Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 31 Mei 2024

Romeine 9

Waar Paulus in Romeine 5 tot Romeine 8 oor die redding van almal geskryf het, fokus hy nou op sy eie mense, die Jode, en die uitverkore volk, Israel. Eerstens bevestig hy dat dit wat hy nou gaan spreek, die waarheid is en dat die Heilige Gees daarvan ‘n getuie is. Wat bevestig hy? Hy praat van groot droefheid, ‘n innerlike seer, en ‘n onophoudelike smart in sy hart. Hy is hartseer, en dit hou nie op nie. Hy ervaar soveel pyn oor hulle toestand dat hy begeer om eerder self ongelowig te wees as dit sou beteken dat hulle tot redding kom.

In vers vier noem hy dat hulle Israeliete is en outomaties deel van die beloftes van God is, maar hulle mis dit. Nasionaliteit beteken nie noodwendig geloof in God nie. Dit is egter nodig dat hy nou moet kwalifiseer wie Israel eintlik is. Die geslagslyn is baie spesifiek. Alhoewel Abraham twee seuns gehad het, Ismael en Isak, is eersgenoemde nie deel van die nasie Israel nie, omdat die nageslag deur Isak loop. Sien Génesis 21:12. Abraham se twee seuns staan vir twee rigtings in die geskiedenis:

  • Die vlees – Ismael

    Kom ons lees hierdie verhaal mooi. In Génesis 16 sien ons dat Sarai het self besluit dat Abram ‘n seun by haar slavin Hagar moes hê. Die gevolg is die Arabiere wat meesal Moslems sou word en vandag nog ‘n groot kopseer vir die wêreld is. Vanaf die geboorte van Ismael was daar konflik, soos daar vandag nog is. Ismael is nie die beloofde een nie. Hy is bloot vleeslik, die gevolg van ‘n menslike behoefte na ‘n nageslag. Ismael word wel ‘n groot nasie (Génesis 17:20 en 21:13) maar hierdie nasie het nie deel aan die belofte nie. Dit beken egter nie dat hulle nie ook gered kan word nie. Sarai se eie besluit dat haar man ‘n kind by haar slavin moes kry, was beslis nie in God se perfekte wil nie. Dalk moes Abram nie na haar geluister het nie.

  • Die belofte – Isak

    Sien Génesis 17:19; 18:10 en 21:1. Sara het dit nie geglo nie (18:12) maar dit bewys dat ons onvermoë nie God kan beperk nie. Isak is die belofte en deur sy geslag kom die belofte van redding en die Messias.

Romeine 9:8 is dus duidelik – die kinders van die belofte is die nageslag. Die lyn van die belofte kan nie deur elke man se seun gaan nie, net dié op wie God besluit het. Dit is dieselfde met die volgende geslag. Daar was twee broers, Esau en Jakob, maar net een kon deel van die belofte wees, en dit hoef nie noodwendig die oudste een te wees nie. Sien Génesis 25:23 en Maleagi 1:2-3. Ons moet hierdie gedeelte egter in die regte konteks verstaan. Die Here het die nasie Edom gehaat, wat die nageslag van Esau was. Hy het nie Esau as indiwidu gehaat nie. Jakob is Israel en Esau is Edom (Psalm 83:7). God haat Edom as nasie omdat hulle hulle verlustig het in die ballingskap van Israel. Sien Psalm 137.

Ons moet verstaan hoe woorde in die Bybel gebruik word. Die woord “gehaat” soos hierbo gebruik word, was nooit bedoel soos ons dit vandag gebruik nie. Sien Lukas 14:26. Hier word die woord “haat” gebruik, maar dit beteken eerder “keuse”. God het dus nie Esau gehaat nie, maar Esau was nie sy keuse vir die pad na redding en saligheid nie. As jy moet kies tussen twee disse, A en B, en jy kies B, beteken dit nie jy haat A nie. Dit is net dat jy ‘n keuse gemaak het om die een bo die ander te kies. B is dalk nog steeds ‘n goeie dis om te geniet.

Ons kan maklik nou dink dat God onregverdig is. Hy kan egter self besluit hoe Hy wil optree. Sien Eksodus 33:19. God kan enige iemand gebruik om sy doelwitte te bereik. Sien Romeine 9:17 en saam daarmee Eksodus 9:16. Ons moet nie hierdie hoofstuk verkeerd verstaan om te beteken dat God gunstelinge sou hê nie. Hy het nooit ten doel om net sekere mense te red nie, maar om almal te red. Hy red egter diegene wie hulle geloof in Jesus Christus stel. Die werke (vers 32) kan niemand red nie. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van sy regverdigheid:

  • Aan Moses sê Hy dat Hy barmhartig sal wees oor wie hy wil, en Hom ontferm oor wie Hy wil. Beteken dit nie dus dat enige een na Hom toe kan kom nie? Hier is geen uitsluiting nie, eerder volkome insluiting (Romeine 9:15; Eksodus 33:19).
  • Aan Farao sê Hy dat Hy aan hom sy krag getoon het sodat Farao sou glo. Die boodskap van God se genade is dus aan Farao bekend gemaak. Hy het egter nie daarop gereageer nie (Romeine 9:17; Eksodus 9:16).
  • Die voorwerpe van eer en oneer verwys na Israel en die heidene. Sy heerlikheid is beskikbaar vir almal, Jood en heiden (Romeine 9:24).
  • Israel was God se uitverkore volk, maar Hosea maak dit duidelik dat Hy ook die heidene sy volk maak, en hulle bemin (Romeine 9:25; Hosea 1:9-10).
  • Israel was wel God se uitverkore volk, maar hulle moes nog steeds in die geloof leef. Meeste van hulle wou egter nie en dus word net ‘n klein gedeelte gered (Romeine 9:27; Jesaja 10:22-23; 28:22). Was dit nie vir God se genade nie, sou daar van Israel niks oorgebly het nie (Romeine 9:29; Jesaja 1:9).

Die ironie is dat die heidene wie gladnie die wet nagejaag hê nie en eenkant gestaan het, die geregtigheid verkry het, terwyl Israel wat die spel gespeel het, geen prys gekry het nie. Die rede is eenvoudig: Israel het werke nagejaag en selfs as God se uitverkore volk was dit nie genoeg nie. Hulle het nie eers bekeer toe hulle Redder na die wêreld gekom het nie. Kyk na die woorde steen en rots. Jy kan dalk nog in die donker oor ‘n steen (klip) struikel en jou voet stamp, maar ‘n rots is soveel groter. Jy moet dom wees om dit nie raak te sien nie. Israel het nie die Redder raakgesien nie, want hulle wou nie (Romeine 9:32-33; Jesaja 8:14; 28:16).

Vir Israel vandag geld twee aspekte van vers 33: ‘n steen van aanstoot (meeste Jode vandag weier om enige skuld te ervaar vir hulle verwerping van hulle Messias en hulle vind die gedagte onaanvaarbaar) en ‘n rots van struikeling (hulle totale geloofstelsel struikel oor die aspek van Jesus se koms as hulle Messias, wie hulle verwerp het). Die steen wat deur die bouers (Israel) verag is, het ‘n hoeksteen (van die Kerk) geword (Handelinge 4:11).

Die wie egter glo, sal nie beskaam word nie. In hierdie konteks beteken “beskaam” die volgende in Grieks: καταισχυνθήσεται (kataischynthēsetai). Hierdie is sekerlik die langste Griekse woord wat ek al ooit vir julle geleer het. Dit beteken eenvoudig dat die persoon wie in Hom glo, nie teleurgesteld sal wees nie. Die woord word net twee keer gebruik, in Romeine 9:33 en 10:11. Ek sal dus nie eendag teleurgesteld moet uitvind dat my geloof tevergeefs was nie.

Opsomming

Ons sien die hart van Paulus vir sy eie volk in hierdie hoofstuk. Hy was self eens ook ‘n yweraar van die wet wat alles “reg” gedoen het (Filippense 3:5-6). Toe God se genade na sy kant toe gekom het, het hy besef dat dit wat hy nagejaag het, niks werd was nie. Nou wil hy sy eie mense oorreed, maar hulle stel nie belang nie. Hy gaan verder, in hoofstuk 10, om te verduidelik dat Israel ‘n ywer vir God het, maar die kennis van hoe God wil hê hulle Hom moet dien, is nie teenwoordig nie. Hoofstuk 10 bou hierop voort. Gaan lees dit solank as voorbereiding vir die volgende les.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy