Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 22 Junie 2024

Romeine 11

Terugblik op Romeine 10

Paulus sluit die hoofstuk af deur Jesaja aan te haal en hy kontrasteer die heidene met die Jode. Eersgenoemde het God nie gesoek nie, en tog het Hy aan hulle verskyn. Dit is net genade. Hy reik daagliks na sy eie volk uit, maar hulle wil nie in sy teenwoordigheid wees nie.

Wat word van Israel?

Paulus weet dat God nie sy volk verstoot het nie omdat hy self deel van die volk is en die Ou Testament geskrifte ken en dié kan aanhaal. Voor sy eie bekering was die Ou Testament sy hoop op saligheid vir sy volk. Dit is nog steeds. In vers 3-4 haal hy uit Konings aan. Sien 1 Konings 19:10-18. Daar sou altyd indiwidue uit Israel wees wie getrou gebly het, en dit is vir diegene wie God getrou bly.

As volk het Israel egter nie gekry wat sy deel was nie. Sien Deuteronómium 29:4; Psalm 69:22-23 en Jesaja 29:10. Hulle sien nie en hoor nie die boodskap nie. Sien verse 7-10. Die gevolg is dat die leemte wat hulle gelaat het, deur andere gevul is. Die staat van ongeloof waarin Israel tans is, het die gaping gelaat vir die heidene om tot bekering te kom (Hand 13:46-51). Wat hulle verloor het, was tot voordeel van andere. Dit is die fokus van dispensasie teologie, die korrekte manier om God se plan aan te toon.

Paulus skets hoedat die heidene voordeel getrek het uit Israel se toestand maar hy is vinnig om die heidene die les te leer dat hulle nie hoogmoedig moet wees nie. Israel is nog steeds God se uitverkore volk en Paulus is nog steeds ‘n Israeliet (vers 1) met ‘n lyn van belangrike voorsate.

Vers 17 en verder skets die verskil tussen Israel en die heidene baie mooi. Ons as heidene is die wilde olyfboom, maar ons kry ons voeding vanaf die wortels van die ware olyfboom. Ons redding is genade; Israel se redding is belofte. As ons as Kerk regtig vandag in God se wil beweeg, sal ons verseker dat ons altyd die Jode in gedagte hou, ongeag hoe hulle oor ons voel. Ons is niks spesiaal nie, en ons moet dit nooit vergeet nie. Selfs diegene uit Israel wie tans vêr buite God se wil leef, kan Hy ook weer inent (vers 23) in hulle oorspronklike stand as nasie. Hy gaan dit ook doen. Sien vers 26.

Nou volg ‘n interessante stukkie teologie, die “volheid van die heidene” waarvan Paulus in vers 25 skryf. Hierdie uitdrukking verwys na die genade dispensasie van die Kerk (2000+ jaar), waartydens enige persoon die geleentheid tot redding kry. Sodra hierdie dispensasie verby is, word Israel gered. Vers 26 noem dat die hele Israel gered gaan word. Ons moet die woord “hele” in konteks verstaan.

  • Lees eers Jesaja 59:20, wat Paulus hier aanhaal. Sion verteenwoordig Jerusalem, en Jakob verteenwoordig Israel.
  • Ek dink jy moet dalk eers die hele boek Sagaría lees. So ‘n bietjie agtergrond oor die boek is dat ons moet onthou dat die boeke van die Ou Testament nie in chronologiese volgorde verskyn nie, en ook nie in volgorde van belangrikheid nie. Sagaría beskryf ‘n volk wie van God af weggedryf het (Sagaría 1:3ev); en agt verskillende gesigte (visies). Hierna volg beloftes van groot seën (Sagaría 8); oordeel oor ander volke en die belofte van die Messias (Sagaría 9); en ‘n profesie wat eers veel later in die evangelies betekenis kry (Sagaría 11:12-13). Hierna volg die skrikwekkende beeld van die verdrukking en Israel se loutering (Sagaría 12-14). Sien hoe die slag van Armageddon wat in Openbaring 19 beskryf word, eintlik geen slag is nie, en geen skoot afgevuur word nie (Sagaría 14:12-13). Laastens word ‘n vinnige beeld gegee van omstandighede in die wêreld nadat Jesus Christus as Messias begin heers (Sagaría 14:14-21).
  • Lees nou Sagaría 13:8-9. Ons moet hierin kan sien dat gedurende die verdrukking, selfs met God se beskerming van die volk, twee-derdes van Israel gaan sterf. Die een-derde wie oorbly, is diegene wie beskerm en gered word. Dit is hulle wie getoets gaan word, en wie die Here uit die hemel sien kom en as die Messias herken. Sien Matthéüs 23:39.
  • Lees laastens Matthéüs 23:39. Eers wanneer die Jesus Christus as die Messias van die volk Israel sigbaar terugkeer (Psalm 118:26; Sagaria 12:10; en Sag 14:3-4) sal hulle Hom aanvaar.

Die doel van die verdrukking is tweeledig:

  • Dit is om Israel te suiwer en voor te berei vir die koms van hulle Messias; en
  • om die ongelowige mensdom wie nie gedurende enige periode tot en met die wegraping die boodskap van verlossing wou aanvaar nie, te wys hoe God se oordeel vir hulle gaan wees.

Die kerk periode wat die verdrukking voorafgaan, is die onbepaalde periode, alreeds meer as 2000 jaar, tussen Daniël se 69e en 70e week, waarvan ons oor ‘n paar weke van nou af gaan leer.

Vir ons wie volgens die evangelie leef, is Israel ons vyande (vers 28 – en ons moet dit in die regte konteks verstaan – hulle is vyande van die evangelie omdat dit hulle skuldig laat voel. Sien Jesaja 53.). Tog is hulle God se bemindes. Hulle mag dalk nou in onguns wees, maar ons as heidene was ook eens in onguns by God. Sy genade was egter groot genoeg om jou en my te red. So red Hy hulle ook.

Paulus eindig met ‘n lofsang waarin hy die alwetendheid van God besing. Niemand kan sy liefde ten volle verstaan nie. Hy haal Jesaja 40:13 aan, daarna Job 41:11, en laastens Jeremia 23:18.

‘n Waterskeiding

Romeine 9 tot 11, en spesifiek hoofstuk 11, is ‘n waterskeiding vir beide die Kerk en Israel as nasie. Die gereformeerde teologiese siening, wie die Kerk as die vervanging van Israel sien, het nou ‘n probleem, want Israel word ‘n paar hoofstukke lank al as ‘n nasie beskryf. Paulus is duidelik daaroor dat die redding van Israel as nasie eers kan plaasvind nadat die Kerk bedeling afgehandel is (vers 25-26). Die Kerk en Israel is dus duidelik twee verskillende identiteite met wie God twee verskillende paaie na saligheid stap. Israel se verharding het egter die weg gebaan vir die heidene om gered te word. Ons moet Israel hiervoor dank.

Opsomming

Ek het op ‘n geleentheid ‘n aanbieding bygewoon van iemand wie blykbaar die boek Romeine baie goed ken. Die fokus was om belangstellendes aan die boek bekend te stel as deel van ‘n eenjaar kursus oor algemene geestelike groei en hoe ons persoonlik ons omgewing moet impakteer. Ek wou graag hoor wat die persoon oor Romeine 9-11 sou sê. Dit was egter duidelik dat die aanbieder ‘n gereformeerde teologie aanhang, en het eenvoudig hierdie drie hoofstukke geïgnoreer. Die aanbieder het Romeine 8:39 aangehaal en direk daarna Romeine 12:1 asof die drie hoofstukke tussenin nie bestaan nie. Dit het verseker ‘n verwronge beeld geskep en baie van die gehoor se vrae onbeantwoord gelaat. Jy kan nie dele van die Bybel weglaat omdat hulle nie in jou verkeerde teologie pas nie.

Ons gaan volgende week na hoofstuk 12 kyk, die lewe van toewyding van die gelowige. Gaan lees dit solank as voorbereiding.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy