Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 28 Junie 2024

Romeine 12

Terugblik op Romeine 11

Noudat Paulus aan beide die heidene en die Jode die evangelie verduidelik het, eindig hy in hoofstuk 11 met ‘n lofsang. Dit is maklik om sommer net vinnig hierdie gedeelte te lees, Romeine 11:33-36, maar dit fokus op een van die unieke karakter eienskappe van God – sy alwetendheid. Hy weet alles en ken ons vooruit (Job 41:11; Jesaja 40:13; en Jeremia 28:18).

Doktrine en praktiese Christenskap

Romeine 1 tot 11 handel oor doktrine – sonde, straf, regverdigmaking, en heiligmaking. Dit berei ons voor vir die res van die brief. Romeine 12 tot 16 gaan oor die praktiese uitleef van ons geloof en ons optrede teenoor ander. Hoe ek teenoor ander optree wys hoe ek teenoor God optree! Met dit in gedagte, kom ons sien wat Paulus in die volgende hoofstuk aanspreek.

Romeine 12 gee wenke oor die lewe van die Nuwe Testamentiese gelowige en hoe ons optrede moet wees. Eerstens vermaan hy ons. Dit is nie net sommer ‘n aanbeveling nie, maar ‘n oproep om ernstig te fokus op wat volg. Hy verduidelik dat ons ons liggame, dus ons totale self, as ‘n offer moet aanbied. Die liggaam bevat ook die siel en die gees, en dus word die volledige trichotomiese samestelling van die mens hier geïmpliseer. Sien 1 Thessalonicense 5:23 waar hy dit volledig aan die gemeente in Thessalonika verduidelik. Hy noem dat hierdie ons redelike godsdiens is. Die woord “redelike” is geneem van die Grieks, λογικὴν, (logikēn, Afr. logies). Wat hy hier sê is dat ons geloof die logiese gevolg moet wees van ons oortuiging.

Vers 2 is vir my die hoogtepunt van die hoofstuk. Ons moet leer om anders oor die wêreld te dink. Ons moenie op dieselfde manier as wêreldse mense dink en optree nie, maar met die sin van Christus. Sien Filippense 2:5 oor die gesindheid van Jesus. In ons tyd sien ons hoedat dit wat eens verkeerd was, nou as reg gesien word en dit wat reg was, nou verkeerd is. Jesaja het lankal reeds hieroor geskryf. Sien Jesaja 5:20. Ons moet die manier hoe ons oor dinge dink, in lyn kry met die Woord van God.

Wat duidelik in hierdie vers uitstaan, is die drie maniere hoe God se wil vir ons lewens uitgedruk word:

  1. Die goeie wil van God;
  2. Die welgevallige (aanvaarbare) wil van God; en
  3. Die volmaakte (perfekte) wil van God.

Dink ‘n bietjie aan jou eie lewe. Watter een van bogenoemde verduidelikings van God se wil opereer in jou lewe? Dalk is dit nie nommer drie nie, dalk nie eers nommer twee nie, dalk net nommer een. Die slegste een van die drie is nog steeds goed. Al het jy dikwels keuses gemaak wat nie God se welgevallige of volmaakte wil was nie, maar net sy goeie wil wat Hy toegelaat het, was dit nog steeds goed. God is goed, altyd. Sien Psalm 34:8; en 100:5. Wat moet ons doen om God se perfekte wil vir ons lewens te onderskei, bloot op grond van hierdie gedeelte?

  1. Ons moet eerstens ons liggame as ‘n lewende en heilige offer stel. Dit is nie net die seksuele aspek van ons lewens nie, maar alle aspekte. Alles wat ek doen moet heilig wees.
  2. Ons moenie die standaarde van die wêreld nastreef en soos die wêreld optree nie, maar God se standaarde. Die standaarde van die wêreld is nie noodwendig sy aanvaarbare wil nie.
  3. Ons moet ons gemoed (denke, gedagtes, en houding) verander en hoe ons oor dinge dink, veral in die lig van hoe die wêreld dink. Ons moet leer om te dink soos God dink. Dan beweeg ons in die rigting van sy perfekte wil.

‘n Ander aspek in hierdie vers wat baie belangrik is, is die woord “verander”. Die Grieks is μεταμορφοῦσθε (metamorphousthe) en dit beteken ‘n verandering wat nie weer terug verander kan word na wat dit voorheen was nie. Dink aan jou Biologie klas op skool en die lewens siklus van ‘n vlinder – eier, larwe, papie, vlinder – in elke fase word die vorige een ten goede verander en dit kan nie na die vorige stand terugkeer nie, net aangaan na die volgende fase. Die proses word metamorfose genoem. In ons lewens as gelowiges kan ons nie teruggaan na die ou manier van dinge nie. Dit is onmoontlik indien ons in die geloof wandel.

Paulus noem in vers 3 dat ons net dit moet wees wat God ons voor geskape het, niks meer nie en niks minder nie. Die woord “besadig” beteken dat ons redelik na iets sal kyk. Dit is hier waar Paulus sy fokus skuif na hoe ons in die gemeente, as deel van die Kerk, moet optree. Ons besit nie dieselfde vaardighede nie, maar elkeen se unieke vaardighede is krities belangrik om die geheel te laat funksioneer. God werk nie met elkeen van ons op dieselfde manier nie. Indien Hy dit sou doen, was ons nie die indiwidue wat ons tans is nie. Hy noem ‘n paar genadegawes – profesie, bediening, lering, vermaning, gee, voorgang, en barmhartigheid. Daar is meer genadegawes wat hy in ander briewe verduidelik, maar vir ons doeleindes nou is hierdie voldoende. Elkeen van ons moet voordeel kan trek uit die besondere genadegawes soos dit aan sekere indiwidue gegee is.

Vanaf vers 9 gee Paulus raad oor praktiese Christenskap, wat vir almal geld, en hoe ons teenoor mekaar moet optree. Hierdie raad hou aan tot by Romeine 15:13. Ons kan tyd neem deur op elkeen van dit wat hy noem, te fokus, maar ek lig ‘n paar hier uit soos dit in hierdie hoofstuk verskyn. Die Tien Gebooie bestaan uit vyf gebooie wat ons vertikale verhouding met God aandui, en vyf gebooie wat ons horisontale verhouding met andere aandui. Sien jy hoe relevant die wet in die genade dispensasie is? Kom ons kyk hoe vaar ons met elkeen van die onderstaande vereistes:

  • Vers 9: Die liefde teenoor mekaar moet opreg wees. Ons moet dit wat sleg is nie net ignoreer nie, maar dit as walglik sien. Ons moet die goeie doen.
  • Vers 10: Ons moet hartlik (eerlik) teenoor mekaar wees. Het jy vandag jou vir iemand vererg?
  • Vers 11: Ons moet aanhou goed doen. Het ek vandag iets goed vir iemand anders gedoen?
  • Vers 12: Die vers noem dat ons ons moet verbly in die hoop. Sien Titus 2:13. Wat is ons salige hoop?
  • Paulus maan ons om in gebed te volhard. Hy gee hierdie boodskap ook in ander briewe. Sien 1 Thessalonicense 5:17. Bid ons genoeg?
  • Vers 13: Moenie net na jouself kyk nie maar wees gereed om andere te help. Wees gasvry. Wat het ek vandag gedoen om iemand anders te help?
  • Vers 14: Hoe moet ons optree teenoor diegene met wie ons nie oor die weg kom nie?
  • Vers 15: Deel in die wel en weë van andere. Gee ons werklik vir ander om, of is dit net om gesien te word dat ons die “regte ding doen”?
  • Vers 16: Handhaaf eensgesindheid. Moenie altyd probeer om beter as andere te wees nie. Moenie ‘n Mr/Mrs Know All wees nie. Laat jy toe dat iemand anders soms die argument wen?
  • Vers 17: Moenie vergelding soek nie, selfs al is jy reg. Dit is maklik om vergelding te soek as jy reg was, maar wat as jy dalk verkeerd was?
  • Vers 18: Leef in vrede met mekaar. As jy nie met ‘n betrokke persoon oor die weg kom nie, is dit heeltemal reg. Dit is egter nie reg om doelbewus lelik teenoor hulle op te tree nie.
  • Vers 19: Moenie wraak soek nie. In vers 19 haal hy uit Deuteronomium aan. Sien hoofstuk 32:35.
  • Vers 20: Doen goed aan mense ongeag die verhouding wat jy met hulle het. Ons gaan nie altyd van almal hou nie, maar hulle hou jou as sogenaamde Christen dop. Tree as een op.
  • Vers 21: Selfbeheersing is belangrik. Moenie die verkeerde ding doen nie maar staan die gedagte teen deur die goeie te doen.

Opsomming

Of ons Kerk of Israel is, hoofstuk 12 tot 15 is God se riglyne en vereistes vir ons lewens. Ons kan reken dat ons vertikale verhouding met God reg is, maar as dit nie in die horisontale verhouding en ons interaksie met ander mense gesien word nie, beteken die vertikale verhouding niks nie.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy