Openbaring 4 en 5: Kom op hierheen! Die hemel en die boekrol

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 26 Augustus 2024

Die hemel en die boekrol

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die struktuur in die boek Openbaring. Ons lees in Openbaring 1 dat Jesus vir Johannes opdrag gee om die dinge neer te skryf “wat jy gesien het, die wat is, sowel as die wat gaan gebeur” (Openbaring 1:19). Jesus gee hom opdrag om sewe briewe te skryf en dit in een boek saam te vat, en dan aan die sewe gemeentes te stuur (vers 11). Die drie “dinge” is die volgende:

  • dit wat hy gesien en ervaar het, toe Jesus op die eiland aan hom verskyn het (vers 10-18);
  • dit wat is, die toestand van die sewe gemeentes (Openbaring 2 en 3) wat op die aarde afspeel vanaf Jesus se verskyning aan Johannes tot vandag toe (die kerk periode); en
  • dit wat gaan gebeur (Openbaring 4:1 tot 22:21), eers in die hemel (Openbaring 4 en 5) dan op aarde (Openbaring 6-20) en dan die nuwe Jerusalem en die Hemel (Openbaring 21-22).

Openbaring 3 eindig met die laaste brief, dit wat is, en is tiperend van die kerk vandag. Dit word algemeen aanvaar dat die sewe gemeentes nie net die toestand was soos wat dit in die eerste eeu van die kerk was nie, maar ook verteenwoordigend is van verskillende periodes van kerk geskiedenis, waarvan die gemeente in Laodicéa sprekend is van dit wat in ons tyd gebeur. Die sewende gemeente verteenwoordig dus min of meer die laaste periode van die kerk se geskiedenis. Die eerste vers van hoofstuk vier maak dit baie duidelik.

Openbaring 4

Johannes begin dit so: Na hierdie dinge het ek gesien – kyk, ‘n geopende deur in die hemel (vers 1). Hy gaan nou in die toekoms in. Daar is geen ander interpretasie nie as dat die kerk periode nou afgesluit is. Een van die belangrikste redes hiervoor is dat die woord “gemeente” 19 keer in Openbaring 2-3 gebruik word, en daarna nooit weer tot in hoofstuk 19 nie. As die kerk in hierdie tyd op die aarde was, en Johannes kry aanstons ‘n blik oor wat nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde gebeur, dan sou hy die kerk moes identifiseer en beskryf. Jesus Christus sal nooit sy bruid, die kerk, in die steek laat nie, veral nie wanneer die stryd op sy felste is nie. Die geopende deur dui duidelik daarop dat een dispensasie (tydvak) geëindig het, en ‘n ander dispensasie nou begin. Johannes se verskuiwing van die aarde na die hemel is ‘n tipe van die wegraping van die Kerk.

Die eerste stem wat Johannes gehoor het wat met hom spreek (Openbaring 1:10) sê nou vir hom “Kom op hierheen”. Dit is Jesus Christus self wat vir Johannes roep. Jesus se stem word as ‘n basuin (trompet) beskryf in Openbaring 1:10. Ons lees dieselfde in 1 Korinthiërs 15:52 en 1 Thessalonicense 4:16 wanneer die Here Jesus van die hemel neerdaal en met ‘n stem roep wat soos ‘n basuin klink. Hierdie is eskatologies baie belangrik om te verstaan.

Kyk na die tweede gedeelte van vers 1: “Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.” Die frase “op hierheen” verwys na niks anders nie as die hemel en sy ligging. Johannes was dadelik “in die Gees”, met ander woorde hy het van toestand verander omdat sy aardse liggaam nie die hemelse toestand sou kon hanteer nie (1 Korinthiërs 15:50). Hy beweeg buite tyd en ruimte: “en dadelik was ek in die Gees...”. Hy sien in die hemel ‘n troon en Een wat daarop sit (vers 2). Hy beskryf sy voorkoms (vers 3), nie in terme van dimensie of menslike voorkoms nie, maar die prag daarvan. Ons lees dikwels in Openbaring van verskillende edelgesteentes. Ons het nie vandag ekwivalente beskrywings van almal nie maar ons volstaan dat dit na die glorie van God verwys. Dan sien hy die 24 trone en ouderlinge (vers 4) en die situasie voor die troon (vers 5-6). Hy sien vier lewende wesens (vers 7); beskryf hulle (vers 8); en hulle aanbid God (vers 9-11). Hierdie lewende wesens word in Esegiël 1:4-14 en 10:20-22 as gérubs beskryf. Dit wat Johannes hier gesien het, is te wonderbaar vir ons beperkte konteks en dit sou beter wees as ons dit eenvoudig aanvaar, sonder om elke gedeelte intensief te wil interpreteer.

Die vraag word dikwels gevra dat as Johannes in die Gees was, waar sy liggaam op daardie stadium was. Ons weet dat vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie (1 Korinthiërs 15:50), maar dan was die doel van Johannes se teenwoordigheid in die hemel nie dat hy in die hemel sou bly nie. Hy het immers terug gekeer om die boek na die gemeentes te stuur. Hy is later aan natuurlike oorsake dood. Paulus verduidelik dat hyself nie geweet het of toe hy na die Paradys weggeruk is, dit in of buite die liggaam was nie (2 Korinthiërs 12:3). Paulus het na hierdie gebeurtenis verder geleef totdat hy doodgemaak is. Eers na die fisiese dood (of tydens die wegraping as jy dan nog leef) kry jy as gelowige ‘n verheerlikte liggaam wat jou in staat stel om die koninkryk van God te beërwe (1 Korinthiërs 15:51-54). Openbaring 4 verduidelik van waar God se oordeel oor die mens gaan kom, uit die hemel uit.

Openbaring 5

Openbaring 5 tot 19 verduidelik God se oordeel soos wat dit gedurende die verdrukking op aarde ontvou. Johannes verskuif sy fokus. In Openbaring 4 was dit die troon en die aanbidding. Nou sien hy ‘n boek in die hande van Hom (God die Vader) wat op die troon is. Dit is met sewe seëls verseël. Sewe is God se volmaakte getal. Die boekrol sou met toutjies vasgebind wees. Warm was is oor die knoop in die toutjies om die boek of brief gedrup en beseël met die afdruk van die seëlring van ‘n persoon met outoriteit wie dit toegemaak het. In die Romeinse wet van die tyd is enige testament met sewe seëls verseël en dit moes deur sewe mense bevestig wees op wie staat gemaak kon word as geloofwaardig. Na die afsterwe van ‘n persoon so sy testament dan later oopgemaak word en die sewe seëls moes gebreek word deur iemand wat geloofwaardig is. Hierdie boekrol verteenwoordig God se wraak oor ‘n ongelowige mensdom. Wie gaan dit egter kan oopmaak?

Johannes beskryf dat ‘n engel vra wie die seëls kan breek en die boek oopmaak. Niemand is geskik (geloofwaardig) hiervoor nie behalwe Hy, die Leeu uit die stam van Juda, Jesus Christus. Jesus neem die boek uit die hand van die Vader (vers 7) en Hy word aanbid. Jesus Christus is sentraal in die gebeure in Openbaring, eers op aarde (Openbaring 2 en 3); dan in die hemel (Openbaring 4 en 5); en dan weer op aarde (Openbaring 6 tot 20). Hoor die woorde van die nuwe lied (vers 9):

  • U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak (Hy het die outoriteit)
  • want U is geslag (Jesus was die Paaslam)
  • en het ons vir God met u bloed gekoop (Die verlossingsplan)
  • uit elke stam en taal en volk en nasie (Almal is ingesluit wie die aanbod aanvaar het)
  • ons is konings en priesters gemaak (Ons belofte volgens Openbaring 1:6)
  • en ons sal as konings op die aarde heers (Ons belofte volgens Openbaring 2:26)

Ons, die kerk en gelowiges deur alle eeue, word hier aangespreek. Let mooi op na Openbaring 2:26, dat ons mag oor die nasies sal hê. Ons gaan hierdie nog in besonderhede bespreek. Johannes beskryf die engele rondom die troon. Hulle aanbid Jesus Christus as die Een wat lewe tot in alle ewigheid. Ons gaan die seëls in Openbaring 6 tot 8 sien en wat hulle beteken. Dit verteenwoordig ses periodes op die aarde en een in die hemel, wat verskriklik sal wees vir diegene wie agterbly (Lees weer Matthéüs 24:21). Ek bid dat niemand van ons gaan hier gaan wees om dit te moet ervaar nie.


[ Openbaring 1 – 3 ] [ Openbaring 4 – 5 ] [ Openbaring 6 – 9 ] [ Openbaring 10 – 11 ] [ Openbaring 12 – 13 ] [ Openbaring 14 – 16 ] [ Openbaring 17 – 19 ] [ Openbaring 19 en 20 ] [ Openbaring 21 en 22 ]

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy