Romeine 2

Agtergrond
Ons sien in [ Romeine 1 ] dat daar drie groepe mense is, en almal is sleg:
- Die ongeregtiges (Romeine 1:18-26), diegene wie glad nie in God belangstel nie. Hulle kan egter van God leer deur sy openbaring in die natuur. Hulle het dus geen verskoning nie;
- Die self geregtigdes (Romeine 2:1-16), diegene wie ander blameer sonder om na hulle eie sonde te kyk. Hulle gewete kla hulle egter aan en hulle het ook nie ‘n verskoning nie; en
- Die oormatig geregtiges (Romeine 2:17-29), die Jode, wie reken dat die wet hulle oplossing is. Hulle het geen verskoning nie.
Nie een van hierdie drie groepe is enigsins beter as die ander nie. God se oordeel is duidelik, soos Paulus later sal skryf:
23want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. – Romeine 3:23
Hoofmomente in Hoofstuk 2
- Die tweede groep, die self geregtigdes, blameer almal behalwe hulself. Eerstens oordeel hulle ander (vers 1) maar Paulus verduidelik dat hulle nie onskuldig is nie. Jy wys een vinger na iemand anders toe, maar daar is drie vingers wat na jouself terug wys. Hulle sien nie hulle eie foute nie, en almal is verkeerd behalwe hulle.
- God se oordeel oor hierdie mense is regverdig (vers 2).
- Hierdie mense dink dat deur die blaam te verskuif, hulle nie geoordeel sal word nie. God se oordeel is egter regverdig (vers 3).
- Mense is doelbewus onbewus van God se genade (vers 4) terwyl God gereed is om hulle te red. Hulle moet egter die stap neem en kan kies:
- Volhard en verkry die ewige lewe; of
- Wees ongehoorsaam en verkry verderf (toorn).
- Paulus maak onderskeid tussen twee groepe:
- Die Jood verteenwoordig Israel, en die Jode is diegene deur wie die belofte van redding gekom het.
- Die woord “Griek(e)" word soms gebruik om na heidene te verwys. Die heidene is diegene tot wie die belofte van redding gekom het.
- Let daarop dat die Jood elke keer eerste genoem word. Hulle is immers God se uitverkore volk. Daar is egter geen onderskeid by God nie (vers 11) en Hy is ook nie bevooroordeeld nie. Inteendeel, die Jode, wie van beter moes weet, gaan ‘n groter oordeel ontvang (vers 12).
- Die derde groep, die Jode, is die oormatig geregtigdes, of so gee hulle voor (vers 17-29). Hulle steun op die wet (vers 17) en beroem hulle op God, anders as die eerste twee groepe wie niks met God te doen wil hê nie. Paulus is ietwat sarkasties hier. Hy sê hulle ken die wet; onderskei dinge; is leidsmanne; en is lig. Hy weet goed dat hy self so was, en net so veroordelend, en hy praat dus uit ondervinding.
- Hy slaan hulle met hierdie waarheid: hulle is vinnig om ander tereg te wys, maar hulle eie foute sien hulle nie raak nie (vers 21-23; sien ook Matt 23:13-39). Hy vra retoriese vrae hier. Hy benadruk ‘n aspek wat vir die Jode baie belangrik is, en wat hulle van die heidene onderskei, die besnydenis. Die wet en die besnydenis gaan saam. As jy die een nie het, nie, geld die ander een ook nie (vers 25).
- Paulus stel dit nog erger. As die onbesnedenes die wet onderhou, dan laat dit die besnede Jode sleg lyk (vers 26-27).
- Wat God van ons soek is nie die uiterlike kenmerke nie, maar dit wat in die hart aangaan. Dit wat die liggaam doen, het sy oorsprong in die hart (gees) en die gedagtes (siel). Dít is waar die verandering moet wees.
- Paulus het in twee hoofstukke baie goed daarin geslaag om die twee groeperinge van die kerk in Rome, die Jode en heidene, daarop te laat let dat niks wat hulle gedoen het, hulle enigsins nader aan God bring nie.
- Hierdie is amper die einde van die slegte nuus. In hoofstuk 3 (vers 1-20) gaan Paulus nog voort om die mens op sy sondige toestand te wys, maar dan hom hy by die goeie nuus uit, waarna ons volgende week sal kyk.
Bespreking
- Dink bietjie aan die drie groepe mense na wie Paulus verwys. Watter een was jy voor jou wedergeboorte?
- As jy net een teksvers moes neem wat jy vir iemand kan gee as verteenwoordigend van Romeine 2, wat sal die teks wees? Motiveer.
- Lees Romeine 3 as voorbereiding vir die volgende lesing.
- Romeine 1
- Romeine 2
- Romeine 3
- Romeine 4
- Romeine 5
- Romeine 6
- Romeine 7
- Romeine 8
- Romeine 9
- Romeine 10
- Romeine 11
- Romeine 12
- Romeine 13
- Romeine 14
- Romeine 15
- Romeine 16