Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 20 April 2024

Romeine 4

Die vraag oor lewe uit Abraham

Onthou dat die boeke en briewe in die Bybel oorspronklik nie in hoofstukke en verse verdeel was nie. Hoofstuk 4 volg direk op [ hoofstuk 3 ] sonder enige pouse of gaping. Gaan kyk hierdie week gerus na David Guzik se verduideliking van Romeine 4: [ https://www.youtube.com/watch?v=SN3sov_vMtw ].

Die geloof en die uitleef daarvan bevestig die bestaan en waarde van die wet. Die vraag is nou hoe Abraham dan geregverdig kon word. Daar was op hierdie stadium nog nie ‘n wet nie. Sien Génesis 15:6. Abram (sy ou naam) het in God geglo, en dit het tot die geregtigheid gelei. Hierdie woord “geglo” dui op ‘n baie spesiale verhouding wat hy met God gehad het. Die woord “gereken” is ‘n rekeningkundige term. Abraham was deel van God se balansstaat van die mens. Hy sien nie Abraham as ‘n debiet of skuld nie, maar, maar as ‘n krediet, in die groen, en iets wat waarde het, en ‘n vriend.

Abraham was baie hoog aangeslaan deur die Jode. Hy kon dus iets gehad het om op te roem voor mense. Ongelukkig werk dit nie so in God se bestel nie. Dink aan Frank Sinatra se woorde “I did it my way”. Jou manier is nie voldoende nie en dit is ook nie die regte manier nie. God los ons egter nie soos ons is nie. Sy werk in ons is transformerend en lewens veranderend – ons word geleidelik verander van die gebroke beeld van ‘n sondige mens na die volmaakte beeld van Jesus Christus.

Verse 4 en 5 verduidelik dat as jy werk en geld daarvoor kry is dit nie omdat die werkgewer van jou hou nie, maar omdat jy die werk gedoen het en dus die salaris verdien het. Bedank jy ooit jou werkgewer nadat jou salaris inbetaal is? Nee. Dit is nie nodig nie want jy het die werk gedoen.

In God se bestel werk dit anders. Niks wat jy doen kan vir jou die beloning gee nie, maar wat God jou gee is genade en regverdigmaking deur geloof. God skuld ons niks. Dit is alleenlik geloof deur Jesus Christus wat tot ons redding lei. Dawid het hierdie konsep verstaan en hy skryf dat hulle wie se sonde vergewe is, welgeluksalig is en hulle sonde nie meer toegereken word nie. Sien Psalm 32:1-2.

Die vraag is nou of hierdie belofte van toepassing is op die besnedenes (die Jode) of die onbesnedenes (die heidene). Ons dink maklik aan Abraham as ‘n Jood, maar op hierdie stadium was die besnydenis nog nie ingestel nie en daar was nog nie ‘n wet nie. (Vers 10). Abraham het egter die belofte ontvang het toe hy nog onbesnede was, en dit beteken dat die belofte ook vir die heidene geld.

Hierdie belofte word onderstreep in Génesis 17:5. Die belofte was dat Abraham ‘n vader van baie nasies sou wees, nie net van die Jode nie. Die probleem was egter dat Abraham en Sara saam op daardie stadium nog nie kinders gehad het nie. Sien Génesis 15:5. As jy verse 19 en 20 lees, kan jy dalk bietjie humor daarin sien. Kyk ook na Génesis 17:17. Abraham het net gelag toe jy hoor hy gaan ‘n vader van baie nasies word. Hy kyk na sy ouman toestand en dink dit is onmoontlik. Sara het dieselfde gedoen. Sien Génesis 18:12. Lees gerus Génesis 15-18 om die groter prentjie te sien.

Terug na Romeine. Sien vers 16 en verder. Geloof is verbind aan genade. Werke is verbind aan wet. Ons kan nie ons saligheid kry op grond van die wet nie, want die wet hou jou nog steeds verantwoordelik vir alles wat jy verkeerd gedoen het. Genade is egter wat jy gekry het (God het dit vir jou gegee) om dit wat jy verkeerd gedoen het (die debiete op jou balansstaat) in krediete te verander.

Omdat Abraham geglo het dat God sou doen wat Hy belowe het, is hy deur sy geloof geregverdig. Abraham was ‘n vriend van God genoem (Jesaja 41:8 en Jakobus 2:23). Sy naam was eers Abram (“vereerde vader”) maar hy en Sara het nie kinders gehad nie, behalwe Ismael, by Hagar. Ismael was egter nie deel van die belofte nie. Abram was alreeds 86 jaar oud toe Ismael gebore is (Génesis 16:16). God het hom egter belowe dat hy die vader van baie nasies sal wees (vers 17). Sy hele lewe lank moes hy leef met die spot dat hy nie ‘n vader was nie. Toe verander God sy naam na Abraham (“vader van baie nasies”, Génesis 17:5) en Sarai (“prinses”) na Sara (“moeder van die nasies”) (Génesis 17:15). Hy was dood in die sin dat hy nie die geslagslyn kon volhou nie, maar nou gee God lewe in Abraham en Sara. Sien die wonder van vers 18. Dink aan die humor waarvan ons vroeër gepraat het. Nou egter, besef Abraham dat God ernstig is. Kyk mooi na die gedeelte “teen hoop op hoop geglo”! Het jy al jou hoop op die spel geplaas wanneer dit nie lyk of daar hoop is nie?

Vers 19 wys vir ons iets belangrik. Abraham het God geglo, maar hy moes nog steeds sy deel doen, al was hy al amper 100 jaar oud. Hier was nie bonatuurlike ingryping in die sin van Maria se swangerskap met Jesus nie. Abraham en Sara moes nog steeds doen wat gedoen moet word om swanger te word. Inteendeel, Abraham se geloof is nog verder versterk (vers 20) as gevolg van die belofte. Hoe sterk is jou geloof as dit lyk of alles teen jou is? Meer nog, tree jy aktief op om te verseker dat God se beloftes in jou lewe realiseer, of sit jy net passief terug? Ons moet leer om in geloof op te tree, nie om in geloof passief te wees nie. Wat God belowe, doen Hy (vers 21), maar ons moet ons samewerking gee. Hierdie belofte was egter nie net op Abraham van toepassing nie, maar op almal wie glo.

Kyk mooi na vers 23. God se beloftes is nie net vir Abraham nie, maar ook vir ons. Abraham is regverdig verklaar sodat ons vandag die voordele daarvan kan geniet. Net soos wat uit Abraham en Sara se verstorwe toestand (vers 19) lewe gekom het, het daar uit my en jou as ongelowiges lewe gekom toe ons tot die geloof gekom het. Abraham se geloof het deur Jesus Christus in my en jou gerealiseer. Sien Romeine 4:23-25. Wat ek en jy moet doen is om ons geloof in Jesus se opstanding uit die dood te plaas. Soos wat daar lewe uit Abraham en Sara gekom het, so het die Lewe gekom toe Jesus uit die dode opgewek is (vers 24).

Die vraag is in watter aspek van Jesus ons ons geloof plaas. Is dit dat Hy die Seun van God is? Dat hy die beste leraar van alle tye was? Dink jy dat dit is omdat hy die Skepper is (Johannes 1:1-5)? Niks hiervan gaan jou red nie, behalwe hierdie gedeelte: “ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” (vers 24-25).

Kom ons kyk mooi hierna: Jy kan alles glo tot net voor die opstanding van Jesus Christus, en dit sal jou nie red nie. Daar is baie mense wie hulleself Christene noem, wie eintlik nie glo dat God sy Seun Jesus Christus uit die dode opgewek het nie. ‘n Goeie voorbeeld is die Rooms Katolieke, en ook elkeen wat ‘n kruis dra met die beeld van Jesus nog steeds daarop. Vir hulle het Hy nooit uit die dood opgestaan nie en is nog steeds aan die kruis. As gevolg daarvan is hulle geloof nutteloos. Die geregtigheid word net toegereken (vers 24) “aan ons wat glo” dat Jesus “ter wille van ons misdade opgewek is ter wille van ons regverdigmaking”. Daar is nie regverdigmaking vir ongelowiges nie, eenvoudig omdat hulle nie glo in die opstanding en lewe van Jesus Christus nie. Sien Handelinge 23:6.

Slotsom

God se plan vir jou lewe is goed uitgewerk en daar is nie foute nie. Die dood én opstanding van Jesus Christus is wat tot jou regverdigmaking lei. Geloof in God dat soos wat Hy Jesus uit die dood opgewek het, Hy ook jou uit die dood van sonde red, is nodig. Hy het dit vir ‘n man van amper 100 jaar gedoen, en hy kan dit ook vir jou doen. Het jy vandag hierdie geloof?


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy