Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 12 Julie 2024

Romeine 14

Van die grootste verskille wat ons ooit onder mense sal vind, is dié onder Christene. Kyk maar na die groot aantal denominasies. Selfs binne denominasies is daar soveel onenigheid dat dit heeltemal verstaanbaar is dat die wêreld nie werklik deur die evangelie aangetrek word nie – dit is nie die boodskap nie, maar die beeld van sy sogenaamde ondersteuners wat die probleem is. Hier onder ons kry twee predikante stry, en die volgende dag is daar twee nuwe kerke op die dorp. Daar is binne kerk geledere ‘n snobisme en wettisisme wat eenvoudig lynreg teen die ware Christelike karakter is. Dit was waarskynlik alreeds die geval met die kerk in Rome. Paulus spreek dit in hierdie hoofstuk aan.

In hoofstuk 12 en 13 het Paulus uitgebrei oor liefde teenoor mekaar as gelowiges, en ook teenoor andere, veral die owerhede. In hoofstuk 14 skryf hy hoedat ons mekaar as Christene moet verdra ten spyte van verskille, sommige daarvan nietig en ander groot, afhangende hoe jy daaroor voel. Hy kontrasteer ook twee pole van Christen wees, die wat swak is in die geloof (Romeine 14:1-2) en die wat sterk is in die geloof (Romeine 15:1). Tog is die een nie beter as die ander nie.

‘n Groot deel van die hoofstuk handel oor kos en feesdae en hoe eerste eeuse Christene mekaar op grond daarvan veroordeel het. Waarom moet kos verdeling veroorsaak? Paulus maan ons in die eerste vers om diegene wie swak is in die geloof nie te oordeel nie. Wat beteken dit om “swak in die geloof” te wees? Eenvoudig dit: ons is nie almal op dieselfde plek in ons geestelike reis nie. Ons moet onthou dat ons ook eens op ‘n tyd op daardie deel van die reis was waar ander gelowiges tans is. Eerder om hulle te oordeel omdat hulle dalk nog nie soos ons dink nie, moet ons hulle eerder aanmoedig maar sonder om te kritiseer. Die eerste eeuse Christene was ‘n mengsel van Jode (die gemeente in Rome is deur bekeerde Jode gestig) en heidene wie deur nie net Paulus nie, maar baie ander se verkondiging van die evangelie tot die geloof gekom het. Daar was dus die wie die wet geken het, en net so baie wie niks van die wet geweet het nie. Almal moes onder een struktuur, die kerk in Rome, geakkommodeer word.

Vir die Jood was die eet van sekere kos (of die nie-eet daarvan) en die waarneming van sekere dae baie belangrik. Sien Handelinge 10:9-18 en 10:28. Omdat ons nie meer die wettiese voorskrifte hoef aan te hang soos in die Wet beskryf is nie, is dit vir Paulus, self ‘n Jood, nie meer ‘n geval van verpligting nie, maar een van persoonlike opinie. Ons kan uit Paulus se opmerkings aflei dat daar waarskynlik verdeeldheid in die kerk in Rome was rakende kos en feesdae, en hy spreek dit nou aan. Dit was ook aanvaarde gebruik dat Maandae en Donderdae vasdae was vir die tradisionele Jode, en hulle hierdie twee dae dus onderhou het. Sien Lukas 12:18 as ‘n voorbeeld van iemand wie twee keer per week gevas het. Hy sou waarskynlik op ‘n Maandag en ‘n Donderdag gevas het.

Die aspekte wat Paulus hier aanspreek was nie net beperk was tot die gemeente in Rome nie. Al die kerke in verskillende plekke het hulle ontstaan gehad uit meesal beide bekeerde Jode en heidene. Die gemeentes in Galasië (Galasiërs 4:9-11) het dieselfde probleem gehad as die kerk in Rome, wie dieselfde probleem gehad het as die gemeente in Korinthe (1 Korinthiërs 8). Daar sou in beide kampe, bekeerde Jode en heidene, elemente van die vorige bestel hulle inslag in die nuwe bestel sou wou vind. Jode sou probeer om die nakoming van streng wettiese beginsels op die kerk af te dwing, terwyl die heidene sou probeer het om heidense praktyke deel van hulle nuwe lewe in Christus te hou. Paulus moes beide groepe akkommodeer en begelei.

Eet jy alles of eet jy net groente? Dit gaan gladnie oor of dit beter of slegter is om net groente te eet nie. Kos alleen dra geen waarde tot ons geloof by nie, dalk net meer kilogramme. As jy ‘n vegetariër is, is dit reg. As jy inklim onder die verskillende vleisgeregte, is dit reg. Jy mag net nie die ander persoon oordeel op grond van wat hulle eet of nie eet nie. God het jou aangeneem.

Net so het dit wat die ander persoon doen, niks met jou te doen nie. Paulus gebruik die voorbeeld van kritiek wat jy oor iemand anders se huiskneg uitspreek. Wat in iemand anders se huis gebeur, is sy saak, solank dit nie teen die Woord van God is en ander gelowiges benadeel nie.

Ons kritiseer ander oor nuttelose goed. Wat maak dit saak of jy van Maandag hou en ek van Donderdag, of iemand anders sê al die dae is gelyk? Doen jy net wat reg is. Die Romeine en ander kulture van die tyd het groot waarde aan hulle feesdae geheg. Vir die eerste eeuse Christene, baie van wie uit heidense kulture gekom het, was dit moeilik om al hierdie feesdae opsy te sit. Dit was dieselfde met die Jode. Hulle was gewoond daaraan om streng te hou by die wettiese voorskrifte. Sommiges sou dalk maklik aanpas, terwyl dit vir andere moeiliker sou wees. Nou gaan dit nie meer oor die feesdae nie, maar jou verhouding met God.

Paulus gebruik ‘n hele paar verse, vanaf vers drie tot nege, om te verduidelik dat ons verskillende opinies moet respekteer. Met al die verskille tussen ons, word ons almal eendag tot een vlak gereduseer: ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn. Sien 1 Korinthiërs 3:13 en 2 Korinthiërs 5:10 waar Paulus dieselfde gedagte met die gemeente in Korinthe deel. Hy baseer dit op Jesaja 45:23. Elkeen sal die knie buig en God bely, of hy geglo het of nie. Nie eers die grootste ateïs kan hierdie dag ontsnap nie. Elkeen van ons gaan self moet rekenskap gee van dit wat ons gedoen het. Poog dan eerder om dit wat jy doen, te doen tot uitbreiding van die evangelie.

Die beginsel is dit: laat ons nie altyd kritiek teenoor mekaar uitspreek nie, maar eerder besluit om nie ‘n klip in die pad van iemand anders te wees nie. Ek was jare gelede saam met iemand op ‘n kerkraad wie altyd van sy “27 glorious years on the road with God” gepraat het. Hy was ‘n pragtige mens, dalk alreeds oorlede en nou by die Here. Daar is egter net soveel Christene wie moontlik nie op die pad is nie, maar in die pad van ander wie op die pad is na die ewige lewe. Paulus maak weer van kos melding. Waarom is kos so dikwels die teiken? Waarskynlik omdat die nuwe Christene wat uit heidense agtergronde gekom het, saam moes leef met Jode wie tot bekering gekom het, en vir wie kos en die reinigings prosesse wat daarmee saamgaan, baie belangrik was.

Paulus raak ‘n verdere aspek oor kos aan wat hy ook met die gemeente in Korinthe bespreek, dat as jy nie iemand anders aanstoot moet gee deur dit wat jy eet of drink nie. Lees gerus 1 Korinthiërs 8:1-11. Jy eet wat vir jou voorgesit is, tensy jy weet dit aan afgode geoffer is. Dan is jy vry om dit van die hand te wys. Die gedagte is egter dit, en dit geld nie net vir kos nie: ek moet diegene met wie ek die lewe as gelowige deel, so belangrik ag dat ek my eie belange opsy sal skuif ten einde nie vir die ander persoon ‘n struikelblok te wees nie.

Eerder as wat ons die fokus plaas op die verskille tussen ons, moet ons die wydte van God se plan vir ons lewens geniet. Dink net hoe vervelig dit sou wees as almal van ons dieselfde eng mense was. God het jou uniek gemaak, en tensy dit wat jy doen ‘n bepaalde negatiewe uitwerking op iemand anders het, kan jy doen wat jy wil. Dit moet egter binne die raamwerk van Hoofstuk 13 gedoen word – onderhou die wetter wat daargestel is tot voordeel van almal. Kos, drank, en feesdae beteken niks nie, geregtigheid, vrede, en blydskap in die Heilige Gees is waarna ons moet mik (Romeine 14:17).

Slotsom

Hou op om op die verskille te fokus en sien die fokus, Jesus Christus, wie baie opgegee het ter wille van ons wie swak is. Ons is amper klaar met Romeine. Lees vir volgende week Hoofstuk 15.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy