Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 11 Mei 2024

Romeine 7

Watter plek het die wet in die lewe van die gelowige?

Paulus gee Romeine 7 se tema alreeds in Romeine 6:14. Die wet was nie ‘n fout van God se kant af nie, maar was krities vir ons geestelike lewe. Ons moet daarop let dat die bepaalde lidwoord “die” in vers 1 (“die wet”) nie in die oorspronklike taal voorkom nie. Wet gaan dus nie net oor die wet van Moses nie, maar ook oor dit wat in die gewete afspeel. Ons weet byvoorbeeld, en nie wet of geloof is nodig hiervoor nie, dat moord sonde is. Sonde is ‘n morele beginsel lank voordat ‘n wet dit as sonde beskryf.

As ons nou in Christus en sy genade leef, is die wet dan sleg? Paulus verduidelik dat die nut van die wet was dat as hy nie die wet geken het nie, sy sonde nie vir hom duidelik sou geword het nie (vers 7). Die wet het hom geleer om sy sonde te ken. In ‘n huwelik, waar die man gesterf het, is die vrou vry van haar kontrak met hom. Op dieselfde wyse, noudat ons die wet afgesterf het, behoort ons aan ‘n nuwe man, Jesus Christus. Ons dien in die Gees (genade) en nie in die letter (wet) nie. Die wet was egter die pad wat ons moes stap om by die geloof uit te kom:

24Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. – Galasiërs 3:24

Terwyl ons onder die wet is, dra ons vrug vir die dood (vers 5). Dit is vrug wat geen waarde het nie. Noudat ons ons vry van die wet is, dien ons God deur die vernuwing van die Gees en nie meer die letter van die wet nie. Ons dra ook nou die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22). Ons het nuut geword, en doen nou dinge op ‘n nuwe manier, nie meer op die ou manier nie. Die vraag is egter of ons God met dieselfde entoesiasme dien as toe ons die sonde gedien het.

Een van Romeine 7 se vraagstukke is of dit wat Paulus verduidelik na hom verwys as ‘n geredde mens of na iemand anders ‘n ongeredde mens. Ons moet onthou dat voordat ons gered is, sonde vir ons normaal was, en daar was nie konflik nie. Ons het eenvoudig in sonde geleef, sonder ‘n alternatief. Noudat ons egter in die geloof leef, staan die konflik duidelik uit. Die gees is wel herstel om te doen wat die Gees vra, maar die vlees wag nog op sy herstel (1 Kor 15) en doen nog steeds die dinge van vlees.

Die probleem met die wet is dat dit ons noop om te sondig. As jy by jou ouers gehoor het, “Moenie...” dan was die begeerte altyd daar om juis te doen wat jy aangesê is om nie te doen nie. Die begeerte lei tot ‘n aksie, en die aksie word ‘n gewoonte. Vers 8 verduidelik dit baie mooi. Sonde gebruik die wet as ‘n basis om tot aksie oor te gaan en die verkeerde ding te doen. As die wet sê “Moenie” dan wil ons juis uitvind hoekom nie. Die wet dui aan waarom ons nodig het om genade te kry eerder as wet.

Die wet is egter ook nodig omdat ek daardeur my tekortkominge raaksien (vers 11). Die wet word beskryf as heilig, regverdig, en goed (vers 12). Dit is nie die wet self wat tot die dood lei nie maar die sonde (vers 13). Die gevalle natuur wil eenvoudig nie aan die regte kant van die streep in die sand bly nie. Soos die menslike natuur is, is ons verkoop onder die sonde (vers 14). Die wet is geestelik en ek is vleeslik, en teenoor die agtergrond van hierdie wet staan my sonde net verder uit.

Die stryd tussen die gees en die vlees

Hier kom die probleem. Hierdie innerlike stryd, soos ons dit in verse 15 tot 20 lees, is ook Paulus se innerlike stryd. Hy sê hy verstaan nie hoekom hy dit doen nie (vers 15a). Dit is vir hom ‘n groot kontras (vers 15b). Hy erken dat sonde ‘n oortreding is teenoor God en sy Woord (vers 16). Hierdie sonde woon in hom, en is dus baie naby aan hom (vers 17). Dit is ook kontrasterendmet sy nuwe stand in Jesus Christus (vers 18). Hy beskryf sonde as euwel (die kwaad, vers 19). Laastens sien hy sonde as ‘n realiteit wat met ons sal wees tot met ons dood (vers 20, die sonde wat in hom woon).

Ons weet baie goed wát ons moet doen – ons het alreeds die kennis om die regte ding te doen – maar ons weet nie hoé om dit te doen nie. Ons het nie in onsself die krag om nie te sondig nie. Doen ons dan die verkeerde ding, regverdig ons dit (vers 16). Hierdie is Paulus se stryd ook, anders sou hy nie in die eerste persoon geskryf het nie. Kyk na sy innerlike stryd soos hy dit in verse 17 tot 23 beskryf. Teoloë bespiegel al jare of hierdie gedeelte na Paulus verwys toe hy ‘n ongelowige was, toe hy dit as ‘n gelowige geskryf het, of dat hy na iemand anders verwys. Baie duidelik skryf hy oor die teenwoordige tyd. Ons as gelowiges sondig dikwels net soveel as ongelowiges. Die sonde gaan jou nie laat staan net omdat jy gered is nie. Jou eie wilskrag is eenvoudig nie voldoende nie.

Die kritiese vraag van hierdie hoofstuk is vers 24:

Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Die antwoord volg onmiddellik in vers 25:

Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!

Paulus is absoluut desperaat in vers 24. Hy is gered, maar beskryf homself as ‘n ellendige mens. Hy soek dringend na ‘n antwoord nie net vir sy eie toestand nie, maar vir die van die hele mensdom. Hy vra wie hom sal verlos en hy weet hy kan dit nie self doen nie, net soos ek en jy dit ook nie kan doen nie. Die hele skrywe van vers 1 tot 24 gaan oor wat die mens kan doen om hom uit sy toestand te red. Jesus word nie eenkeer genoem nie. Ons eie pogings, en sonder Jesus, gaan nie werk nie.

Kom ons kyk na ‘n praktiese realiteit van die tyd waarin Paulus geleef het. Dikwels, indien ‘n persoon iemand anders vermoor het, het hulle die dooie persoon aan die moordenaar vasgemaak. Soos wat die lyk vrot geword het, het dit die lewende persoon geïnfekteer. Sodoende sterf die moordenaar uiteindelik ook. Dit is met hierdie voorbeeld in gedagte dat hy die vraag in vers 24 vra. Dink mooi hieroor. Jou sonde kleef aan jou, en stadig maar seker vergiftig dit jou totdat jy dood is.

Eers in vers 25, wanneer Paulus besef dat die mens niks aan sy toestand kan doen nie, gee hy vir die eerste keer die antwoord wie dit wel kan doen. Jesus sny die verrotte lyk (sonde) van my af as ek Hom vertrou om eienaarskap oor my lewe te neem.

Waaroor gaan my geloof? Is dit gefokus op myself (ek, my, en myself), of op Jesus Christus? In myself gaan ek dit nie maak nie. Ons moet egter ook verstaan, en Paulus verduidelik dit in vers 26, dat net omdat ons in Jesus Christus leef, beteken dit nie dat daar nie sonde gaan wees nie. In hierdie lewe het ek as ‘n gelowige ‘n geestelike aard, maar ek bly nog steeds in ‘n onvolmaakte liggaam. Dit gaan egter nou nie meer oor my wilskrag nie maar oor my geloof om in Jesus Christus die regte ding te doen.

Slotsom

Leer om die aanval van sonde raak te sien voordat dit jou ontspoor. As jy werklik desperaat is oor jou toestand, beweeg nog ‘n bietjie nader aan Jesus.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy