Romeine 5

Regverdigmaking
Paulus se briewe het nooit hoofstuk indelings gehad nie, en hoofstuk 5 gaan aan waar hoofstuk 4 eindig, sonder onderbreking. Wat dit wél doen is om nou die waarde van die regverdiging waarvan in die vorige hoofstuk geskryf is, prakties toe te pas. Dit is dat ons nou vrede by God het.
Die wêreld soek vrede, en gaan dit nie kry nie. Die rede is omdat hulle vrede buite God probeer vind. Kyk gerus na 1 Thessalonicense 5:3 – wanneer hulle sê “vrede en veiligheid” oorval verderf hulle en hulle sal nie kan ontvlug nie. Vir die gelowige in Jesus Christus egter, is vrede die eerste gevolg van sy regverdiging (vers 1). Regverdigmaking is die teenoorgestelde van veroordeling en verderf, wat Paulus in Romeine 8 aanspreek. Diegene wie regverdig verklaar is, is vry van enige veroordeling en verderf.
Ons regverdigmaking baan ook vir ons die weg na hoop (vers 2). Wat is die hoop wat ons het? Eenvoudig dit: om die heerlikheid van God te ervaar. Paulus verduidelik dit aan Titus as ons salige hoop (Titus 2:13), wat die verskyning van Jesus Christus insluit.
Ons regverdigmaking gee ook vir ons die vermoë om te oorwin in verdrukking (vers 3). Ons moet verstaan dat net omdat ons God se beskerming het, dit nie beteken dat ons gevrywaar is teen die aanslae van die lewe nie (sien Johannes 16:33). Die verdrukking en aanslae wat ons moet hanteer lei tot lydsaamheid (geduld); die lydsaamheid lei tot beproefdheid (ervaring en karakter); en laasgenoemde lei tot hoop (vir die toekoms). Hierdie hoop word nie minder nie, omdat ons God se liefde deur die werking van die Heilige Gees ervaar (vers 5).
God se beplanning en tydsberekening was perfek. Jesus Christus het op die regte tyd vir ons gesterf (vers 6) toe ons nog sondaars was (vers 8). Die wonder van die dood en opstanding van Jesus Christus is dat Hy dit ervaar het en toegelaat het, nie omdat ons alreeds geregverdig was nie, maar toe ons nog sondaars was. Noudat ons dan geregverdig is, word ons gered van die komende toorn, waarvan Paulus aan Titus skryf (Titus 2:13). Dink so daaraan: as God jou gered het toe jy dit nog nie verdien het nie, hoeveel meer word jy geregverdig noudat jy met Hom versoen is (vers 10 en 11).
Paulus verduidelik volgende die sonde en hoe dit oorkom is. Hy doen dit aan die hand van twee mense, Adam en Jesus. Adam was ‘n tipe van Jesus Christus, en die woord “voorbeeld” (vers 14) is Griekse woord “tupos” (τύπος), waarvan ons die woord “tipe”, Eng “type” kry. Gaan doen gerus ‘n studie van tipes in die Bybel. In elke geval waar iemand ‘n tipe van Christus was, moes Jesus self die perfekte voorbeeld wees, en regstel wat die eerste een verkeerd gedoen het, of nie die standaard ten volle kon bereik nie. Wat Adam geruïneer het, het Jesus reggemaak.
Ons moet verstaan dat die Adam wie God geskape het, bedoel was om vir altyd in die paradys te woon. Dit was nie God se bedoeling dat hy moes sondig nie. God het egter die mens ‘n vrye wil gegee, en Adam en sy nasate het hierdie vrywe wil nog altyd misbruik. Die gevolg was die sondeval.
Die woord “mens” in die Nuwe Testament verwys dikwels na Adam, en dit beteken “klei, rooi” – Adam is uit die grond gevorm. Ons het dieselfde natuur as Adam. Die mens moes met Adam se misdaad saamleef en die gevolge daarvan dra. Jesus Christus het daardie situasie vir ons omgekeer. Net soos in Romeine, verduidelik Paulus se skrywe aan die gemeente in Korinthe dit in meer besonderhede. Die besondere verhouding tussen Adam as die eerste mens en Jesus Christus as die laaste Een kan as volg voorgestel word:
|
Adam |
Jesus Christus |
|---|---|
|
bring sonde in die wêreld in (Génesis 3:6). |
neem sonde uit die wêreld weg (Johannes 1:29). |
|
se sonde bring die dood (Romeine 5:12). |
bring die lewe (Johannes 14:6). |
|
se misdaad het baie laat sterf. |
se genade red baie. |
|
se sonde laat almal in hom sterf (1 Korinthiërs 15:22). |
maak almal lewend deur sy daad van gehoorsaamheid. |
|
het in oneer gesaai (1 Korinthiërs 15:43). |
het opgewek in heerlikheid. |
|
het in swakheid gesaai. |
wek op in krag. |
|
saai ‘n natuurlike liggaam. |
wek ‘n geestelike liggaam op. |
|
is die eerste mens word ‘n lewende siel (1 Korinthiërs 15:45). |
is die laaste Adam en word ‘n lewendmakende Gees. |
|
was die eerste mens en uit die aarde aards. |
is die Here uit die hemel. |
|
se een sonde het die mens veroordeel. |
se genadegawe spreek baie misdade vry. |
|
se een sonde laat die dood heers (Romeine 5:17). |
se een daad van regverdigmaking laat die lewe heers. |
|
se een misdaad bring veroordeling vir alle mense (vers 18). |
se een daad van geregtigheid bring regverdigmaking vir alle mense. |
|
se ongehoorsaamheid maak baie sondaars. |
se gehoorsaamheid maak baie regverdiges. |
|
se misdaad het deur die wet net meer geword (vers 20). |
se genade laat die geregtigheid meer word (vers 21). |
Die mens het van nature ‘n sondige natuur. Dit is hoekom Paulus dit in Romeine 3:23 so duidelik stel. Omdat ons sondig, kan ons nie weer die paradys wat God vir ons bestem het, betree nie. Genadiglik word dit moontlik deur Jesus Christus se werk van verlossing. Hy moes op die toneel kom om diegene wie siek en verlore is, te genees en te red. Jesus bring die sonde van Eden en die Kruis van genesing bymekaar. Die genesing plaas lewe terug in dit wat dood was. Dit is om hierdie rede dat dit kardinaal is dat jou geloof in Jesus Christus nie op sy dood gebaseer is nie, maar op sy opstanding.
Slotsom
Ons het vandag nog steeds dieselfde natuur as Adam, en het dus nog dieselfde nood aan ‘n oplossing. Net soos wat Adam ‘n vrye keuse gehad het, het ons ‘n vrye keuse. Dit is so tragies dat mense alles sal doen om medisyne te bekom wat hulle fisies gesond te maak, en tog nie veel wil doen aan hulle geestelike toestand nie. Dink bietjie aan die maandelikse koste van jou mediese dekking. Jy betaal ‘n groot bedrag, en dikwels eis jy niks vir ‘n betrokke maand nie. Hoe sou jy voel as iemand wie jy dalk nog nooit ontmoet het nie, jou laat weet dat hy van nou af jou maandelikse mediese premie gratis dek?
Die geestelike dekking wat God jou gee, is gratis vir jou, maar dit het geverg dat Iemand die totale prys vir jou moes betaal. Daardie Iemand het dit uit sy eie sak betaal, deur sy eie keuse, sodat jy nie geestelik sterf nie, maar elke dag kan leef met die salige hoop en verwagting van ‘n ewige lewe.
Die deur van die paradys wat vir ons toegemaak is deur die sonde en die keuse van een mens, word weer vir ons oopgemaak deur die lewe, dood, en opstanding van Jesus Christus.
Jy het ‘n keuse, ‘n vrye wil. Kies om reg te kies.
- Romeine 1
- Romeine 2
- Romeine 3
- Romeine 4
- Romeine 5
- Romeine 6
- Romeine 7
- Romeine 8
- Romeine 9
- Romeine 10
- Romeine 11
- Romeine 12
- Romeine 13
- Romeine 14
- Romeine 15
- Romeine 16