Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 24 Mei 2024

Romeine 8

Hierdie is goeie nuus!

[ Romeine 6 ] en [ Romeine 7 ] verduidelik die innerlike stryd. In hierdie twee hoofstukke is daar nie baie fokus op die gees nie. Vir die ongelowige, soos wie ons ook was, is die lewe eintlik maklik. Daar is geen stryd nie omdat die ongelowige die vlees dien. Die gees is nog nie lewend gemaak nie. Dit is egter wanneer die persoon tot bekering kom dat die konflik begin. Die gees is nou hernuwe en lewend gemaak maar die vlees nog nie. Hierdie stryd tussen die gees en die vlees gaan ons lewe lank duur, maar ons kan stelselmatig gevorm word na die beeld van Jesus Christus. Jesus het juis sy dissipels gewaarsku dat die gees gewillig is om te doen wat reg is, maar die vlees is swak. Sien Markus 14:38.

Die goeie nuus

Paulus begin hoofstuk 8 met baie goeie nuus en dit is hier waar die mens se gees duidelik na vore kom. Die woord Gees word 13 keer genoem. Daar is geen veroordeling nie vir die gelowige wie in Jesus Christus is. Veroordeling begin in die siel/gedagtes. Dit is hoe ons oor onsself voel. Dikwels veroordeel ons onsself onnodiglik. Daar is egter net twee opsies. Jy is óf veroordeel as ‘n ongelowige, óf nie veroordeel nie as ‘n gelowige. Sien Johannes 3:17-18. Die satan sal enige gelowige probeer oortuig dat hy nog steeds veroordeel is. God sê dit is nie waar nie. Wie gaan jy glo? Wie gaan jy voer? Hou op fokus op jou tekortkominge (veroordeling) en fokus eerder op aanbidding.

Die persoon wie tot redding gekom het, is vrygemaak van die wet (vers 2). Alles het nuut geword. Sien 2 Kor 5:17. Dit was egter nodig dat Jesus in die vlees na die aarde sou kom (vers 3; Joh 1:1-5) sodat die mens kon sien dat selfs in die vlees ons met God versoen kon word. Ten spyte van die feit dat ons in die vlees leef, kan ons nog steeds God in die gees dien. Ons moet egter onthou dat die vlees nog steeds teen die gees stry. Sien verse vyf tot nege. Vers 9 stel dit duidelik dat ‘n mens nie gered is omdat hy kerk toe gaan nie, maar as die Gees in hom is. Die liggaam is nog dood, maar die gees lewe.

Ons kry die belofte dat ook ons sterflike liggame lewend gemaak gaan word in vers 11. Hierdie is ‘n baie belangrike dogmatiese stelling. Paulus gebruik een hele, en baie lang, hoofstuk om dit te beskryf. Gaan lees 1 Korinthiërs 15 aandagtig deur. Tans is ons gees hernuwe, maar nog nie die liggaam nie. Die liggaam soos hy nou is, kan nie die koninkryk van God binnegaan nie. Dink vir ‘n oomblik aan jou liggaamlike tekortkominge en foute. Waarmee sukkel jy liggaamlik wie ander dalk nie ‘n probleem mee het nie? Al hierdie tekortkominge gaan ongedaan gemaak word by die Koms van Jesus Christus wanneer die liggaam verander word (1 Kor 15:51-53).

Die werk van die Heilige Gees in die lewe van die gelowige in ons stryd teen die sonde

Paulus noem drie aspekte van die werking van die Heilige Gees in ons lewens.

  1. Eerstens woon die Heilige Gees in ons (vers 11). Dieselfde Heilige Gees wat Jesus Christus uit die dood opgewek het is die Heilige Gees wat ons in staat stel om nie te sondig nie. Ons moet egter nie die een wie ons van ons geloof wil beroof, voer nie. As ek myself doelbewus aan sonde blootstel, gaan ek sondig en die bose voer. Ek moet dus die voedings bron afsluit.

  2. Tweedens bevestig die Heilige Gees dat ons kinders van God is (vers 16). Omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is nie aanneem kinders nie. As kinders het ons ‘n pa – Abba Vader. “Abba” is egter nie net soos ‘n aardse pa nie, maar dra die betekenis van “meneer” (Eng. “sir”) en dus een van respek vir God as ons Vader. Ons moet dalk leer om meer respekvol teenoor Hom op te tree.

  3. Verse 16 en 17 hou ‘n verdere belofte in. Die Heilige Gees bevestig ons geredde toestand en Hy getuig daarvan. Omdat ons kinders van God is, is ons erfgename omdat ons saam met Hom ly. Wat beteken lyding in hierdie konteks? Dink aan jou lewe tans as ‘n gelowige. Is dit maklik? Eerstens is daar die innerlike stryd. Tweedens is daar die uitdagings en versoekings van die wêreld wat jou wil wys maak dat die lewe van die gelowige nie die moeite werd is nie. Laastens kry ons die aanslag teen gelowiges wat daagliks toeneem. Dit gaan baie erger word in ons eie land omdat dit deur ateïste en sataniste bestuur word. Ons weet egter dat die uiteinde van dit alles sal wees dat ons vlees ook hernuwe sal word, en gees en vlees saam God se koninkryk sal betree. Dit is ‘n wonderlike vooruitsig.

  4. Derdens tree die Gees vir ons in wanneer ons swak is (vers 26) en nie weet hoe om te bid nie. Wanneer ons regtig op die einde is van dit wat menslik moontlik is, tree die Heilige Gees vir ons in. Hy ken ons harte deur en deur en konnekteer ons met die hart van die Vader.

Ons toekoms, ons hoop

Vers 18-25 verwys. Dit wat ons in hierdie wêreld ervaar, is niks teenoor dit wat ons eendag sal ervaar nie. Selfs die hele skepping sien uit na die dag wanneer die gelowiges ten volle geopenbaar sal word. Die skepping dra tans ook die gevolge van die sondeval van die mens. Wanneer Jesus Christus op die aarde heers gedurende die millennium, word die natuur onder andere herstel. Jesaja skryf baie daaroor. Dit is ons hoop (Titus 2:13). Hierdie hoop, jou geloof, is die tema van Hebreërs 11.

Werk alles altyd ten goede mee?

Kyk na Romeine 8:28. Ons moet hierdie teksvers in sy konteks verstaan. Dit beteken nie dat alles altyd op hierdie aarde vir ons reg gaan loop nie, gesien vanuit ons perspektief. Ons fokus dikwels so op die nou en hier dat ons vergeet van die groter perspektief wat God vir ons lewens het. Eerstens het Hy ons verordineer (uitverkies op grond van sy alwetendheid); daarna het Hy ons geroep tot die ewige lewe; verder Hy het ons geregverdig [ Sien justification/justified ]; en laastens het Hy ons verheerlik in Jesus Christus. Moet dus nie dink dat net omdat iets in jou lewe nie uitgewerk het nie, alles nie ten goede meewerk nie. Ons moet leer om God in alles te vertrou, in die goeie en in die minder goeie.

God is aan my kant

Sien Romeine 8:31-39. God is vir ons, nie teen ons nie. Ons is in dieselfde span. Kom ons maak dit persoonlik:

  • Niemand kan enige beskuldiging teen my inbring nie (vers 33). Waarom nie? Omdat God my regverdig verklaar het. Gaan kyk weer na die lesing oor regverdigmaking, Soteriologie 8. Ons het dit lank terug gedoen, met die oog op hierdie teks vandag!
  • Niemand kan my veroordeel nie (vers 34). Waarom nie? Omdat Christus vir my by die Vader intree.
  • Niks kan my skei van God se liefde vir my nie (vers 35). Psalm 44:22 het lank gelede reeds genoem dat ons [ek] deur die wêreld as slagskape gereken word. Hoekom kan niks my van Hom skei nie? Omdat Hy my as meer (vers 37) as ‘n oorwinnaar sien. Ek dink dalk dit is voldoende dat ek oorwin het oor iets. In God se oë is ek baie meer as net ‘n oorwinnaar. My brein kan hierdie gedagte nie begryp nie.
  • Ek is ‘n oorwinnaar in “al hierdie dinge”. Watter dinge? Kyk na vers 35: verdrukking, vervolging, honger, naaktheid, gevaar, en swaard. Sien dan hoe elkeen in vers 38-39 verduidelik word. Geen van hierdie dinge kan my skei van die liefde wat God vir my het nie.

Jou uitdaging

Wat is vandag jou grootste uitdaging? Is dit finansies, dan sal God in sy genade vir jou voorsien. Sien Filippense 4:19. Is dit gesondheid, dan genees Hy jou. Sien Psalm 147:3. Voel jy alleen, dan is Hy jou herder. Sien Psalm 23. Is dit verhoudinge, dan moet jy hulle herstel. Sien Matthéüs 18:15. Daar is baie ander voorbeelde wat ek kan noem, maar jy weet wat in jou hart aangaan.

Omdat God se liefde in Jesus Christus is, Hy in jou, en jy in Hom, geld Romeine 8:1 vir jou. Daar is geen veroordeling vir jou [vul jou eie naam hier in] wie in Jesus Christus is nie!

Hierdie is genade op ‘n vlak wat ons dit nie in hierdie lewe sal begryp nie. Jy moet egter vandag die keuse maak om sodanig te leef.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy