Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 8 Junie 2024

Romeine 10

Terugblik op Romeine 9

Kom ons gaan eers terug na Romeine 9. Een van die kontroversiële aspekte wat hieruit kom, is die siening dat God onregverdig is en sommige mense gekies het om gered te word en ander om nooit enige regverdige kans te kry nie. Ons ken dit as die uitverkiesingsleer, en die interpretasie daarvan is meesal verkeerd. Op hierdie onderwerp is die Calvinistiese siening van die Bybel en hoe dit geïnterpreteer word, nie konsekwent nie. Baie mense wil doelbewus hierdie konsep misbruik om regverdiging vir hulle eie sonde te gee en God dan te beskuldig dat Hy hulle nie ‘n regverdige kans op redding gegee het nie.

Ons moet egter verstaan dat Romeine 9 nie daaroor gaan dat Piet gered word maar Sarie verlore gaan nie. Dit het te doen met die geskiedenis van die Jode en die nasie Israel. Romeine 9:6-18 gaan daaroor dat daar ‘n geslagslyn moes wees waaruit eerstens Israel as ‘n nasie gebore word, en daaruit die Messias. Die Messias was nooit eksklusief vir die Jode bedoel nie, maar vir almal. Hy was bloot bedoel om die Messiaanse koning vir ‘n spesifieke groep te wees, nie om ‘n eksklusiewe redder te wees nie. Aan die einde van die dag word mense gered omdat hulle die regte keuse gemaak het, in reaksie op God se oproep om bekering. In sy alwetendheid het God geweet wie gered sou word en wie nie. Dit was nog nooit sy keuse dat enige iemand verlore gaan nie (2 Petrus 3:9). Die mens het egter ‘n keuse:

  • God het die mens ‘n keuse van vrye wil gegee. God se voorkennis en uitverkiesing maak nie die mens se vrye wil ongedaan nie. Al weet God vooruit dat my keuse verkeerd sou wees, was dit steeds my keuse. Sien Génesis 2:16-17; Johannes 1:12; 15:16; en Openbaring 22:17.
  • Uitverkiesing is in samewerking met God se voorkennis. As ouer het jy geweet dat die warm stoofplaat jou kinders se vingers sou brand. Indien hulle nie geluister het nie, en hulle eie keuse uitgeoefen het om steeds aan die warm stoofplaat te vat, moes hulle dan maar voel. Sien Romeine 8:29-30 en 1 Petrus 1:2.

Kom ons som dit so op: Dat jý vandag gered is, is ‘n bewys van God se genade vir jóú. Voordat jy ‘n vinger na iemand anders wys en sê “Maar Here, wat van hom?” (Johannes 21:21), haal eers diep asem, raak rustig, en dank God vir jóú redding. Laat dit aan Hom oor om die ander ou uit te sorteer.

Terug na Romeine 10

In Romeine 9 tot 11 is Paulus se fokus op sy eie mense. Hulle wil nie die nuwe verbond wat Jesus Christus gebring het, aanvaar nie en het die geregtigheid van God vir hulle verwerp. Die nuwe verbond het egter sy ontstaan in die Ou Testament. Dit is om hierdie rede dat hy telkens na die Ou Testament verwys. Dit is immers hulle verwysing, maar tog verstaan hulle dit nie. Sommer vinnig verwys hy in vers 2 na Hoséa 4:6. Ek wil jou aanmoedig om sommer nou Romeine 10 te los en eers Hoséa te gaan lees.

God noem aan die profeet dat hy vir hom ‘n dame van twyfelagtige optrede moet neem as vrou, as verteenwoordigend van Israel se wegdwaal van God af en hulle aanhang van vreemde gode (hoerery). Tog is Hy nog steeds lief vir hulle. Sien Hoséa 1:10, wat Paulus in Romeine 9:26 aanhaal. Fokus nou op Hoséa 3:4. Dit verwys na waar Israel tans is, ‘n land sonder ‘n koning en sonder hulle rituele. Dit is waarom die nuwe tempel so vinnig as moontlik herbou moet word. Sien Daniël 9:27; 11:31; en Matthéüs 24:15 oor wat met hierdie nuwe tempel gaan gebeur. Hoséa is God se mondstuk en oproep op Israel om bekering. Hulle sien dit egter nie raak nie.

Terug na Romeine 10. Hulle is baie ywerig, maar hulle ken nie God se geregtigheid nie en probeer nou self hulle eie ding doen. Hulle slaag egter nie en Paulus haal in vers 5 Levitikus 18:5 aan. Onmiddellik daarna haal hy Deuteronomium 30:12-14 aan. Israel het egter nie Deuteronomium 30:19 gedoen nie – hulle het nie die lewe gekies nie (Johannes 14:6). Dan gee Paulus die essensie van ons redding.

Wedergeboorte is nie ‘n mooi rympie van ‘n sogenaamde “sondaars gebed”, en die “innooi van Jesus in jou hartjie nie”. Dit vra twee, amper brutale, aksies: bely met jou mond; en glo met jou hart. Wat moet jy bely (hoorbare, uiterlike reaksie teenoor ander mense) en glo (innerlike verandering)? Dat God Jesus Christus uit die dode opgewek het. Sien Handelinge 16:31. Baie “Christene” dink hulle is gered, maar dra ‘n kruis aan ‘n ketting om die nek met Jesus nog daarop (soos die Rooms Katolieke) en/of hulle glo nie werklik dat Hy uit die dood opgewek is nie. Gaan kyk na hierdie artikel: [ https://www.johnchapterthree.com/en/theresurrectionfromthedead ] vir meer inligting. Paulus gebruik weer die Ou Testament om die Nuwe Testament te bewys. Sien Jesaja 28:16.

God se plan van redding is nie iets wat skielik in die Nuwe Testament verskyn het omdat Israel hulle rug op Hom gekeer het en Hy nou ‘n ander volk moes kry om Hom te dien nie. Kyk na vers 13. Elkeen wie die Naam (God se totale karakter word hierby ingesluit.) van die Here aanroep, sal gered word (Joël 2:32). Daar was nog nooit geïmpliseer dat net Israel eendag gered sou word nie. “Elkeen” is alles en almal insluitend. Die gedeelte waarna Joël verwys, is ‘n tyd van nood regoor die wêreld, en nie net vir Israel nie, maar vir alle mense.

Paulus stel nou die feite van sy eie sending en dié van die Kerk – as iemand nie gestuur is om te preek nie, kan niemand die boodskap hoor nie. As hulle nie die boodskap hoor nie, hoor hulle nie van Hom nie. As hulle nie van Hom hoor nie, het hulle niemand om in te glo nie. As hulle nie iemand het om in te glo nie, is daar niemand wie hulle kan aanroep nie. Ons hoor egter nie net met ons ore nie, maar ook met die hart. Vir die hart om die boodskap te verstaan, is geloof nodig. Weereens het die Ou Testament dit alreeds vir ons verduidelik. Sien Jesaja 52:7 en Nahum 1:5.

Lank voor die stigting van die Kerk egter, was daar alreeds evangeliste – die profete wie die boodskap aan Israel moes bring. Ongelukkig het nie almal as deel van Israel ag geslaan op die boodskap nie. Paulus deel Jesaja se hart, wie ook maar teleurgesteld was omdat die mense nie sy boodskap wou aanvaar nie. Sien Jesaja 53:1. Gaan lees gerus die hele hoofstuk, wat vir die Jode vandag die “verbode hoofstuk” is, en gaan soek die video op YouTube [ https://www.youtube.com/watch?v=cGz9BVJ_k6s ]. Geloof kom as ons die Woord hoor, en ons hoor die Woord deur die prediking daarvan. Paulus vra of Israel dalk nie die boodskap gehoor het nie. Hy gee egter dadelik die antwoord, nie sy eie idees nie, maar uit die Woord:

  • Het hulle dalk nie die boodskap gehoor nie? Sien Psalm 19:4. Die natuur getuig van die werke en bestaan van God (Romeine 1:18ev). Hulle hét dus gehoor.
  • Het hulle dalk nie die boodskap verstaan nie? Sien Deuteronomium 32:21 (Moses se preek vir Israel). Hulle hét dus verstaan.
  • Was daar dalk nie ‘n boodskap vir hulle nie? Sien Jesaja 65:1. Daar wás dus ‘n boodskap.

Hulle wóu egter nie luister nie. Sien Jesaja 65:2. Israel mag dalk as volk vandag nie in die evangelie glo nie, maar hulle weet dat hulle enigste bondgenote ons, die Kerk, is. Tog het God hulle nie verstoot nie, en sy plan van redding vir die hele Israel word daagliks in ons tyd alreeds in plek gesit. Dit is iets vir hulle om na uit te sien, soos ons volgende week gaan leer. Gaan lees solank Romeine 11.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy