Dokumentasie Geplaas op Donderdag, 2 Mei 2024

Romeine 6

Die genade, Vraag 1: Gewoontelike sonde


1Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? – Romeine 6:1

Paulus begin sommer dadelik om ‘n vraag te antwoord wat hy alreeds geweet het sy lesers sal vra, naamlik dat aangesien ons sonde in elk geval deur genade vergewe word, ons dan maar kan nog steeds kan sondig. Romeine 6 bestaan uit twee dele: verse 1-14 en 15:23. Elkeen begin met ‘n vraag en ‘n antwoord oor sonde, en hoe ons dit nie meer kan navolg nie, selfs al leef ons in die genade. Inteendeel, dit is juis omdat ons in die genade is dat sonde nie meer deel van ons lewe moet wees nie. Hoofstukke 1 tot 5 van Romeine verteenwoordig ons sonde toestand en wat God se plan van redding vir ons is. Romeine 6 tot 8 verteenwoordig die uitleef van praktiese Christenskap noudat ons gered is.

Die mens is ‘n trichotomiese samestelling: liggaam, siel, en gees (1 Thessalonicense 5:23). Dit is die liggaam (die vlees) en gees (die Gees in ons) wat in konstante konflik met mekaar is. Die siel (gewete) in die middel neem besluite na die en of na die ander kant toe. Paulus maak dit duidelik dat die ou mens saam met Christus gekruisig is (vers 6). Die nuwe mens staan saam met Christus uit die dood op.

Hoekom sukkel ons dan nog met sonde? Omdat elke keer as ons sondig, ons weer lewe in die ou mens wil blaas. Let hier op vers 6. Ons weet dat die ou mens met Christus gekruisig is, maar dalk is dit dat baie van ons nog nie werklik ten volle aan Jesus Christus oorgegee het nie! Dit is baie belangrik dat ons nie op gevoel sal staatmaak nie. Kennis (weet) en sensasie (gevoel) speel nie saam in een span nie. Dikwels weet ons te min van die Woord, en maak op ons eie wankelende gevoelens staat. Ek hoef nie sonde te toets (gevoel) om te weet dat dit verkeerd is nie.

Indien ons weet (reken, ‘n rekeningkundige term, vers 11) dat ons vir die sonde dood is, dan weet ons dat ons lewend vir Christus is. Ons moet nou ‘n privaat én openbare lewe leef wat God sal verheerlik. Dit is noodsaaklik dat ons nie die ou mens voer nie. Kom ons leer uit ‘n storie. Daar was ‘n man wat gevoel het dat daar twee honde in sy lewe was, wat permanent baklei het, ‘n wit en ‘n swart hond. Watter een het oorwin? Die een wie hy die meeste gevoer het! Vers 12-14 is presies waaroor die wit en swart hond gaan. Wie voer jy die meeste, die ou self, of die nuwe mens?

Paulus som dit as volg op: ons is nie onder die wet nie maar onder die genade. Die wet is ‘n eksterne motiveerder; genade is ‘n interne motiveerder. Die wet word uit vrees gedryf; die genade uit liefde.

Die genade, Vraag 2: Ontydige sonde


15Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! – Romeine 6:15

Die tweede deel van die hoofstuk begin met die tweede vraag in vers 15. Dit wil voorkom asof dit dieselfde is as die eerste vraag. Dit gaan egter veel verder. Die eerste vraag is of ons in die sonde moet bly. Die tweede vraag is of ons sonde sal doen. Dit gaan oor in watter omgewing ons nou leef. Ons is nou onder die genade en nie meer onder die wet nie (vers 15). Hoe ernstig is ons oor die stryd teen ontydige sonde? Wat verhoed ons om beter te word in wat ons doen? Deur minder te sondig. Sien vers 16. Dit gaan weer oor die wit en swart hond en watter een ons die meeste voer. Ons het egter vanuit die duisternis (wet, ongeredde toestand) oorbeweeg na die wonderbare lig (genade, geredde toestand) en daarom kan ons hierin oorwin. Sien 1 Petrus 2:9.

Ons is nou nie meer diensknegte van die sonde nie, maar diensknegte van Jesus Christus. In vers 17 is daar ‘n interessante woord waarvan die werklik betekenis verlore kan gaan as ons nie die oorspronklike taal verstaan nie. Die woord “voorbeeld” (Gr. Τύπον[tupos]; Afr. indruk, patroon, vorm) verwys eintlik na ‘n gietyster waarmee metaal gevorm word, omtrent soos toe jy as kind lood op ‘n gasstofie warm gemaak het, in ‘n vorm gegooi het, en sinkers gemaak het voordat jy gaan visvang. Harde metaal kan slegs gevorm word deur hitte, in die vorm wat die persoon wie dit maak, wil hê.

Ek en jy word in hierdie lewe deur omstandighede om ons in ‘n smeltkroes gesit om ons te vorm na die beeld van Christus. Ons moet word soos gelowiges wie deur hitte gesmelt is en gevorm geword het tot iets wat nuttig is. Dit is wat die Gees vir ons doen, as ons Hom toelaat. Ons kan kies dat die omstandighede ons onderkry en vormloos bly, of ons kan kies om daardeur te groei en gevorm te word.

Noudat ons vrygemaak is van die wet en sonde (vers 18), is ons diensbaar vir die regte saak, geregtigheid. Ons het nie nodig om weer te sondig nie. Ons was slawe van sonde omdat ons in sonde gebore is. Sonde is al wat ons geken het en ons het gedoen wat die meester van sonde van ons gevra het. Noudat ons wedergebore is, het ons ‘n nuwe Meester, en ons doen nou wat hierdie Meester van ons vra. Ons is egter nie net hervorm nie, ons is nuut gemaak (2 Korinthiërs 5:17).

Ons moet onthou dat sonde eers ten volle verwyder word wanneer die liggaam ook nuut gemaak is (1 Korinthiërs 15). Dit is om hierdie rede dat Paulus praat van die swakheid van ons vlees (vers 19). Om egter hiermee te deel, moet ons drie dinge doen:

  1. Eerstens moet ons die nuwe Meester navolg, nie meer die ou een nie. Sien 2 Korinthiërs 7:17. In Christus is ons nuwe mense. Die ou mense bestaan nie meer nie. Alles in ons het nuut geword.
  2. Vervolgens moet ons geestelike momentum kry en behou, en die pad van geloof stap soos God dit vir ons bedoel het. Sodra ons momentum kry, is dit makliker om aan te hou. Goddelike gewoontes, as dit volgehou word, word makliker om uit te leef as ‘n daaglikse aksie.
  3. Laastens moet ons besluit wat ons aan die einde wil hê. Ons kan kies watter pad ons wil stap, maar daar is net twee opsies. Ons kan egter nie die uiteinde kies nie. Die keuse wat ons gemaak het hom een pad te stap, die nou weg of die breë een, bepaal die eindbestemming, wat reeds bepaal is (Matthéüs 7:13-14).

Watter vrug dra ons? Daar is twee: die vrug van ongeloof en die vrug van heiligmaking (vers 21 en 22). Vers 23 verduidelik dit wat ons aan die einde van die dag kan kry, gegrond op die besluit wat ons geneem het. Die loon, die prys of vergoeding vir ‘n lewe van sonde, is die dood. Direk teenoor dit is die genadegawe van God, die ewige lewe saam met Jesus Christus. Jy het ‘n keuse, maar vir slegs een van die twee. Daar is nie ‘n middeweg nie.

Opsomming

Ons word daagliks gekonfronteer met keuses. Ons kan kies om na die wêreld te gaan en sy begeerlikheid uit te leef (1 Johannes 2:15-16), of om na die Woord te gaan en te leef soos wat God dit vir ons bedoel (1 Johannes 2:17). Watter begeerte gee jy die meeste aandag aan? Watter een voer jy die meeste?


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy