Openbaring 19 en 20: Die Wederkoms van Jesus Christus; die Millennium

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 4 Oktober 2024

Openbaring 19 en 20: Die Wederkoms van Jesus Christus; die Millennium

Terugblik op Openbaring 17 tot 19:10

Openbaring 17 en 18, asook die eerste gedeelte van hoofstuk 19, verduidelik Satan se twee agente vir misleiding: Babilon as die demoniese wêreld godsdiens (misleidende godsdiens – om my eie manier te probeer om God tevrede te stel) wat tot ‘n val kom (hoofstuk 17) en Babilon as die demoniese wêreld ekonomie (misleidende materialisme – my vertroue in dit wat ek besit) wat tot ‘n val kom (hoofstuk 18).

Hierdie twee agente word ingespan om beheer af te dwing, en dit misluk, in voorbereiding op die koms van Jesus Christus om beheer oor die wêreld te neem.

Jy sal opmerk dat die beskrywing van die gebeure in Openbaring nie altyd chronologies is nie. Hoofstukke 17 en 18 dek groot gedeeltes van die boek (hoofstuk 6-18): verlede, hede, en toekoms. Ons lees hier hoe diegene in die hemel bly is oor God se optrede (vers 1) en die val van Babilon (vers 2); God aanbid (vers 4); en hulle verheug oor die bruilof van die Lam (vers 7). Dit is die laaste aksie van Jesus Christus in die hemel voor sy onverwagse verskyning (vir die Antichris) op die aarde.

Openbaring 19:11-21

Die wederkoms van Jesus Christus vind plaas en Johannes sien dit. Hy bring die heiliges saam met Hom. Waar die wegraping van die Kerk ‘n gebeurtenis was wat vir die wêreld nie sigbaar was nie, kan niemand die wederkoms ignoreer nie. Johannes verduidelik hoe Hy lyk (vers 12-13). Hy is op ‘n wit perd. Onthou dat Hy eers op ‘n donkie as koning in die stad ingekom het (Matt 21:1 ev.; Luk 19:29-38; en Johannes 12:12-16). Hy het nooit die koningskap ontvang nie (Dan 9:26 – “maar sonder iets vir Hom”) maar nou gaan dit gebeur. Hou ook in gedagte dat die Antichris vroeër die mense op aarde mislei het deur ook op ‘n wit perd te verskyn (Opg 6:2). Dit was die begin van die vals vrede vir 3½ jaar. Jesus Christus bring ware vrede vir 1000 jaar. Verwys na Sagaría 14:4 vir die profesie wat na die fisiese wederkoms verwys. Sien ook Handelinge 1:10. Kyk ook in Sagaría 12:9 oor die slag, en 12:10 oor die optrede van sy eie mense. Israel gaan Hom nou as die Messias erken. Bestudeer Jesaja 53.

Hy oorwin onmiddellik die nasies met net ‘n woord (vers 15). Sien Jesaja 63 oor die parskuip. Dit is die profesie oor die Wederkoms en dui aan dat die bloed op die kleed dié van die nasies is wie verslaan is. Sy Naam is Die Woord van God (vers 13) en Die Koning van die Konings en die Here van die here (vers 16). Die engel kondig die slag aan in vers 17. Die Antichris en sy magte versamel in Armageddon (Opg 16:16 en 19:19) vir die geveg maar die slag is vinnig verby. Hierna verdelg Hy die goddelose.

Die eerste twee persone in die poel van vuur – die Antichris en die Vals Profeet

Die Antichris en die Vals Profeet word gevange geneem (vers 20) en hulle word dadelik en lewend in die poel van vuur gegooi. Dit is ‘n letterlike plek en hulle is die eerste twee persone in die poel van vuur. Eenduisend jaar later is hulle nog steeds daar, steeds lewend, en steeds in pyn wanneer die duiwel deel van hulle pyniging word (Openbaring 20:10). Na die eerste twee in die poel van vuur gegooi is, word die nasies wat reg was vir die oorlog, gedood. Hierna begin die millennium soos voorspel.

Ons sal later gesels oor die konsepte hemel, paradys, dood, doderyk, afgrond, bodemlose put, hel, Hades, Sheol, Gehenna, en Abussos. Verstaan die volgende: Op hierdie oomblik is alle ongereddes van alle eeue in die doderyk (Gr. Hades) in afwagting op die finale oordeel (die groot wit troon oordeel van Openbaring 20:11-15), terwyl alle oorlede gereddes in die hemel is, in afwagting eers op die vereniging van liggaam, siel, en gees, en daarna die regterstoel oordeel (2 Kor 5:10).

Openbaring 20

‘n Engel verskyn op die toneel. Hy het ‘n sleutel vir die afgrond (Gr. Άβυσσος; Eng. abyss) of bodemlose put. Sien Matt 8:29-31; Mark 5:12; Luk 8:31; en Judas vers 6 wat verduidelik dat demoniese engele hier bewaar word vir die oordeel. Die duiwel (Gr. Diaboloß, die ou slang – Génesis 3) word vir ‘n periode van 1000 jaar gebind. Johannes brei nie uit oor die toestande gedurende die millennium nie. Hiervoor moet ons na die profetiese geskrifte gaan kyk.

Johannes sien eers die trone in die hemel en “hulle” sit daarop. Wie is “hulle”? 1 Korinthiërs 6:2 verduidelik dit vir ons. Gelowiges word gebruik om te regeer en te oordeel – ek en jy. Dan sien hy die siele van diegene wie gedurende die verdrukking tot bekering gekom het, en gedood is. Bestudeer hoofstuk 15:2 waar Johannes dieselfde groep beskryf. Hierdie gelowiges regeer saam met Jesus Christus en ons as huidige gelowiges vir 1000 jaar op aarde as konings. Sien ook hoofstuk 1:6 en 5:9-10. Die fokus is dat ons as konings sal regeer. Johannes verwys ook na ‘n ander groep, die ongereddes van alle eeue. Hulle word eers geoordeel nadat die millennium voltooi is, in Opg 20:12.

Die millennium

Die woord “millennium” kom van die Latynse woorde mille en annus en dit beteken “eenduisend jaar”. Hierdie is ‘n baie belangrike doktrine en word soms deur die Engelse woord “chiliasm” verduidelik, waar chilioi eenduisend beteken. Dit impliseer dat Jesus Christus vir eenduisend jaar op aarde sal regeer en dus voor die aanvang van die millennium na die aarde terug moet keer. Daar is twee ander sieninge, oor die millennium, en beide is verkeerd:

  • a-millennialisme – dat daar geen regering van 1000 jaar sal wees nie; en
  • post-millennialisme – dat Jesus Christus eers na die millennium jaar terugkeer na die aarde.

Soos met sommige ander woorde, kom “millennium” nie in die oorpronklike teks voor nie, maar “1000 jaar” word ses keer in Openbaring 20:2-7 genoem. Terme soos “drie-enige God” en “wegraping” is voorbeelde van woorde en frases wat ons in die Bybel kry, vertalings van die oorspronklike gedagte om gestalte te gee aan konsepte wat ons nie maklik kan vertaal nie. Onthou ook dat ons nie alleen Hebreeus (Ou Testament) en Grieks (Nuwe Testament) in Bybel vertalings moet akkommodeer nie, maar ook Latyn. Daarmee saam moet die tale se struktuur in die vertaling behou word. Die Skriftuurlike basis vir die millennium is die volgende:

  1. Die dag van die Here
    1. Sien 2 Thess 2:2 en baie verwysings in die Ou Testament: Joël 2:11; Amos 5:18; Sefanja 1:14-16; en Maleagi 4:1-2.
    2. Op aarde was Jesus die lig van die wêreld (Joh 9:5) maar Hy is deur die mense verwerp.
    3. Tans is die Kerk die lig (Matt 5:14; Filippense 2:15).
    4. Die môrester kondig ‘n nuwe dag aan (Opg 2:28 en 2 Pet 1:19) en die son van geregtigheid volg op dit (Mal 4:2).
    5. Hierdie is die laaste dispensasie voordat die ewigheid begin.

  2. Die beloofde koninkryk
    1. God gaan ‘n koninkryk opstel wat nooit vernietig sal word nie (Dan 2:44; 7:14; 7:27 ev.; en Openbaring 11:15). Hierdie is nie die geestelike koninkryk van die kerk nie, maar die ware, fisiese koninkryk wat nog gestig moet word en alle ander koninkryke vervang.
    2. God het ‘n verbond met Dawid gemaak (2 Sam 7:11-16) en dit met ‘n eed bevestig (Ps 89:3-5 en 20-37). Hierdie aardse koninkryk is deur die Babiloniërs vernietig maar dit word weer herstel (Jer 33:19-22).
    3. Lukas vertel vir ons dat die engel vir Maria gesê het dat Jesus Christus die troon van sy vader Dawid sal besit (Lukas 1:32).

Hoe gaan die toestande gedurende die millennium wees?

Kom ons dink vir ‘n oomblik aan hoe die Heilige Gees die profete geïnspireer het om die Woord op te teken. Profesie het dikwels ‘n meer nabye sowel as ‘n verre toekomstige komponent bevat. Toe Daniël byvoorbeeld die visioen oor die ontheiliging van die tempel gesien het, het hy nie noodwendig dit ten volle verstaan nie. Eers was die tempel ontheilig in ongeveer 165 vC, en Jesus het Daniël se profesie aangehaal as iets wat nog moet gebeur. Wat betref die toekoms oor Israel en die herstel van die koninkryk, word ons verskeie stukkies inligting gegee. Die doel van die profesie oor die herstel van die koninkryk was nie bedoel om ‘n puntsgewyse lys te wees nie. Dit is wat die studie van die Ou Testament vir ons so belangrik maak. Ons moet al die profetiese geskrifte in konteks bymekaar sit. Vir die Jood sou dit nie moeilik wees nie, behalwe dat as gevolg van hulle sonde, baie hiervan vir hulle bedek is en eers in ons tyd stadig besig is om te ontvou. Sien Romeine 11:25.

  1. Die natuur word herstel
    1. Sien Jesaja 2 vir ‘n verduideliking oor die toestande gedurende die millennium:
      • Vers 2: die tempel herbou
      • Vers 3: die nasies gaan na Jerusalem om te aanbid
      • Vers 4: daar is vrede
      • Vers 11 ev.: daar sal nie meer sonde wees nie
      • Vers 18: daar sal geen afgode meer wees nie.
    2. Jesus praat self daaroor as ‘n wedergeboorte van die aarde (Matt 19:28). Paulus beskryf dit as die geboorte proses (Rom 8:19-22).
    3. Daar gaan geografiese veranderinge wees (Jes 35:1 ev.; 55:13; en Sag 14:4-10).
    4. Die natuur van roofdiere word verander (Jes 11:6-9; 35:9; 65:25; en Eseg 34:25).
    5. Reën en die kwaliteit van die grond word herstel (Jes 35:2; Eseg 34:6 ev.; en Joël 2:22-26).
    6. ‘n Interessante feit is dat oeste slegs sal misluk vir diegene wie nie na Jerusalem kom om te aanbid nie (Sag 14:17-19).
    7. Die skepping word herstel soos wat dit voor die sondvloed was. Sien Jesaja 11:6.
    8. Mense gaan ook weer langer leef (Jes 65:19-25).
    9. Jesaja verduidelik dat baie mense genees sal word (Jes 35:5 ev.).
    10. Daar sal materiële vooruitgang wees (Miga 4:2-5).
    11. Almal sal God ken (Jes 11:9).
    12. Die mens se heerskappy van die skepping word herstel (Gen 1:28; 3:17-19; en Heb 2:5-10).

  2. Jesus Christus regeer as die outokratiese teokratiese regeerder (alleen, goddelik), soos wat dit bedoel was.
    1. Hy regeer nie net as Messias vir Israel nie, maar ook as Koning oor die hele wêreld (Ps 72:6-11; Jes 2:2-4; 11:1-5; Jer 23:5; en Sag 14:9).
    2. Sonde word vinnig en effektief aangespreek (Sag 14:17-19) en Hy regeer met ‘n ysterhand (Ps 2:8; Opg 2:27; en 19:15).
    3. Ons moet onthou dat daar ongelowiges gaan wees wie die verdrukking oorleef het (Sagaría 14:16). Hulle moet geestelik bearbei word en het nog steeds Jesus se redding nodig. Dit is om hierdie rede dat ons ‘n priesterlike rol gaan hê (20:6).

  3. Die Kerk regeer saam met Jesus Christus (Luk 19:16-19; 1 Kor 6:2; 2 Tim 2:12, Opg 2:27; 5:9 ev.; en 20:4-6).

  4. Israel is herstel (Jes 11:10-13; Jer 16:14 ev.; 23:5-8; 30:6-11; Eségiël 37:1-4; en Matt 24:20-33).
    1. Israel bekeer (Jes 66:8; Jer 31:31-37; Eseg 36:24-29; en 37:1-14; Sag 12:10-13:2; en Rom 11:25 ev.).
    2. Die tempel en aanbidding word herstel (Eseg 37:26-28).
    3. Palestina word tussen die stamme verdeel (Eseg 47 en 48).
    4. Israel evangeliseer die nasies (Jes 66:19; en Sag 8:13 en 20-23).

  5. Die nasies wat gebore word, moet almal die evangelie hoor (Jes 66:19; en Hand 15:16 ev.).
    1. Die heidene moet jaarliks na Jerusalem gaan om te aanbid (Jes 2:2-4 en Sag 14:16-19).
    2. Daar gaan nie meer oorlog wees nie (Jes 2:4).

Die derde persoon in die poel van vuur – die duiwel

Ons moet onthou dat gedurende die millennium mense gebore sal word en wie nie almal gelowiges sal wees nie. Hulle leef dalk in ‘n goddelike bestel maar het steeds redding nodig. Hulle moet dus die geleentheid tot redding kry, en moet ‘n keuse vir of teen God kan maak. Dit klink snaaks dat mense in die millennium nog steeds nie in Jesus Christus wil glo nie. Hulle kan Hom immers as fisiese regeerder sien. Aan die einde van die 1000 jaar word die duiwel weer losgemaak. Onthou dat hy nog finaal geoordeel moet word. Hy gaan die nasies nog eenkeer mislei en hulle in opstand teen God laat kom. Let daarop dat hierdie Gog en Magog nie die een van Eségiël 38 is nie. Hierdie oorlog is vinnig verby. Hulle omsingel Jerusalem maar vuur vanuit die hemel verteer hulle. Nou word die Satan geoordeel. Lees vers 10 baie mooi. Die duiwel word in die poel van vuur gegooi “waar die dier en die valse profeet is”. Dit is dus duidelik dat hierdie twee vir die duur van die millennium in die poel van vuur was, en nog steeds lewend is. Daar is nie ‘n toestand dat ‘n persoon eenvoudig ophou bestaan nie. “Hulle” – die Satan, Antichris, en Vals Profeet, word dag en nag gepynig tot in alle ewigheid.

Ongelukkig is daar lankal reeds vals leringe in sommige denominasies dat die hel (die poel van vuur) nie ‘n fisiese toestand is nie, maar eerder emosionele ervarings na die dood; en dat daar nie iets soos ‘n 1000-jarige vrederyk is nie. Hulle redenasie oor die oordeel van God is die volgende: Hoe kan ‘n God van liefde so wreed teenoor mense wees bloot omdat hulle ‘n vrye wil het en ‘n keuse gemaak het om sy verlossingsplan vir die mens te verwerp? God is nie liefdeloos, wreed, of onregverdig nie. Jy neem ‘n besluit, en jy dra die gevolge. In ‘n poging om hulleself te regverdig, wil hulle nie uit sekere boeke, soos Petrus en Openbaring, lering gee nie. Die feit dat jy as kerk of leraar nie daaroor lering wil gee nie, sê eenvoudig dat 2 Tim 3:16 nie vir jou geld nie: Die hele Skrif is deur God ingegee... Deur nie mense te waarsku nie, en gerieflikheidshalwe nie oor belangrike aspekte van die Woord lering te gee nie, maak jy as predikant jouself skuldig aan vals lering. Ons moet hierdie valse leringe elke dag teenstaan. ‘n Halwe waarheid is so goed as ‘n leuen.

Die vierde en verdere persone in die poel van vuur – die ongelowiges van alle eeue

Die laaste oordeel, die groot wit troon oordeel, is vir die ongelowiges van alle eeue, insluitende diegene wie gedurende die millennium geleef het en nie tot bekering gekom het nie. Bestudeer vers 11 tot 15 baie deeglik en fokus veral op die volgende: “en die boeke is geopen” (meervoud). Een van die boeke wat oopgemaak word, is die Bybel. Sien Johannes 12:48. Die woord (logos) wat Jesus gespreek het, is die Bybel. Psalm 56:8 verwys ook na ‘n ander boek waarin Hy die trane van die regverdiges opteken. Hy weet wat in jou lewe aangaan. Daar is verder ‘n gedenkboek soos in Maleági 3:16 beskryf word. Die belangrikste boek is die boek van die lewe. Dit word na verwys in twee plekke buite Openbaring: Filippense 4:3 en Psalm 69:28; en sewe keer in Opg 3:5; 13:8; 17:8; 20:12; 21:15; 21:27; en 22:19.

In die laaste oordeel verskyn almal wie nie gered is nie om geoordeel te word, nie om gronde te kry waarop hulle dalk nog gered kan word nie, maar om verdoem te word. Omdat hulle nie in geloof wou leef nie (hulle het ‘n keuse gemaak om nie gered te word nie [2 Thess 2:11-12], word hulle geoordeel op grond van hulle werke, vers 12-13). Ons weet dat ons werke nie voldoende is nie vir redding nie, en hierdie mense se werke was boos. Nie alleen word hierdie ongelowiges van alle eeue in die poel van vuur gewerp nie, maar ook die dood (‘n toestand) en die doderyk (Gr. ᾍδης, [Hades], ‘n plek). Die “tweede dood” word alreeds in Opg 2:11 geïdentifiseer. Kyk vir ‘n oomblik na die woord “gewerp”. Dit impliseer die aktiewe, kragdadige weggooi van iets. Ons gaan nie sommer sê “Laat ek gou die vullis in die asblik plaas nie.” Ons gaan eerder die woord “gooi” gebruik. Iets wat waardevol is, word “geplaas”. Iets wat nutteloos is, word “gewerp”. Dink aan die nuttelose dienskneg in Matthéüs 25:30.

Opsomming

Die tragedie van ons tyd is dat talle mense, selfs vanuit die geledere van die kerk, pyniging in die hel afmaak as dat dit nie bestaan nie, en dat ongelowiges na hulle dood hel toe gaan en dan permanent vernietig word (Eng. annihilationism). Wat hulle dus sê is dat Jesus Christus ‘n leuenaar was en dat die waarskuwings wat Hy gee, vals is. Hy het immers meer as enige ander persoon daaroor lering gegee. Ek en jy het die verantwoordelikheid om die volle waarheid aan mense te verduidelik.

Tot aan die einde van die geskiedenis van die mens op aarde gee God aan almal die geleentheid op bekering, gebaseer op die vrye keuse wat Hy die mens gee. Ongelukkig gaan daar selfs gedurende die regering van die Messias steeds mense wees wie dit nie aanvaar nie.

Volgende week: Die nuwe hemel, aarde, Jerusalem, en die ewigheid

Openbaring 21 en 22 is die laaste twee hoofstukke in die Bybel en hulle vertel van die hoopvolle toekoms wat gelowiges sal ervaar, in ‘n nuwe hemel, ‘n nuwe aarde, en die nuwe Jerusalem. Dit is die ewige lewe. Ongelukkig gaan die meerderheid van mense wat al ooit geleef het en tans leef, dit nooit beleef nie.


[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy