Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 5 Julie 2024

Romeine 13

Romeine 12 skuif die fokus weg van Israel en die Kerk, twee afsonderlike identiteite, na hoe ons as gelowiges moet leef. Paulus gee verskeie aanduidings van wat ons moet doen – kort sinsnedes, amper soos wat ons in Spreuke vind. Hoofstuk 13 fokus op hoe ons as gelowiges moet leef in ‘n wêreld wat nie deur gelowiges beheer word nie. Hoe hanteer ons die (meesal sekulêre) owerhede?

Die hoofstuk sluit aan by die vorige een. Soos wat Romeine 12:21 met die opdrag “Laat...” eindig, begin Romeine 13:1 met dieselfde woord. Van hier af skryf Paulus oor die owerhede. Ons moet verstaan dat hy dit skryf oor die owerhede spesifiek in Rome, aangesien hierdie gemeente sy teiken was, asook vir gelowiges op ander plekke. Onthou dat die sendbrief vir een gemeente ook deur ander gemeentes gelees is (Kolossense 4:16 dui dit mooi aan) en Paulus sou dikwels inligting wat hy vir een gemeente geskryf het, gebruik om ander gemeentes te bemoedig (Romeine 12:12 en 1 Thessalonicense 5:17 beskryf dieselfde gedagte.).

Die owerhede

God het drie instellings ingestel vir die mens:

  1. Die gesin (Génesis 2:24) wat die boublok van die gemeenskap is.

  2. Die regering of owerhede (Génesis 9:6) wat die gemeenskap moet beheer.

  3. Die Kerk (Handelinge 3 en verder) om die gemeenskap na Hom toe terug te bring.

Paulus is baie duidelik daaroor dat ons onsself moet onderwerp aan die owerhede (vers 1). Owerhede is nie net indiwidue nie, maar ook die wette wat deur hierdie owerhede gemaak is. Ons sien in ons tyd hoe mense eenvoudig wette en reëls oortree sonder om in die minste om te gee hoe dit ander raak. In die omgewing waar ek bly sien ons elke dag hoe gebruikers die padreëls verontagsaam. Dit is baie maklik om die vinger na “hulle” (die taxi-bestuurders aan die ander kant van die politieke spektrum) te wys. Kyk egter mooi. Meeste van diegene wie die reëls verontagsaam is eende van ons dam; die ouens met hulle groot nuts voertuie en duur DDMs. Hulle houding is dít: Dit is my reg om jou lewe in gevaar te stel deur my optrede en jy het nie die reg om die pad met my te deel nie, tensy dit op my voorwaardes is. Dit is so jammer, maar dit is ook die demoniese gees van die tyd waarin ons leef. Dit is egter hier waar ons as gelowiges die voorbeeld moet stel. Jy kan nie iemand anders daarvan beskuldig dat hulle teen ‘n rooi verkeerslig gery het nie, en jy ry aan die regterkant van die verkeersirkel deur.

Ons mag ons nie teen die owerhede verset nie omdat God hulle in daardie posisies aangestel het. Indien jy doen wat reg is, het jy niks om voor te vrees nie (vers 3,4). Indien vir geen ander rede nie, is dit noodsaaklik om jou aan wetgewing te onderwerp ter wille van jou gewete (vers 5). Dit het niks te doen oor of ons van die regering van die dag hou of nie. Dit gaan daaroor dat God die owerhede ingestel het en ons Hom daarvoor moet respekteer. Hier kom die twisvraag: moet ons belasting betaal of nie? Vers 6-7 maak dit baie duidelik. Om belasting te betaal is Skriftuurlik. Jesus het self belasting betaal. Sien Matthéüs 17:24-27. Die vraag is of alle wette nagevolg moet word.

Is “die regering” altyd reg? Waarskynlik nie. Kan ons dus die regering verontagsaam indien hulle teen dit staan vir dit waarin ons glo? Waarskynlik, maar dit hang af watter wet(te) hulle uitgevaardig het, en ons moet verstaan dat daar moontlik gevolge gaan wees. Indien die regering wette uitvaardig wat teen God se opdrag is, hoef ons nie gehoor aan hulle opdrag te gee nie. Hier is drie voorbeelde:

  1. Eksodus 1 – die Farao gee opdrag dat die Hebreeuse seuntjies doodgemaak moet word. Moord was in teenstryd met God se opdrag om die aarde te vervul (Génesis 1:28). Die gevolg was dat die Farao aan sy eie mense opdrag gegee het om die seuntjies te vermoor. Sien Exodus 1:22.

  2. Daniël 3 – die wet wat gemaak is dat almal die beeld moes aanbid. Daniël se vriende het geweier, op grond van God se opdrag dat jy jou nie voor ‘n gesnede beeld mag neerbuig nie volgens die opdrag in Exodus 20:4-5. Die gevolg was dat hulle in die vuuroond gegooi is, maar God het hulle beskerm.

  3. Handelinge 5 – Petrus en Johannes verkondig die evangelie. Hulle het God se opdrag in Matthéüs 28:18-20 uitgevoer. Die gevolg was dat hulle aangerand en gedreig is (Handelinge 5:40) maar hulle is vrygelaat.

Ons optrede teenoor andere

Hier is ‘n baie belangrike opdrag: ons moet aan niemand enige iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê, sodat ons die wet kan vervul (vers 10). Sien Deuteronómium 15:17-21. Is die wet dan nie deur die geloof ongedaan gemaak nie? Nee. Die wet is veel eerder deur die geloof vervul. Ons het die opdrag om ons naaste lief te hê, volgens Exodus 20:13-17. Dit is deur ons naaste lief te hê dat andere, ook ongelowiges, die werk van die Heilige Gees in ons lewens sal sien. Sien Johannes 13:35.

Skielik klink dit asof Paulus van die tema afdwaal. In vers 11 noem hy dat ons die huidige tye ken, en ons nou baie nader aan die finale vereniging met Jesus Christus staan as voorheen. Toe ek so 34 jaar gelede tot bekering gekom het, het almal my vertel dat ons so na aan die einde is, Jesus kan dalk vandag kom om ons te kom haal. Vier en dertig jaar later het dit nog steeds nie gebeur nie, maar ek is nou 34 jaar nader aan sy koms as toe. Dit was nie anders vir Paulus nie. Hy het, te midde van die politieke onrus van sy tyd, nog steeds ‘n verlange gehad om hemel toe te gaan en by Jesus Christus te wees. Sien Filippense 1:23-34.

Paulus maan ons om wakker te word. Die nag is verby. Ons moet uit die duisternis na die lig beweeg en doen wat Paulus in hoofstuk 12 aandui. Sien 1 Petrus 2:9. Ons moet die wapens wat die Gees ons gee, gebruik om die magte van die duisternis te oorkom. Ons moet hierdie wapens nie net soms dra nie, maar dit permanent aangord (vers 12) soos ‘n lyfband. Ons kan nie meer die dinge van die wêreld (die vlees) doen nie, maar ons moet in die regte gesindheid teenoor God leef.

Paulus eindig die gedeelte met hierdie belangrike opdrag: ons moet ons met Jesus Christus beklee. Dink ‘n bietjie hieroor. Ons moet Hom aantrek sodat Hy oral aan ons sigbaar is, terwyl ons aan die duiwel geen vatplek gee nie. Dit beteken dat ons die klere van die duisternis sal uittrek soos hy in vers 12 noem. In sy brief aan die gemeente in Kolosse brei Paulus verder hieroor uit. In Kolossense 3:12-14 word aangedui waarmee ons, ons moet beklee – ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid, en liefde. Al hierdie dinge was karakter eienskappe van Jesus.

Opsomming

Soos ons in elke hoofstuk ‘n sleutel vers of -gedagte soek, staan hierdie een by my uit: ons moet onsself met Jesus Christus beklee en meer soos Hy word. Watter kledingstukke het jy nog aan wat nie met Jesus geassosieer word nie? Dalk is daar ‘n onderkleed wat jy dra wat niemand sien nie, maar jy weet daarvan en jy weet dit is verkeerd. Gaan na die winkel toe (die Woord) en koop vir jou ‘n nuwe onderkleed (kry inspirasie uit die Woord om die regte ding te doen in lyn met die lewe van Jesus Christus). Dalk moet ons meer aandag gee aan Matthéüs 22:11-13 en sorg dat ons ‘n bruilofskleed dra.

Trek die ou verslete klere van sonde en onreg uit en beklee jou met God se geregtigheid, vandag nog.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy