Hy noem dat ons weet waarheen Hy gaan, en ons ken die manier om daar uit te kom. Hy antwoord vir Thomas: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie. – Johannes 14:6

Opsomming

Fokus op Jesus Christus en sy Woord, nie die leringe van mense nie, en jy sal ook kan uitroep “Amen, ja kom Here Jesus”. Johannes eindig die boek Openbaring, en by implikasie die hele Woord van God, op dieselfde manier as wat Paulus se laaste skrywe aan ‘n mens was (2 Timótheüs 4:22). God se genade in sy Seun, Jesus Christus, is met ons almal. Tot aan die einde is Openbaring ‘n boek van hoop, eers vir die sewe gemeentes, dan vir die mensdom gedurende die verdrukking, dan vir diegene wie die verdrukking oorleef en die millennium ingaan, en daarna vir diegene soos ek en jy wie leef in die hoop op ‘n ewige lewe saam met Jesus Christus.


[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy