Romeine 15 en 16

In Romeine 14 spreek Paulus die verskillende probleme aan wat in die gemeente in Rome aanwesig was. Ons moet onthou dat baie van die aspekte wat in sy sendbriewe aangespreek word, in antwoord is op vrae wat alreeds na sy kant toe gekom het. Romeine 14 handel hoofsaaklik oor die uitgediende tradisies wat beide die Jode en die heidene saam met hulle in die nuwe geloof ingebring het. Aspekte soos wat jy eet of nie eet nie, en watter feesdae jy onderhou of nie onderhou nie, moet nooit die rede vir verdeeldheid in die gemeente wees nie. Alles wat ons doen, moet tot stigting wees.
Hoofstuk 15 neem hierdie gedagte verder. Eerstens moet jy nie dink dat as jy geestelik sterker is as ‘n ander persoon, jy daarin kan roem nie. Inteendeel, jy het eerder ‘n verantwoordelikheid om die swakker een te dra (vers 1). Paulus verwys na Jesus se eie optrede en haal Psalm 69:10 aan om dit te bevestig.
10Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval. – Psalm 69:10
Hy gaan dan verder deur te noem dat alles wat tevore geskryf is – al die Joodse geskrifte – tot ons lering en voordeel geskryf is en ons daaruit moet leer. God se doel is eensgesindheid in die gemeente, nie verdeling wat deur kos, feesdae, en ander rituele veroorsaak word nie. Eensgesindheid beteken dat ons as een liggaam op sal tree en uit een mond spreek. Ons moet mekaar aanneem (aanvaar) soos wat Christus ons aangeneem het. Dit is sy wil vir ons (vers 5). Dink ‘n bietjie hoeveel verdeeldheid daar in vandag se kerk is. Wat kan ek en jy vandag doen om daardie verdeeldheid uit te wis?
Jesus het ‘n dienaar geword van die Wet (besnydenis) sodat God se beloftes bevestig kon word vir Israel, en ook vir die heidene. Daarom kan alle nasies God nou verheerlik. Paulus haal uit die Ou Testament aan deur Samuel aan te haal:
50Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing; – 2 Samuel 22:50
Dit is weer uit Psalm 18:49 geneem. Deuteronómium volg:
43Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk. – Deuteronómium 32:43
Psalm 117:1 word verder aangehaal:
1LOOF die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke! – Psalm 117:1
en daarna Jesaja 11:10. Hy som hierdie gedeelte op deur hulle te herinner dat ons ‘n hoop op die ewige lewe het wat ons as gelowiges bind.
Vanaf vers 14 verplaas Paulus sy fokus vanaf die gemeente se situasie na sy eie en deel met ons die praktiese aspekte van sy bediening. Hy is ‘n dienaar van Jesus Christus en ‘n dienaar van die evangelie sodat die heidene daarby kan baat vind. Alles wat hy doen, is deur Christus aan hom openbaar. Let daarop dat hy nuwe grond wil bewerk. Hy wil nie preek waar die evangelie alreeds verkondig is nie, maar waar niemand nog van Hom gehoor het nie. Hy haal Jesaja 52:15 aan.
In vers 24 verduidelik hy dat hy graag Rome sou wou besoek maar daar was elke keer ‘n probleem. Hy was dus nog nooit in Rome nie. Hy beplan egter om Spanje te besoek en sal dan op sy reis daarheen in Rome ‘n draai maak. Kyk gerus na die kaart van die tyd om te sien hoe hy moontlik sou reis. Daar is baie roetes wat hy kon volg, oor land of see. Was hy ooit werklik in Spanje? Ons het geen aanduiding dat dit die geval was nie, en bes moontlik was dit planne wat nie noodwendig presies gerealiseer het nie. Ons moenie hieruit aflei dat dit ‘n fout was nie – as gelowiges beplan ons baie dinge, selfs dit wat ons in geloof doen, en tog realiseer nie alles nie.
Eerder as om nou Spanje toe te gaan, gaan hy in die ander rigting, terug na Jerusalem. Kyk na hoe die kerk van die eerste eeu opgetree het. Die gemeentes in Macedonië en Acháje het geld ingesamel vir die armes in die gemeente in Jerusalem. Hy sou waarskynlik hierdie geld saam met hom neem. Hy verduidelik dat as hierdie reis klaar is, hy weer terug Rome toe sal gaan oppad na Spanje. Sy fokus was die westelike deel van die Romeinse Ryk, soos wat Christus ons beveel het om die evangelie uit te dra (Matthéüs 28:19-20). Paulus vra voorbidding vir die probleme wat hy in sy bediening ervaar.
Romeine 16
Ons sluit ons studie van Romeine af deur te kyk na die laaste hoofstuk. Die name wat ons hier lees was mense wie Paulus bedank vir hulle aandeel in sy werk. Ons moet onthou dat Paulus nooit in isolasie opgetree het nie. Sy reise was baie goed beplan, waarskynlik met verkenningstogte vooruit ten einde te verseker dat waar hy gekom het, dinge alreeds in plek was. Dit is interessant om te let op hoeveel vrouens deel van sy werk was – Fébé (wie die brief afgelewer het), Priscílla, Maria, Júnias (‘n Jodin), Triféna, Trifósa, Pérsis, die moeder van Rufus, Paulus se eie ma, Julia, en Néreus en sy suster (sy word nie by die naam genoem nie) – hierdie was almal vrouens wie vir die evangelie gewerk het, sonder wie se hulp Paulus nooit die impak sou kon maak wat ons in sy briewe sien nie. Daar is ‘n paar van die name waarvan ons nie seker was of hulle mans of vrouens was nie. Paulus het dikwels na die huise van die mense verwys – die kerk in Rome het uit mense in verskeie huishoudings bestaan.
Paulus verwys ook na mans wie ‘n baie nou band met hom gehad het – Timótheüs, wie sy opvolger sou word, en dan drie ander ouens, Lúcius, Jason, en Sosípater, Jode net soos hy. Dan vind ons hierdie interessante aspek van Paulus se brief: hy het dit nie self geskryf nie. Hy het dikwels van andere gebruik gemaak om die briewe te skryf terwyl hy dit bloot gedikteer het. Tértius staan uit as ‘n baie belangrike persoon in hierdie brief, en hy neem die geleentheid om net so bietjie krediet vir homself te gee. Hy noem ook Gajus, by wie hy tuis was toe die brief geskryf is, in Korinthe.
Paulus noem dat die lesers van die brief versterk sal word deur sy evangelie en die prediking van Jesus, soos wat dit lank voorheen reeds beplan is en daar nooit oor gespreek is tot nou toe nie. Dit is deur die profetiese geskrifte bekend gemaak aan die heidene sodat hulle in gehoorsaamheid tot die geloof sou kom. Dit was God se plan vir ons – vir my en vir jou.
Laastens gee Paulus aan God die eer. Die heerlikheid kom God toe deur Jesus Christus vir alle tye. Dit is inderdaad ‘n gepaste afsluiting vir ‘n allesomvattende brief.
Slotsom
Noudat ons deur hierdie merkwaardige boek gewerk het, en hoofstuk vir hoofstuk saam met Paulus dit beleef het, neem die geleentheid om terug te staan en die genade van God vir die mensdom hierin te sien. Neem nou die tyd en gaan lees die hele brief weer deur. Word versterk deur die boodskap van redding, want ons het gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God, maar ons word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Romeine 3:23.
- Romeine 1
- Romeine 2
- Romeine 3
- Romeine 4
- Romeine 5
- Romeine 6
- Romeine 7
- Romeine 8
- Romeine 9
- Romeine 10
- Romeine 11
- Romeine 12
- Romeine 13
- Romeine 14
- Romeine 15
- Romeine 16