Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 12 April 2024

Romeine 3

Agtergrond

Ons het in [ Romeine 1 ] en [ Romeine 2 ] gesien dat daar drie groepe mense is, en almal is sleg, al dink hulle nie so nie:

  1. Die ongeregtiges (Romeine 1:18-26) is diegene wie glad nie in God belangstel nie. Hulle kan egter van God leer deur sy openbaring in die natuur (die skepping, Eng. Creation). Hulle het dus geen verskoning nie. Hierdie is die antwoord vir mense wat vra “Maar wat van hulle wie in die oerwoude bly en nog nooit van die evangelie gehoor het nie?”. Los jy hulle uit. Jy het alreeds die waarheid gehoor. Konsentreer op jou eie saligheid;
  2. Die self geregtigdes (Romeine 2:1-16) is diegene wie ander blameer sonder om na hulle eie sonde te kyk. Hulle gewete (Eng. Conscience) kla hulle egter aan en hulle het ook nie ‘n verskoning nie; en
  3. Die oormatig geregtiges (Romeine 2:17-29) is die Jode, wie reken dat die wet (Eng. Commandment) waarop hulle staatmaak die oplossing is. Hulle het ook geen verskoning nie.

Ons het kortliks oor die volgende gesels en ek gee dit in Engels omdat die alliterasie meer sin maak:

  1. The three Cs that cannot save you, but which point the way to the one C that can, are:

    1. Creation – Romans 1:20 ff
    2. Conscience – Romans 2:1 ff
    3. Commandment – Romans 2:17 ff

  2. The one C that saves you is:

    1. Christ – Romans 3:21 ff

Lees Romeine deur hierdie bril. Ons eie pogings faal ons. God se oplossing red ons.

In die eerste twee hoofstukke, en die eerste helfte van die derde hoofstuk, benadruk Paulus die feit dat die Jode wel ‘n voordeel het, maar dat daar ook meer rekenskap van hulle geëis word omdat hulle van beter moes geweet het. Hulle is egter nie beter as enige iemand anders nie (Romeine 3:9). Dit word alreeds in Psalm 14:3 gesien, wat Paulus hier in vers 10 aanhaal. Onthou die volgende: as die Woord sê “Daar is geskrywe...” dan moet jy hierdie teksvers(e) naslaan. Sien Romeine 15:4. In vers 11 haal Paulus weer ‘n psalm aan, Psalm 53:4. Inderdaad, niemand soek God nie, en niemand is verstandig nie. Verwys terug na Romeine 1:22 – hulle dink hulle is slim, maar eintlik is hulle dwaas.

Vers 12 en die aanhaling wat Paulus maak staan in skrille kontras met wat wêreldse vals leraars leer. Joel Osteen vertel dat “99.9% van mense eintlik goed is”. Jy kan dit op YouTube gaan soek, maar moenie jou tyd mors nie. Hy hét dit gesê, en hy ís verkeerd. Lees weer vers 12 en fokus op die woord “niemand” en die frase “selfs nie een nie”. Besluit dan wie jy glo; mense se opinies, of die Woord.

Kyk wat doen mense – ons het in Romeine 1 ook gelees oor ‘n lang lys van goed wat mense verkeerd doen. Vers 13 en 14 vertel oor ons en ons woorde, en die woorde wat ons so dikwels in die moeilikheid kry. Die ander deel is ons voete, ons dade. Ons is so gou om die verkeerde ding te gaan doen en ons ken nie die weg van vrede nie (vers 17). Lees vers 18. Is dit nie tragies nie? Kyk na hoe dit om ons gaan. Mense leef onverantwoordelik en reken omdat hulle nie in God glo nie, Hy nie bestaan nie, en daar dus geen oordeel vir hulle wag nie. Tog is die wet die een aspek wat die mens van sy vervalle toestand voor God moet oortuig (vers 20).

Tot hier die slegte nuus.

Nou die Goeie Nuus

Paulus gebruik twee en ‘n half hoofstukke om die slegte nuus te gee. Kyk na die verandering in die gedagtegang wat in vers 21 plaasvind: Maar (teenoorgestelde gedagte) nou (in hierdie tyd):

  1. is die geregtigheid van God geopenbaar (Jesus Christus)
  2. sonder die wet (ons het nie die wet nodig nie en die wet red ons nie)
  3. terwyl die wet en die profete daarvan getuig (wat ons in die Ou Testament van lees).

Die geregtigheid is:

  1. nie deur die wet nie, maar deur geloof;
  2. nie net vir die Jode nie, maar vir almal; en
  3. nie deur werke nie, maar deur genade.

Die geregtigheid is nou nie meer onpersoonlike selfstandige naamwoorde (creation, conscience, commandment) nie, maar ‘n persoonlike selfstandige naamwoord, Jesus Christus. Hy is die geregtigheid wat geopenbaar is, vir almal. Nie een van hierdie drie groepe is enigsins beter as die ander nie. God se oordeel is duidelik, soos Paulus later sal skryf:

23want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. – Romeine 3:23

Ons word egter deur genade geregverdig sonder dat ons enige iets daarvan verdien het, deur die verlossing wat Jesus Christus bring. Sy bloed bring die versoening (vers 25). Deur die verlossingswerk word ons nou vrygestel van die oordeel vir die sonde wat voorheen ons ondergang was. God toon nou sy geregtigheid (Jesus Christus) in ons tyd (vers 26) teenoor ons. Ek het dieselfde waarde in God se oë as sy Seun self. Hy sien my as geregverdig deur Jesus Christus se versoeningswerk.

Paulus maak die stelling in vers 28 dat ons nou aanneem (aanvaar) dat die mens deur die geloof geregverdig (justified) word, sonder die werke van die wet. Dink daaraan – al die werke van die Jode deur al die eeue beteken net so min as jou “niks” wat jy in jou lewe gedoen het om te probeer om God tevrede te stel! Hy stel dit duidelik, en dit moes dalk as ‘n skok vir die Jode gekom het, dat God nie net aan die Jode behoort nie, maar ook aan die heidene (vers 29). Beide die Jode en die heidene word deur die geloof geregverdig. Hierdie is ‘n harde les vir die Jode in die gemeente in Rome, en goeie nuus vir die heidense Christene saam met hulle.

Hierdie stelling, soos Paulus dit in vers 31 meld, maak nie die wet ongedaan nie (dit is nie die redding nie), maar vervul dit eerder (dit lei tot redding). Sien Matthéüs 5:17, Jesus se eie woorde.

Hoofmomente in Hoofstuk 3

  1. Niemand soek God nie – vers 10 – Hy het ons kom soek;
  2. Ons het almal gesondig – vers 23 – ons het geen verskoning nie;
  3. Ons word deur genade gered – vers 24 – nie deur werke nie; en
  4. Ons is almal gelyk – vers 29 – niemand het enige voordeel meer nie.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy