Openbaring 12 en 13: Die vrou en die draak; die dier uit die see en die dier uit die aarde.

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 13 September 2024

Openbaring 12 en 13: Die vrou en die draak; die dier uit die see en die dier uit die aarde.

Terugblik op Openbaring 11

In Openbaring 11 lees ons van die twee getuies wat vir die eerste helfte van die verdrukking op die aarde is om te profeteer (Opg 11:3). Hulle is God se boodskappers om die mens nog geleentheid tot redding te gee. Wat doen die mense egter? Hulle maak die twee getuies dood (vers 7), soos die Jode Jesus doodgemaak het. God gee hulle lewe terug (vers 11) en hulle word in die hemel opgeneem, soos Jesus. Ons het verlede week gesels oor wie die twee getuies kan wees. Die aanvaarde siening is dat dit Moses en Elia is, veral omdat die twee persone in Matthéüs 17 op die berg verskyn het. Daar is egter ook ‘n ander siening dat dit Henog en Elia kan wees, om die volgende rede: Hebreërs 9:27 leer ons dat elke mens eenkeer moet sterf, voordat daar ‘n oordeel kan wees. Henog en Elía is in hulle lewe lewend in die hemel opgeneem. Sien Génesis 5:24 (Henog) en 2 Konings 2:11 (Elía). Kan dit wees dat hulle eers gedurende die verdrukking gedood moet word om in pas met Hebreërs 9:27 te wees?

Openbaring 12 – Die vrou en die draak

Hoofstuk 12 stel ons aan die vrou en die draak voor. Kom ons fokus vir ‘n oomblik net op wie die vrou en die draak is, voordat ons na verdere toepassing kyk. Johannes sien ‘n teken in die hemel. Die vrou verteenwoordig Israel. Kyk hoe sy beskryf word en vergelyk dit dan met Josef se droom in Génesis 37:9. Ragel was die maan; Jakob was die son; en die twaalf seuns van Jakob was die sterre. Israel word dikwels as ‘n vrou uitgebeeld. Sien Jesaja 54; Jeremia 3; Eségiël 16; en Hoséa 2.

Hierna sien hy ‘n ander teken. ‘n Vuurrooi draak verskyn in die hemel. Dit is Satan, wie in die Woord baie name het – draak (vers 3); slang en duiwel (vers 9); en aanklaer (vers 10). Satan het nog altyd die doel gehad om God se planne omver te werp. Hy is dus teen God se redding vir Israel (die vrou) en haar kind (Jesus Christus) wie gekom het om nie net vir Israel ‘n regeerder te wees nie (vers 5) maar ook Redder vir alle mense. Jesus sal gedurende die millennium met ‘n ystersepter regeer. Sien Psalm 2:8-9 en Opg 19:15. Satan is die eerste van die drie persone van die onheilige drie-eenheid.

Satan se geskiedenis word ook verduidelik. In vers 4 en 9 lees ons dat Satan en een derde van die sterre (gevalle engele) op die aarde neergegooi is. Johannes sou die profete se geskrifte goed geken het, en dit is belangrik om eers Jesaja 14:11-16 in hierdie verband te bestudeer. Sy doel is om Israel te vernietig, en hy doen dit deur die Antichris se regering en die verbond van vals vrede (die wit perd in Opg 6) van sewe jaar wat hy met Israel en baie nasies gesluit, en nou verbreek (Daniël 9:27). Terwyl Jesus Christus nie op die aarde is nie, en voordat Hy die septer opneem, is Hy in die hemel (vers 5) en is Israel sonder ‘n koning. Die vrou (Israel) word aangeval, en vlug na die woestyn (vers 6 en 14). Ons lees hiervan in Matthéüs 24:16 – die wat in Judea is moet na die berge vlug. Daar word bespiegel dat hierdie mense wie vir die Antichris vlug (vers 13), in die bergvesting Petra in die Jordaniese woestyn gaan skuil. Hier word hulle vir 1260 dae (3½ jaar) Goddelik onderhou en beskerm. Sien Dan 12:1.

Ons lees hoedat Johannes sien dat die slang (vers 15) die volk Israel probeer vernietig. Ons lees dat die duiwel water (dalk ‘n leërmag) gebruik maar die aarde help die vrou (moontlik ‘n aardbewing). Noudat die slang sien dat hy niks aan die vrou kan doen nie, neem hy wraak op “haar ander nakomelinge” – Jode en heidene wie gedurende die verdrukking tot bekering kom. Hierdie is ook die begin van die groot verdrukking.

Openbaring 13:1-10 – Die dier uit die see (Antichris)

Johannes beskryf ‘n dier wat uit die see opkom. Hierdie is die Antichris wat uit die nasies (see) te voorskyn kom. Die groot verdrukking is die tweede helfte van die sewe jaar verdrukking, soos wat Jesus dit in Matthéüs 24:21 beskryf. Israel besef dat hulle mislei is deur die leier wie hulle gedink het die Messias is, en dit is deel van die misleiding waarvan in Matthéüs 24:23 verwys. Mense aanbid die draak (duiwel) wat die dier (Antichris) sy mag gee (vers 4); hulle aanbid die dier (vers 4); en hulle is in verwondering oor hom en wat hy doen. Hy is die tweede deel van die onheilige drie-eenheid.

Hierdie leier laster teen God (Dan 11:36-37 en Opg 13:5); hy laster teen die tempel (vers 6); en hy het mag oor die hele wêreld (vers 7). Diegene wie nie gered is nie, sal hom aanbid (vers 8). Hierdie dier het verskillende name en beskrywings in die boek van Openbaring. In 2 Thessalonicense 2:3 word hy as die seun van die verderf beskryf; in Sagaría 11:15-17 is hy die dwase herder; en in Daniël 11:36-45 is hy die koning wat homself verhef. Die Satan gee hom groot krag en mag (vers 2).

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die naam Antichris. Die Grieks is ἀντί (teen) Χριστός (Christos, gesalfde) en beteken egter nie net die “teenoorgestelde van” nie, maar ook “in die plek van”. Die Antichris (die dier) kom na die aarde as die Messias, en vir die eerste helfte van die verdrukking glo Israel (hulle word mislei) dat hy hulle Messias is. Hy kom in die plek van die werklike Messias as die ruiter op die wit perd (Opg 6:2) en bring skynvrede (misleiding) totdat hy die tempel ontheilig (Dan 9:27) en daarna neem hy wraak op Israel. Israel se ware Messias sal eers in Opg 19:11 op die toneel verskyn om hulle te red.

Openbaring 13:11-18 – Die dier uit die aarde (Vals Profeet)

Johannes beskryf die ander dier (vers 11) wat uit die aarde kom. Die vorige dier (die Antichris van vers 1 is ‘n politiese leier) het uit die see (nasies) gekom. Die dier uit die aarde is die Vals Profeet, ‘n geestelike leier met ‘n wêreldse godsdiens, wat die enigste godsdiens in die wêreld word. Hoekom is hy vals? Hy het horings soos ‘n lam (verteenwoordigend van Israel se offers en die werk van Jesus Christus) en praat soos ‘n draak (misleiding deur mag). Ons het dus nou hier die derde persoon van die onheilige drie-eenheid – die draak (Satan); die dier (Antichris); en die ander dier (die Vals Profeet).

Die Vals Profeet dwing aanbidding van die dier af (vers 12, tegnologie maak dit moontlik). Kyk na die misleiding. Hy boots God na (1 Konings 18:38, Elija) deur vuur uit die hemel te laat kom (vers 13). Hy verlei die mense deur die tekens wat hy doen (vers 14). Húlle moet die beeld maak, nie hy nie! Hulle maak dus self die afgod. Hy gee ‘n gees aan die beeld wat vir die dier gemaak is. Die beeld kan praat en die Vals Profeet veroorsaak dat die wie die dier se beeld nie aanbid nie, doodgemaak word (vers 15). Het dit al voorheen gebeur? Dink aan die beeld wat Nebukadnésar gemaak het. Sien Daniël 3.

Hierdie dier (die Vals Profeet) veroorsaak dat alle mense die merk van die dier (Antichris) kry (vers 16). Hierdie merk is die naam van die dier of die getal van sy naam. Sonder hierdie merk kan hulle nie ekonomies aktief wees nie (koop en verkoop). Dan word die getal van die dier se naam gegee. Die nommer is die van ‘n mens (ses) en is een kort van God se perfekte nommer (sewe). Daar is baie spekulasie oor hierdie getal, en talle voorbeelde van wie die persoon kan wees, volgens die getal 666.

Jou redding

1 Thess 5:4-9 maak dit duidelik dat ek en jy as gelowiges nie deel van hierdie toorn gaan wees nie. Dit is vandag jou beskerming, maar wat van jou familie, vriende, en kollegas wie nie gered is nie?


[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy